Business Management
Welkom by Universiteit Stellenbosch

BCom (Bestuurswetenskappe) met fokusarea Beleggingsbestuur

Waar pas hierdie program in?

Die 3-jaar-BCom (Bestuurswetenskappe) met Beleggingsbestuur as fokusarea word deur die Departement Ondernemingsbestuur van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe aangebied. Jaar 1 bestaan uit verpligte modules soos Ondernemingsbestuur, Ekonomie, Finansiële Rekeningkunde, Professionele Kommunikasie, en Statistiek en Datawetenskap. In Jaar 2 en 3 word modules gedek wat spesifiek is tot hierdie fokusarea.

Waarom die behoefte aan hierdie program?

Beleggingsbestuurders, ook bekend as fondsbestuurders en batebestuurders, belê hul kliënte se geld só dat die kliënte se welvaart met die verloop van tyd kan groei. Beleggingsbestuurders vervul ‘n sleutelrol in beleggingsfondse, pensioenfondse en ander ekosisteme vir belegging. Beleggingsbestuursonderemings skep beleggingsportefeuljes vir kliënte en maak nuwe beleggingsgeleenthede toeganklik wat andersins onbeskikbaar sou wees. Om die beste beleggingskeuses te maak, is spesialiskennis van bateklasse, risiko’s en opbrengste, en tydhorisonne nodig.

Dié BCom-graad gee aan diegene wat belangstel in ‘n loopbaan in beleggingsbestuur ‘n stewige grondslag. Die graad berei studente ook voor op die Vlak 1-eksamen vir die internasionale Chartered Financial Analyst®-kwalifikasie (CFA®) *, wat gesog is in die beleggingsbestuursberoep. Die Universiteit Stellenbosch is deel van die CFA Institute University Affiliation Program en inkorporeer die CFA Program Candidate Body of Knowledge (CBOK) in hierdie BCom-program.

Studente wat die BCom-graad met fokusarea Beleggingsbestuur suksesvol voltooi, kan vir honneursstudies oorweeg word. Die leeruitkomste van die Vlak 2- en 3- CFA-eksamens word daarin gedek. Meer inligting oor die CFA-program is beskikbaar by www.cfainstitute.org..

CFA Institute  

Wat sal jy leer?

  • JAAR 1

    • Ondernemingsbestuur 142(6) (Die Beleggingsbesluit 142)

      Die beleggingsiklus; die rol en funksionering van die Johannesburgse Sekuriteitebeurs SA (JSE); beleggingsrisiko’s; faktore wat aandeelpryse beïnvloed; fundamentele en tegniese analise van maatskappye.

    • Ondernemingsbestuur 113(12)
    • Ekonomie 114(12); 144(12)
    • Finansiële Rekeningkunde 188(24)
    • Professionele Kommunikasie 144(6)
    • Statistiek en Datawetenskap 188(18)
    • Renterekening152(6)

    • Aanbevole keusemodules (24 krediete uit die volgende):

    • Bedryfsielkunde 114(12); 144(12)
    • Inleiding tot Vervoer- en Logistieke Stelsels 144(12)
    • Politieke Wetenskap 114(12); 144(12)
    • Filosofie (114(12); 144(12)
    • Openbare en Ontwikkelingsbestuur 114(12); 144(12)
    • Sosiologie 114(12); 114(12)

  • JAAR 2

    • Beleggingsbestuur 254 (Inleiding tot Beleggingsteorie 254)

      Portefeuljeteorie en -bestuur; verwantskap tussen risiko en opbrengs; doeltreffende mark-hipotese; waardasie en risiko-eienskappe van vaste rentedraende effekte; beoordeling van aandelebeleggings; eienskappe van afgeleide instrumente; strategieë vir die gebruik van afgeleide instrumente; waardasie van opsies en termynkontrakte; meting en evaluasie van portefeulje-opbrengste.

    • Ekonomie 214(16); 244(16)
    • Finansiële Rekeningkunde 288(32)
    • Finansiële Bestuur 214(16)
    • Statistiek 214(16); 244(16)

  • JAAR 3

    • Beleggingsbestuur 314(12) (Aandele-ontleding en Portefeuljebestuur 314)

      Teorie van waardasie; waardasiemodelle en -tegniese; praktiese implementering van waardasiemodelle; waardasieveranderlikes; aandelemarkontleding; sektorontleding; maatskappyontleding en aandele-seleksie; tegniese ontleding; aandeleportefeulje-bestuurstrategieë.

