School of Accountancy
Welkom by Universiteit Stellenbosch

DIE BREK-PROGRAM (voorgraads)


Doelstelling

Die BRekeningkunde (of BRek)-program is primêr gerig op die onderrig van studente wat van voorneme is om as geoktrooieerde rekenmeesters te kwalifiseer. Toelating tot die eerste professionele eksamen (bekend as die ATB (sien afdeling hierbo) word verkry deur persone wat in besit is van 'n BRek-graad (of soortgelyke kwalifikasie) én 'n HonsBRek-graad.

Die breë doelstellings met die BRek-program is die volgende:

  • Om die inhoud van die opvoedkundige gedeelte (universiteitsopleiding) van die SAIGR se Competency Framework vir die geoktrooieerde rekenmeestersberoep, bykans volledig te dek. 
  • Om die studiemateriaal só aan te bied dat onafhanklike en konstruktief-kritiese denke by studente aangewakker word, asook om die beginsel van lewenslange leer te vestig.
  • Om by studente vanaf die eerste jaargang die deugde van integriteit, 'n verantwoordelikheidsin, 'n positiewe gesindheid en vele ander professionele eienskappe en vaardighede, wat noodsaaklik is vir 'n latere professionele loopbaan, in te skerp.

     

Toelatingsvereistes

Volg hierdie skakel na die EBW Jaarboek 2023.

Studente wat nie Rekeningkunde as vak op matrikulasievlak aangebied en geslaag het nie, soos in die toelatingsvereistes gestel, maar andersins aan die toelatingsvereistes met betrekking tot Wiskunde voldoen en 'n Matriekgemiddeld van minstens 70% behaal het, word tot die BRek-graadkursus toegelaat op voorwaarde dat: 

• Finansiële Rekeningkunde 188 saam met die beginnersgroep gevolg en aan die einde van die eerste jaar geslaag word (in die plek van Finansiële Rekeningkunde 178); en 

• die nodige aanvullende studiemateriaal ten einde na Finansiële Rekeningkunde 178 om te skakel aan die einde van die eerste jaargang by die Skool vir Rekeningkunde bekom word vir bestudering gedurende die Desember-vakansie; en 

• 'n omskakelingseksamen gedurende die week voor die amptelike aanvang van klasse in die daaropvolgende jaar afgelê en geslaag word.

Studente wat aan bogenoemde voorwaardes voldoen, registreer vir Finansiële Rekeningkunde 278 in hul tweede jaargang. 

Studente wat nie in terme van die formele toelatingsvereistes of bogenoemde reëling kwalifiseer om vir die BRek-graadkursus te registreer nie, mag wel op meriete aan die einde van hul eerste jaargang na BRek omskakel indien aan al die volgende voorwaardes voldoen word: 

• Die student moet vir die BCom(Finansiële Rekeningkunde)- of BCom(Bestuursrekeningkunde)-graadkursus in die eerste jaargang geregistreer wees. (Studente wat nie by aanvanklike registrasie aan die toelatingsvereistes tot BCom(Finansiële Rekeningkunde) of BCom(Bestuursrekeningkunde) voldoen het nie word onder geen omstandighede toegelaat om hierdie omskakelingsroete te volg nie).

• Al die vakke waarvoor in die eerste jaargang geregistreer is, moet geslaag word. 

• Daar moet aan die einde van die eerste jaargang skriftelik by die Skool vir Rekeningkunde aansoek gedoen word om omskakeling. 

• Die student moet die omskakelingsprosedure na Finansiële Rekeningkunde 178, soos hierbo beskryf, suksesvol voltooi. 

'n Maksimum van 50 studente per jaar word toegelaat om op die bostaande wyse na BRek om te skakel. 

Dit staan verder enige student wat by oorspronklike registrasie as student aan die US voldoen het aan die formele toelatingsvereistes vir BRek soos uiteengesit in Deel 10 van die Jaarboek, maar om welke rede ook al vir 'n ander graadkursus geregistreer het, vry om om te skakel na BRek. Indien Finansiële Rekeningkunde 188 in 'n vorige jaargang as deel van die graadkursus aangebied en geslaag is, kan die student deur die omskakelings-prosedure na Finansiële Rekeningkunde 178, soos hierbo beskryf, suksesvol te voltooi, direkte toelating tot Finansiële Rekeningkunde 278 verkry. Studente in hierdie kategorie word aangeraai om die omskakeling so gou as moontlik met een van die Mede-programleiers:BRek (Prof CJ van Schalkwyk of Prof SPJ von Wielligh) te bespreek.

