Business Management
Welkom by Universiteit Stellenbosch

BCom (Bestuurswetenskappe) met fokusarea Entrepreneurskap en Innovasiebestuur

​ ​​

Waar pas hierdie program in?

Die 3-jaar-BCom (Bestuurswetenskappe) met Entrepreneurskap en Innovasiebestuur as fokusarea word deur die Departement Ondernemingsbestuur van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe aangebied. Jaar 1 bestaan uit verpligte modules soos Sakebestuur, Ekonomie, Finansiële Rekeningkunde, Professionele Kommunikasie, en Statistiek en Datawetenskap. Jaar 2 en 3 dek modules wat spesifiek is tot hierdie fokusarea.

Waarom die behoefte aan hierdie program?

Entrepreneurskap behels die vermoë van individue en maatskappye om risiko’s te loop deur innoverende sakeskuiwe te onderneem. Sulke ondernemings kan deur nuwe en verbeterde produkte en dienste ekonomiese groei aandryf, verandering bewerkstellig, en werk en welvaart skep.

Entrepreneurs en innoveerders is wêreldwyd baie gesog. Hulle help om ‘n entrepreneuriese kultuur te skep en prosesse te ontwikkel wat nodig is om om innoverende idees ‘n werklikheid te maak, wat weer aanleiding gee tot organisatoriese groei. Hierdie graad sal jou toerus met die entrepreneuriese denke wat jy nodig het om jou eie onderneming te begin of om jou voor te berei om by ‘n onderneming se innovasiebestuurspan aan te sluit.

Wat sal jy leer?

In Jaar 1 sal jy Ondernemingsbestuur bestudeer as deel van die algemene BCom-leerplan. Die res van die modules in hierdie fokusarea, wat jy in Jaar 2 en Jaar 3 sal volg, dek Ondernemingsbestuur, Inleiding tot Entrepreneurskap, Kleinsakebestuur, Kreatiwiteit- en Innovasiebestuur, Strategiese en Korporatiewe Entrepreneurskap, en Bestuur van Korporatiewe Sosiale Verantwoordelikheid.

  • Ondernemingsbestuur 113 (Jaar 1)

    Prosedures vir die totstandkoming van ‘n nuwe onderneming; ontleding van die sakeomgewing; sake-etiek; mededinger-analise, idee-generering en entrepreneurskap; keuse van ondernemingsvorm; bepaling van gelykbreekpunt; hulpbronne en mense betrokke by die onderneming; algemene bestuur en bestuurshulpmiddele.

  • Inleiding tot Entrepreneurskap 214

    Inleiding tot die wêreld van entrepreneurskap in Suid-Afrika; drywers van entrepreneurskap; inleiding tot die identifisering van geleenthede en die ontwikkeling van idees; ontleding van die entrepreneuriese proses; lewensvatbaarheidsontledings; bou van ‘n nuwe ondernemingspan; assessering van finansiële vermoë en uitvoerbaarheid; etiese en wetlike oorwegings; finansieringsproses; belangrikheid van intellektuele eiendom; belangrikheid van groei; groeistrategieë; koop van ‘n bestaande besigheid.

  • Kleinsakebestuur 244

    Die omvang en aard van kleinsakeontwikkeling in Suid-Afrika; belangrike rol van KMMO’s in die Suid-Afrikaanse ekonomie; bestuur van entrepreneuriese geleenthede; kleinsakebemarkingsbestuur, aankopebestuur, vervaardigingsbestuur en finansiële bestuur; alternatiewe roetes tot entrepreneurskap; finansiering van geleenthede in die markomgewing; bestuur van groei van kleinsake-ondernemings; wetlike vereistes vir kleinsakeondernemings; e-besigheid en die entrepreneur; ontwikkeling van ‘n sakeplan.