    • Beleggingsbestuur 324(12) (Vaste Rentedraende Effekte 324)

      Verhandeling van vaste rentedraende effekte; pryssensitiwiteit; vaste rentedraende effekte in gestruktureerde portefeuljes; indeksering; lastebefondsing; kredietrisiko in maatskappy-effekte; kredietrisiko in internasionale staatseffekte; opsies vervat in vaste rentedraende effekte; sekurering; verbandvooruitbetalings; aktiewe portefeuljebestuur; ekonomiese analise en bestuur van vaste rentedraende effekte.

    • Beleggingsbestuur 344(12) (Afgeleide Finansiële Instrumente en Alternatiewe Beleggings 344)

      Blootstelling aan en hantering van finansiële risiko; risikobestuursproses, verskansingskonsep; funksies van die tesourie en bestuur van verhandelbare waarde; eienskappe van afgeleide finansiële instrumente; strategieë vir die gebruik van afgeleide finansiële instrumente; waardasie van opsies en termynkontrakte; basiese arbitrasiestrategieë met opsies en termynkontrakte; ruiltransaksies en vooruitkoers-ooreenkomste; alternatiewe beleggings.

    • Beleggingsbestuur 348(12) (Eiendomsbelegging en Finansiering 348)

      Inleiding tot die aard en omvang van vaste eiendom; eiendomsmarkte en -tendense; regsaspekte; finansiële en beleggingsanalise ten opsigte van die verkryging, besit en verkoop van vaste eiendom; rol en impak van kapitaalwinsbelasting; markwaardasiemetodes; verskillende soorte vaste-eiendomsbeleggings en finansieringsinstrumente in die eiendomsmark.

    • Beleggingsbestuur 354(12) (Portefeuljebestuur 354)

      Hierdie module fokus op twee oorhoofse temas. In die eerste word aandag gegee aan die begrip vir en toepassing van die Etiese Kode en Reëls vir Professionele Optrede van die CFA Institute, ‘n bespreking van markdoeltreffendheid, en die toepassing van gedragsfinansies in beleggingsbesluite en in die beleggingspraktyk. In die tweede deel word gefokus op praktiese oorwegings van portefeuljebestuur (bate-allokasie, belegging in minder konvensionele bateklasse soos ontluikende markte en alternatiewe beleggings, en metodes om opbrengste te beoordeel), en die Suid-Afrikaanse portefeuljebestuurskonteks (produksamestelling, bateklasse, en risiko-en-opbrengs-dinamika).


    • Aanbevole keusevakke (60 krediete; al 60 moet van ‘n enkele module kom):

    • Ekonomie 318(24); 348(24)
    • Finansiële Bestuur 314(12); 332(12); 352(12); 354(12)
    • Finansiële Beplanning 314(24); 344(24)
    • Statistiek 318(24); 348(24)

Wie behoort aansoek te doen?

  • Diegene wat belangstel in ‘n loopbaan as ‘n beleggingsbestuurder, beleggingsontleder, aandelemakelaar, portefeuljebestuurder of batebestuurder by ‘n beleggingsbestuursmaatskappy, ‘n groot maatskappy, trust of stigting behoort aansoek te doen.

Toelatingsvereistes

  • ‘n Gemiddeld van 65% vir die Nasionale Senior Sertifikaat
  • ‘n Minimum van 60% vir Wiskunde
  • Taaltoelatingsvereistes: 50% vir Engels of Afrikaans as moedertaal, OF 60% vir Engels en Afrikaans as addisionele taal)

Meer besonderhede

  • Programbrosjure: Die brosjure van die Departement Ondernemingsbestuur kan hier afgelaai word. Dit bevat ‘n tabel met al die modules wat in hierdie graad gedek word.
  • Programinligting: Sien al die voorgraadse programme van die Departement Ondernemingsbestuur hier.
  • Sien ook die Kalender van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe hier.
  • Sluitingsdatum vir aansoeke: 30 Junie 2022
  • Kontakpersoon vir navrae oor hierdie program: Morné Daniels by +27 (0)21 808 2392 of mmd@sun.ac.za
  • Waar om aansoek te doen: https://student.sun.ac.za/signup/

Chartered Financial Analyst® (CFA®) is ‘n geregistreerde handelsmerk van die CFA Institute.

Vir inligting oor die Honneursprogram Beleggingsbestuur, gaan asb na die Honneursbladsy.