 

Taal van onderrig

Volg hierdie skakel na die EBW Jaarboek 2023. ​​


Motivering van inhoud

 EBW Jaarboek 2023

Eerste jaargang 

In die eerste jaargang word die breër ekonomiese vakgebiede van Ekonomie, Handelsreg, Ondernemingsbestuur, Renterekening en Statistiek aangespreek. 
Daarbenewens word 'n aanvang gemaak met die professionele vakrigting van Finansiële Rekeningkunde soos vervat in die SAIGR se Competency Framework, asook die ondersteunende vakrigting van Digitale en Leierskapsvernuf, In die aanbieding van Finansiële Rekeningkunde 178 word daar van die veronderstelling uitgegaan dat die student reeds Rekeningkunde op matrikulasievlak aangebied en op 'n bevredigende peil geslaag het. 

Tweede jaargang 

In die tweede jaargang word die bestudering van die Finansiële Rekeningkunde en Digitale en Leierskapsvernuf voortgesit, terwyl met die verdere professionele vakke Bestuursrekeningkunde en Finansiële Bestuur, Belasting en Ouditkunde kennisgemaak word. 
In Handelsreg word veral Maatskappyreg bestudeer. Die leerplan in Handelsreg dien weer as belangrike agtergrond vir die bestudering van Ouditkunde in die derde en nagraadse jaar. Sake-etiek 214 en 242 het ten doel om studente toe te rus om etiese besigheidsbesluite te kan neem en om noodsaaklike navorsings- en skryfvaardighede te bevorder.


Derde jaargang 

In die derde jaargang word die basiese vaardighede van die professionele vakke Belasting, Bestuursrekeningkunde, Finansiële Rekeningkunde en Ouditkunde in so 'n mate aangespreek dat dit as grondslag kan dien vir die noodsaaklike verdieping en integrasie van onderwerpe in die honneursjaar. Die integrasie van dié vakke word ook prakties gedemonstreer in 'n semestermodule in Digitale en Leierskapsvernuf.​​

 

Studente met agterstallige voorgraadse modules 

Studente wat agterstallige modules van enige van die eerste twee jaargange van die BRek-graadkursus het, word aangeraai om hul verdere studieprogram aan die begin van die akademiese jaar met een van die Mede-programleiers: BRek (Prof CJ van Schalkwyk of Prof SPJ von Wielligh) te bespreek ten einde weë te ondersoek om 'n sinvolle verspreiding van uitstaande vakkrediete oor die kortste moontlike oorblywende studietydperk te bewerkstellig. 

Enige goedkeuring wat die Skool vir Rekeningkunde mag verleen vir die inskrywing vir agterstallige modules tesame met vakke uit die daaropvolgende jaargange, hef nie die volgende op nie: 

• Dosente se reg om aan te dring op klasbywoning; en

• Die Universiteitsreël dat die toets- en eksamenrooster nie voorsiening maak vir agterstallige vakkursusse nie.

Vir soverre gelyktydige inskrywing vir modules uit verskillende jaargange toets- en/of eksamenroosterbotsings tot gevolg het as gevolg van modules wat agterstallig is, geld die volgende reëls ten opsigte van vakke deur die Skool vir Rekeningkunde aangebied: 

• Geen spesiale reëlings word getref in die geval van nie-finalejaarstudente nie. |

• In die geval van finalejaarstudente, met ander woorde studente wat in die huidige jaar van registrasie kan gradueer, geld die volgende: 

• Indien eksamenbotsings voorkom, moet die nodige reëlings vroegtydig met die Eksamenkantoor van die Universiteit getref word. 

• Indien toetsbotsings voorkom en die agterstallige vak deur die Skool vir Rekeningkunde aangebied word, of 'n toets van 'n vak deur die Skool aangebied bots met 'n eksamen in 'n ander vak, mag die student vir die agterstallige vak registreer op voorwaarde dat die toets van die vak deur die Skool aangebied in die tyd onmiddellik voorafgaande of onmiddellik volgende op die toets/eksamen van die ander vak wat die botsing tot gevolg het, afgelê word.​​​