Departement BEDRYFSINGENIEURSWESE
NAVORSINGSGEBIEDE
Die Departement Bedryfsingenieurswese beskik oor die volgende navorsingsgroepe. Nietemin is navorsingsprojekte nie tot hierdie onderwerpe beperk nie. Navorsing kan in die konteks van hetsy die program Bedryfsingenieurswese of Ingenieursbestuur onderneem word.
INGENIEURSBESTUUR
Ingenieursbestuur sluit terreine soos projek-, risiko-, innovasie-, gehalte- en prestasiebestuur sowel as algemene haalbaarheidstudies in:
-
Ondernemingsingenieurswese
Die ontleding van ondernemings (ontwerp, implementeer, bedryf), waaronder kennis- en inligtings-, innovasie-, finansiële en tegnologiebestuur.
-
Volhoubare Stelsels
Die oorgang na ’n meer volhoubare ekonomie en samelewing, waarin die bestuur van infrastruktuur/tegnologie, waaronder die beplanning en ontwerp daarvan, deurslaggewend sal wees.
-
Gesondheidstelselsingenieurswese
Die ontwikkeling van vernuwende, ingenieursgebaseerde oplossings vir die uitdagings van die gesondheidsektor. Die navorsingsgroep konsentreer veral daarop om beter gesondheidsorglewering in die openbare sektor in Afrika suid van die Sahara te fasiliteer.
-
Innovasie vir Inklusiewe Ontwikkeling
Ontleding, ontwikkeling en evaluering van inklusiewe innovasies, inklusiewe innovasiestelsels en innovasieplatforms. Die doel is om te verken hoe innovasie vir inklusiewe ontwikkeling oplossings vir samelewingsprobleme (toegang tot skoon water, gesondheidsorg, finansiële dienste, ensovoorts) kan voorsien. -
Benefisiëring van minerale
Ondersoek hoe mineraalryke lande hulle minerale optimaal kan benut om volhoubare ontwikkeling te verseker.
VERVAARDIGING
Hierdie gebied konsentreer op die ontwikkeling van hulpbrondoeltreffende proseskettings vir volhoubare vervaardiging as ’n waardeskeppende stelsel vir produkte, maar ook vir wyer toepassing in die dienstesektor:
-
Additiewe Vervaardiging
Additiewe vervaardiging gebruik laagtegnologie om produkte van metale, polimere en ander materiale te skep. -
Mikrovervaardiging
TDít behels mikromasjinering (frees- en draaiwerk) en die mikromontering van mikroprodukte waarvoor mikromateriaalhanteringstelsels gebruik word.
BEDRYFSBESTUUR
-
Fisiese Batebestuur
Die stelselmatige en gekoördineerde aktiwiteite en praktyke waardeur ’n organisasie sy bates en verbandhoudende stelsels optimaal en volhoubaar bestuur.
-
Voorsieningskettingbestuur
SVoorsieningsnetwerkontwerp en -prestasiebestuur en algemene haalbaarheidstudies om tot doeltreffende voorsieningskettings by te dra.
-
Opleidingsfabriek
Die Stellenbosch-opleidingsfabriek is ’n klein dog realistiese produksiefasiliteit waar voorgraadse studente (deur middel van ervaringsleer) aan verskeie konsepte van die ontwerp, bestuur en verbetering van produksiestelsels bekend gestel word, en bied boonop ’n fasiliteit vir navorsing oor die “slimfabriek” van die toekoms (in pas met die Vierde Nywerheidsrevolusie-beweging).
-
PRASA Navorsingsleerstoel in Ingenieurswese
TDie PRASA Navorsingsleerstoel in Ingenieurswese onderneem navorsing oor aspekte van instandhoudingsbestuur en -prosesse vir die spoorvervoersektor.
STELSELMODELLERING, BEDRYFSNAVORSING EN BESLUITNEMINGSTEUN
Hierdie gebied handel oor die ontwikkeling van wiskundige modelle en die insluiting daarvan by gerekenariseerde stelsels om wetenskaplik regverdigbare en doeltreffende bedryfsbesluite te ondersteun. Die modelle put uit die terreine van toegepaste wiskunde, statistiek, bedryfsingenieurswese en rekenaarwetenskap en is van toepassing op komplekse probleme waar ’n groot verskeidenheid kompromis-oplossings moontlik is. Die Fakulteit Ingenieurswese het sterk besluitnemingsteunbande met ’n aantal bedryfsvennote in die landbou-, kleinhandel-, bank-, versekerings- en militêre sektore, sowel as met verskeie semistaatsinstellings, nieregeringsorganisasies en organisasies sonder winsoogmerk. Voorbeelde sluit in:
- roetebepaling- en skeduleringsbesluite vir afleweringsvoertuigvlote;
- diensrooster- of skofbesluite vir die vervaardiging- en gesondheidsektore;
- besluite oor die toekenning van rakruimte en voorraad vir kleinhandelaars;
- besluite oor gewasbesproeiing en landbouplaagbeheerstrategieë;
- besluite oor die skedulering van kragopwekkerinstandhouding in die energiesektor;
- besluite oor fasiliteitsligging vir doeltreffende voorsieningskettinglogistiek; en
- die optimale uitleg van fasiliteite of produksieaanlegte.
DATAWETENSKAP EN MASJIENLEER
In hierdie program ontwikkel studente innoverende optimaliserings- en masjienleertegnieke om vernuwende, doeltreffende en robuuste datawetenskaptegnologieë te lewer wat in bedryfsingenieurswese-, ingenieursbestuurs- en ander toepassings gebruik kan word. Voorbeelde sluit in voorspelling, kliëntsegmentasie en toegespitste bemarking, produksiegehaltebeheer, voorspelling van voorsieningskettingprestasie, en prosesmonitering.
LOGISTIEK EN VOORSIENINGKETTINGSTELSELS
Die logistiek- en voorsieningskettingstelselprogram fokus daarop om studente in staat te stel om toekomsgerigte strategieë te ontwikkel om die globale mededingendheid van voorsieningskettings te verbeter, beduidende bydraes tot logistieke raamwerke te maak en te verseker dat hierdie stelsels veerkragtig en toekomsgereed is. Meer inligting kan via hierdie brosjure verkry word.
NAGRAADSE KWALIFIKASIES
NAGRAADSE DIPLOMAS
MAGISTERGRADE
- Magister in die Ingenieurswese (MIng) (Gestruktureerd) in Bedryfsingenieurswese
(Fokus: Datawetenskap) -
Magister in die Ingenieurswese (MIng) (Gestruktureerd) in Ingenieursbestuur
Magister in die Ingenieurswese (MIng) (Navorsing) in Bedryfsingenieurswese -
Magister in die Ingenieurswese (MIng) (Navorsing) in Ingenieursbestuur
DOKTORALEGRADE
- PhD (Bedryfsingenieurswese)
-
PhD (Ingenieursbestuur)