Undergraduate Bursaries & Loans
Welkom by Universiteit Stellenbosch

Toelae

Die Universiteit Stellenbosch befonds die toelaes wat hier onder uiteengesit word, mits die klasgeld van die betrokke studente gedek word deur beurse of lenings wat toegestaan is.

 

 

Let asseblief op:

  • Alle betalings word aan studente beskikbaar gestel deur IntelliCard, die diensverskaffer wat eenmalige óf maandelikse betalings teen die ontvangers se studentekaarte krediteer.
  • IntelliCard verwittig student van betalings wat nog verwerk word via SMS.
  • Studente moet enige toelaes persoonlik by die Sentrum vir Voorgraadse Beurse en Lenings aanvra nadat hulle die registrasieproses afgehandel het.
  • Ons Navraekantoor sal studente verwys na die besondere beursadministreerder wat hulle befondsing hanteer.
  • Geen toelaes vir etes of handboeke sal vir kontant verruil word nie.
  1. Boektoelae
    • 'n Bedrag van hoogstens R5 000 kan op 'n studentekaart gelaai word vir boekaankope by Maties Copy and Print, Van Schaik, Pimp my Book en Protea Boekwinkel.
    • Protea Boekwinkel en Pimp my Book verkoop tweedehandse boeke, wat goedkoper as nuwe eksemplare is.
  2. Privaat verblyf
    • Fondse vir privaat akkommodasie hang af van die bedrag wat van die student se totale finansiële toelae oorbly nadat toelaes vir onderrig en handboeke afgetrek is.
    • Die maksimum maandelikse toelae is gelykstaande aan die koste van 'n dubbelkamer in 'n Universiteitskoshuis.
  3. Kostoelae
    • 'n Maandelikse kostoelae is beskikbaar vir studente wat privaat woonplek huur. Die bedrag hang af van die bedrag wat van die student se totale finansiële toelae oorbly nadat toelaes vir onderrig, handboeke en verblyf afgetrek is.
    • Die koswinkels wat ons vennote hierin is, is Pick 'n Pay en Checkers.
    • Ons vennote in die Langenhoven Studentesentrum (“die Neelsie") is Tamatie, Buzz Juice and Smoothie Bar, DCM, Hutmakers, Java Junction, My Brew en Mariam's Kitchen.
  4. Reis- en etenstoelae
    • Studente wat by hulle ouers tuisgaan, kan 'n toelae vir maandelikse reiskoste kampus toe eis, of vir 'n ete op kampus, of vir albei.
    • Hierdie toelae word in kontant uitbetaal. Die bedrag hang af van die bedrag wat van die student se totale finansiële toelae oorbly nadat toelaes vir onderrig en handboeke afgetrek is.