  • Kreatiwiteits- en Innovasiebestuur 318

    Die belangrikheid van innovasie en tegnologiese innovasie vir entrepreneurs en bestuurders; bronne van innovasie; kreatiwiteit en organisatoriese kreatiwiteit; omskakeling van kreatiwiteit in innovasie; innovasie-tipes en -patrone; standaarde en dominante ontwerp; tydsberekening van toetrede; innovasiestrategieë; kies en bestuur van innovasieprojekte; nuweprodukontwikkeling, waardevaslegging, intellektuele kapitaal, intellektuele eiendomsreg en die beskerming van innovasie; tegnologiese entrepreneurskap, befondsing en bestuur van innovasie, groen innovasie en innovasiestelsels.

  • Strategiese en Korporatiewe Entrepreneurskap (Intrapreneurskap) 348

    Dryfkragte in die ‘nuwe’ ekonomie wat korporatiewe entrepreneurskap noodsaak; koppelvlak tussen entrepreneurskap en strategiese bestuur; raamwerk vir entrepreneuriese strategie; rol van entrepreneurskap in groot maatskappye; ontleding van verskille tussen entrepreneurskap en intrapreneurskap; faktore wat intrapreneurskap aanhelp en benadeel; raamwerke vir die implementering van korporatiewe entrepreneurskap in maatskappye; entrepreneuriese leierskap; verband tussen korporatiewe entrepreneurskap en prestasie.

  • Bestuur van Korporatiewe Sosiale Verantwoordelikheid 314

    Raamwerke vir die beplanning en evaluering van individue en organisasies se optrede in die konteks van volhoubare en sosiaal-verantwoordelike aktiwiteite. Sleuteltemas sluit inleiding tot sake-etiek en korporatiewe sosiale verantwoordelikheid (KSV) in; strategiese bestuur van verhoudinge met belanghebbendes; vrywillige en regulatoriese invloede op KSV; KSV in ‘n globale konteks; bestuursimplikasies van spesifieke Suid-Afrikaanse KSV-kwessies; strategiese benadering tot die bestuur van sosiaal-verantwoordelike gedrag in organisasies; integrasie van sosiaal-verantwoordelike gedrag in ander bestuursdissiplines soos bemarking, innovasie, finansies en beleggings.

  • Strategiese Bestuur 344

    Strategiesebestuursuitdagings in komplekse omgewings; sakemodelle en -strategieë; strategiese omgewingsontleding; strategiese hulpbronne en vermoëns; strategiese rigtinggewing; strategie-ontwikkeling; kennis, innovasie en kompleksiteitsbestuur; strategie-implementering; prestasiemeting en veranderingsbestuur.

Wie behoort aansoek te doen?

  • Mense wat hul eie besighede wil begin en hul eie werkgeleenthede wil skep
  • Mense wat deel wil word van die entrepreneuriese en/of innovasiespan van ‘n organisasie
  • Bestuurskonsultante
  • Nuweprodukbestuurders
  • Innovasiebestuurders
  • Probleemoplossers wat na sake-oplossings soek

Aansoekvereistes

  • National Senior Certificate average of 65%
  • Mathematics 60% minimum
  • EMS language admission requirements (English and Afrikaans Home Language 50% OR English and Afrikaans Additional Language 60%)

Meer besonderhede

  • Programbrosjure: Die brosjure van die Departement Ondernemingsbestuur kan hier afgelaai word. Dit bevat ‘n tabel met al die modules wat in hierdie graad gedek word.
  • Programinligting: Sien al die voorgraadse programme van die Departement Ondernemingsbestuur hier.
  • Sien ook die Kalender van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe hier.
  • Sluitingsdatum vir aansoeke: 30 Junie 2022
  • Kontakpersoon vir navrae oor hierdie program: Morné Daniels by +27 (0)21 808 2392 of mmd@sun.ac.za
  • Waar om aansoek te doen: https://student.sun.ac.za/signup/

Vir inligting oor die Honneursprogram in Entrepreneurskap en Innovasiebestuur, gaan asb na die Honneursblad of laai die Departement se brosjure hier af.