pgstudies
Welkom by Universiteit Stellenbosch

​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​Departement ELEKTRIESE EN ELEKTRONIESE INGENIEURSWESE​

NAVORSINGSGEBIEDE

Die Departement Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese het vier hoofnavorsingsgebiede wat deur navorsingsgroepe bestudeer word.​

​​Rekenaar- en Beheerstelsels

Hierdie groep spesialiseer in beheer, outomatisering en stelsel-identifisering vir ’n verskeidenheid platforms, waaronder onderwatervoertuie, onbemande vliegtoestelle (UAV’s), lugskepe en satelliete. Die groep se navorsingsaktiwiteite vind plaas in ​die Elektroniese Stelselslaboratorium (ESL), waar Suid-Afrika se eerste satelliet, SUNSAT, ook die lig gesien het. Intydse rekenaartoepassings en FPGA-gebaseerde argitektuur word oor die algemeen gebruik. Ander navorsingsonderwerpe sluit in biomediese elektronika en prosesbeheer.

Elektriese Energiestelsels

Die navorsing handel oor elektriese energie-omsetting en -beheer in hernubare-energie- en kragstelsels. Internasionaal erkende navorsing word onderneem oor onder andere multivlak- elektroniese omsetters, permanente magnetiese elektriese masjiene, hoëspanning-isolators, kragstelseldinamiek en parameterskatting, met toepassings in byvoorbeeld wind- en golfenergie, Stirling-vrysuierenjins, elektriese voertuie en energiedoeltreffendheid.

Elektronika en elektromagnetika

​Navorsing op hierdie gebied handel oor hoëfrekwensietoepassings in kommunikasiestelsels en RADAR, en sluit in aktiwiteite met antennas, supergeleiertoestelle, elektromagnetiese interferensie, filters en nielineêre stroombane. ’n Nabyveld-antennalaboratorium wat met gepaste instrumentasie en sagteware ondersteun word, bied die infrastruktuur vir werk op die terreine van berekeningselektromagnetika en antennas, en geniet wyd erkenning. Verskeie lede van die groep is aktief betrokke by die ontwerp en bou van die antenna, toevoerstruktuur en beleid oor die beperking van RF-interferensie vir die gedeelte van die Square Kilometer Array- (SKA-)radioteleskoop wat onlangs aan Suid-Afrika toegestaan is. Die SKA-span is die grootste akademiese RF- en mikrogolfspan in die land.​

Seinverwerking en Masjienleer

Die seinverwerkingsgroep ondersoek patroonherkenningstegnieke wat onder andere op die outomatiese verwerking van menslike taal en die ontwikkeling van digitale radar- en uitsaaistelsels toegepas kan word. Die klem val op die toepassing van statistiese besluitneming op die verwerking van sensor-inligting en die outomatiese vertolking van werklike data. Die groep maak hoofsaaklik gebruik van Linus-gebaseerde rekenaarnetwerke vir die ontwikkeling van sagteware en die ontwerp van seinverwerkingshardeware.​

​​​​​​​

NAGRAADSE KWALIFIKASIES
​​ MAGISTERGRADE
Aansoekproses