Medical Imaging and Clinical Oncology
Welkom by Universiteit Stellenbosch

Mediese Beelding en Kliniese Onkologie


Die departement Mediese Beelding en Kliniese Onkologie is saamgestel uit die afdelings Kerngeneeskunde, Radiodiagnose, Stralingsonkologie, Mediese Fisika en Radiobiologie. Radiologie is hoofsaaklik betrokke by beeldingsondersoeke bv. rekenaartomografie (RT) en magnetiese resonansbeeling (MR); maar is ook betrokke by funksionele beelding bv. funksionele magnetiese resonansie (FMR) en terapeutiese prosedures bv. intervensionele radiologie. Stralingsonkologie is verantwoordelik vir die behandeling van kankers deur bestraling en chemoterapie. Kerngeneeskunde doen ook beeldingsondersoeke, na die toediening van radioaktiewe stowwe. Kerngeneeskunde is ook, hoewel tot 'n mindere mate, betrokke by die behandeling van nie-kwaadaardige toestande soos hipertiroïdisme en sekere kwaadaardige toestande deur middel van die toediening van onverseëlde radioaktiewe verbindings.

Kernfunksies

  • Opleiding, hoofsaaklik van nagraadse studente. Ook betrokke by opleiding van mediese studente gedurende kliniese jare.

  • Navorsing: Al drie afdelings is betrokke by verskeie navorsingsprojekte wat gereeld tot publikasies lei.

  • Beide Kerngeneeskunde en Stralingsonkologie is deur die Internasionale Atoomenergie Agentskap betrokke by die opleiding van genote uit Afrika.

  • Die onlangse installasie van 'n 3T MR sal radiodiagnose tot op die spiespunt van internasionale navorsing bring.

Hoofdienste

Al drie afdelings is betrokke by dienslewering, navorsing en opleiding van studente. Die opleidingsverantwoordelikheid sluit nie net die opleiding van nagraadse en voorgraadse mediese studente van die Universiteit Stellenbosch in nie, maar ook van radiografiestudente deur die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie. Mediese Fisici word in samewerking met die Fakulteit Natuurwetenskappe opgelei. Dienslewering geskied aan binne- en buitepasiënte van Tygerberg Hospitaal. Kerngeneeskunde lewer ook dienste aan pasiënte wat van streeks- en sekondêre hospitale verwys word, terwyl Stralingsonkologie ook betrokke is by die behandeling van pasiënte by iThemba LABS se proton- en neutronterapiefasiliteit.​