Business Management
Welkom by Universiteit Stellenbosch

BCom (Bestuurswetenskappe) met fokusarea Bemarkingsbestuur

​​

Waar pas hierdie program in?

Hierdie 3-jaar-BCom (Bestuurswetenskappe) met fokusarea Bemarkingsbestuur word deur die Departement Ondernemingsbestuur van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe aangebied. Jaar 1 bestaan uit verpligte modules soos Ondernemingsbestuur, Ekonomie, Finansiële Rekeningkunde, Professionele Kommunikasie, en Statistiek en Databestuur. In Jaar 2 en 3 word modules spesifieke tot hierdie fokusarea gedek.

Waarom die behoefte aan hierdie program?

Bemarkingsbestuurders is verantwoordelik vir die bestuur van ‘n maatskappy se algehele bemarkingstrategie en al die produkte en dienste wat dit bied. Dit sluit in die ontwikkeling van nuwe produkte, die bepaal van pryse van produkte en dienste, die toesien dat produkte die geselekteerde markte (deur verspreiding en kleinhandel) bereik, asook alle vorms van bemarkingskommunikasie (insluitend advertensies en promosies). Bemarkingsbestuurders help om handelsmerkbewustheid te skep deur bemarkingsveldtogte, en om klante na die maatskappy te lok en hulle langtermynlojaliteit te behou.

Die BCom in Bestuurswetenskappe met Bemarkingsbestuur as fokusarea rus studente toe met die bemarkingsinsig en -vaardighede om in sektore soos die kleinhandel, vervaardiging, finansiële en openbare dienste, die gasvryheidsbedryf, vinnig-bewegende verbruikersgoedere (Engels = FMCG), en reklame te werk. Die kursus word deurlopend aangepas om tred te hou met die ontwikkeling van nuwe tegnologie en veranderende verbruikersgedrag.

Wat sal jy leer?

Die modules in hierdie fokusarea, wat studente in Jaar 2 en 3 sal volg, dek die volgende:

  • Bemarkingsteorie
  • Verbruikersgedrag
  • Die toepassing van teorie van verskeie aspekte van bemarking, met spesiale klem op kleinhandel, dienste, bemarkingskommunikasie en bemarkingsnavorsing.
  • Die ontwikkeling van ‘n bestuursoriëntasie in bemarkingskwessies.

Voorgraadse vakke wat in Bemarkingsbestuur aangebied word

  • Bemarkingsbestuur 214

    Hierdie inleidende module dek moderne bemarkingsdinamika in ondernemings en die gemeenskap; bemarking en die proses van waardeskepping; klantetevredenheid; strategiese bemarkingsbeplanning; ontleding van die bemarkingsomgewing; bemarkingsinligting en -navorsing; ontleding van verbruikersmarkte en ander tipe markte; meting en voorspelling van aanvraag; marksegmentering en doelmarkkeuse; besluite ten opsigte van produk, prys, kanaal, plek (verspreiding), kommunikasie, direkte bemarking en verkoopspromosie.

  • Reklame en Promosiebestuur 244

    Breedweg handel hierdie module oor bemarkingskommunikasie, met temas soos reklame en die bemarkingsproses; die verbruikersgehoor; portefeuljebeplanning en -navorsing; funksionering van die reklamebedryf; reklamebeplanning en -strategie; reklamemedia; mediabeplanning en -aankope; gedrukte media; kreatiewe reklame; integrasie van bemarkingskommunikasie-elemente.

  • Kleinhandelbestuur 314

    Die primêre fokus van hierdie module is kleinhandelstrategie en die kleinhandel-mengsel. Dit sluit besluite oor vestiging, handelsware, prys, kommunikasie, verbuikersdienste en -inligting, tegnologie en stelsels, en vergunningsooreenkomste in.

  • Dienstebestuur 324

    Dienstebemarking is ‘n spesialisveld in bemarking weens die unieke kenmerke van dienste. Hierdie module verken die aard van dienste en die diensleweringsproses; verskille tussen produk- en diens-evaluerings; ontwikkeling, kommunikasie en lewering van dienste; dienskwaliteit en -meting; die rol van diensverskaffers en die omgewing van dienslewering; implementering van dienstebemarkingstrategieë.

  • Bemarkingsnavorsing 344

    Om verbruikers te verstaan, asook inligting en data, is sentraal tot effektiewe bemarking. Hierdie module stel studente bekend aan die basiese stappe van bemarkingsnavorsing. Dit behels die omskrywing van die bemarkingsprobleem, navorsingsontwerp, ontginnende navorsingsontwerp vir sekondêre data en kwalitatiewe navorsing; opnames en waarnemings as deel van beskrywende navorsing; meting van persepsies; vraelysontwerp; steekproefneming; veldwerk en datavoorbereiding; formulering van hipoteses en basiese dataontledingstegnieke.

  • Strategiese Bemarking 354

    Die volgende word aangespreek: rol en toepassing van bemarking in verskillende instansies en omstandighede; onderneming- en bemarkingstrategie; mededingende bemarkingstrategieë; internasionale bemarkingstrategieë; die bemarkingstelsel; verbruikersmarkte en koopgedrag; institusionele markte en koopgedrag; bemarkingsbeplanningsprosesse; bemarkingskontrole.

Wie behoort aansoek te doen?

  • Diegene wat belangstel in ‘n loopbaan as bemarkings- of reklamebestuurder, handelsmerkbestuurder, of bemarkingsnavorser in die kleinhandel, finansiële dienste, gasvryheid en toerisme, vervaardiging, landbou, en snel-bewegende verbruikersgoedere [Engels: FMCGs]).
  • Diegene wat belangstel in ‘n loopbaan as bemarker in die privaatsektor, opvoeding, openbaredienstesektor en nie-winsgewende organisasies (NRO’s, stigtings en trusts).

Toelatingsvereistes

  • ‘n Gemiddeld van 65% in die Nasionale Senior Sertifikaat
  • ‘n Minimum van 60% in Wiskunde
  • 50% vir Engels en Afrikaans as huistaal OF 60% vir Engels en Afrikaans as tweede taal

Meer besonderhede

  • Programbrosjure: Die brosjure van die Departement Ondernemingsbestuur kan hier afgelaai word. Dit bevat ‘n tabel met al die modules wat in hierdie graad gedek word.
  • Programinligting: Sien al die voorgraadse programme van die Departement Ondernemingsbestuur hier.
  • Sien ook die Kalender van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe hier.
  • Sluitingsdatum vir aansoeke: 30 Junie 2022
  • Kontakpersoon vir navrae oor hierdie program: Morné Daniels by +27 (0)21 808 2392 of mmd@sun.ac.za
  • Waar om aansoek te doen:https://student.sun.ac.za/signup/
​ ​