Plant Pathology
Welkom by Universiteit Stellenbosch

Wingerdpatologie

Photo 11.jpg

​​​​​Programleier: Dr Lizel Mostert

Die fitomikologieveld behels die studie van swamsistematiek en -taksonomie van swamplantpatogene.  Hierdie kennis lei tot die korrekte identifikasie van veroorsakende agente van siektes.  Die etiologie van plantsiektes is baie belangrik as die eerste stap om die siekte te verstaan en wat tot 'n beheerstrategie bydra.  Plantsiektes is dikwels kompleks, en word deur 'n verskeidenheid swamtaksa veroorsaak.  Die identifikasie en relevansie van hierdie taksa is baie belangrik.  'n Fokus-area van navorsing sluit die etiologie en epidemiologie van stamsiektes van wingerd, kern- en steenvrugbome in.
Fitomikologie behels ook die ontwikkeling en gebruik van die nuutste molekulêre identifikasie-gereedskap vir swampatogene wat gebruik kan word om skoon plantmateriaal te verseker, en vir vroeë siektevoorspelling.  Die saamstel van betroubare inligting rakende die status van swampatogene binne Suid-Afrika, is baie belangrik.  Dit, tesame met kundigheid in fitomikologie, is van kardinale belang ten einde marktoegang binne die landbou-sektor, asook voedselsekuriteit in Suid-Afrika, te verseker.  Fitosanitêre ondersteuning word op voortdurende basis aan die sagtevrugte-industrie (SPT) verskaf.

Die biologiese beheer van plantsiektes is belangrik ten einde 'n alternatief vir chemiese beheer te verskaf.  Dit stel produsente in staat om fungisiedresidue te beperk, wat 'n belangrike markvereiste word.  Die biologiese beheerprogram fokus op die gebruik van Trichoderma spesies in die beheer van wingerdstamsiektes.  Verskeie aspekte word nagevors om die meganismes betrokke te verstaan, en om toediening te optimaliseer.  Dit sluit formulasie, tyd van toediening, sekondêre metaboliete geproduseer deur Trichoderma isolate, en die gasheer-Trichoderma interaksies in.  Twee isolate wat natuurlik in wingerde voorkom, is in vitro en in vivo getoets, en is in die proses om in 'n produk ontwikkel te word wat as snoeiwondbeskermer gebruik kan word.