Plant Pathology
Welkom by Universiteit Stellenbosch

Fusarium Navorsing


​​Programleier: Prof Altus Viljoen

Plantpatogene wat tot die swamspesie Fusarium behoort, is van groot belang vir volgehoue voedselproduksie in die wêreld.  Hulle is bekend daarvoor om siektes van belangrike stapelvoedselgewasse soos mielies, koring, sorgum, rys en piesangs te veroorsaak, en in sommige gevalle word mikotoksiene geproduseer wat fataal vir mense en diere kan wees.  Baie siektes wat deur Fusarium spp. en hul toksiene veroorsaak word, kan nie behandel word nie, en moet voorkom word.  Die program op Fusarium siektes van landbougewasse fokus dus op die karakterisering en bestuur van Fusarium spp. wat met Fusarium verwelk geassosieer word, en mikotoksienproduksie in stapelvoedselgewasse, spesifiek verwant aan die identifikasie en karakterisering van Fusarium spp. deur die gebruik van konvensionele en molekulêre tegnieke, kwantitatiewe waarneming van Fusarium spp. en hul mikotoksiene, epidemiologie en etiologie van Fusarium spp., veldbestuur van Fusarium siektes en die mikotoksiene wat hulle produseer, biologiese beheer van patogeniese Fusarium isolate, en die verstaan van die interaksie van plante met Fusarium.
Die mees effektiewe manier om skade wat deur Fusarium spp. aan landbougewasse veroorsaak word, te voorkom, is deur die plant van bestande of weerstandbiedende materiaal.  Sulke bestandheid/weerstand hang af van die vermoë van die swam om die plant binne te gaan, te koloniseer en te beskadig, en die vermoë van die plant om skade deur die swam veroorsaak, te voorkom of teen te staan.  Ten einde plantweerstand as 'n manier van siektebestuur te ontgin, word deeglike kennis van Fusarium, sy genetika, patogenisiteit en toksisiteit, onder verskillende omgewingstoestande, vereis.  In hierdie program word die interaksie tussen landbougewasse en Fusarium spp. ondersoek deur vergelykende en funksionele genetika van die Fusarium-plant interaksies, die isolasie en identifikasie van verdedigingsverwante gene in landbougewasse, die identifikasie van virulensiegene in Fusarium, studie oor die evolusionêre biologie en filogenetika van Fusarium, en die onkonvensionele verbetering van plante vir weerstand teen Fusarium spp.  Glashuis- en veld-evaluasie van natuurlike en geïnduseerde weerstand teen Fusarium patogene van landbougewasse word ook in samewerking met die LNR uitgevoer.

(Besoek ons webtuiste oor Fusariumverwelk op piesangs in Afrika by: www.sun.ac.za/banana-fusarium-wilt-Africa)