Nagraadse Diploma in Ingenieurswese in Meganiese Ingenieurswese (Hernubare en Volhoubare Energie): NG Dip in Ingenieurswese 

Toelatingsvereistes – NG Dip in Ingenieurswese 

Studente wat een van die volgende kwalifikasies het, kan toegelaat word tot die NG Dip in Ingenieursweseprogram: 

1. BSc 

2. B Tech 

Om aanvaar te word in die NG Dip in Ingenieurswese-program moet ʼn student normaalweg sy / haar voorgraadse kwalifikasie in die minimum vereiste aantal jare voltooi het. BSc gegradueerdes moet ʼn gemiddeld van ten minste 60 % behaal in die finale jaar van die BSc-program. B Tech gegradueerdes moet ʼn gemiddeld van ten minste 65 % behaal oor die hele periode, asook ʼn gemiddeld van ten minste 65 % in die finale jaar. 

Goedkeuring is ook onderworpe aan die diskresie van die Departement. 

Die Fakulteitsraad mag, op aanbeveling van die Departementele Voorsitter, toelating verleen aan ʼn voornemende student vir die NG Dip in Ingenieurswese al voldoen die student nie aan die bogenoemde vereistes nie, maar wat wel op ʼn ander manier bewys kan lewer dat hy/sy ʼn gelykstaande vlak van bevoegdheid het.

Omvang – NG Dip in Ingenieurswese 

Met voltydse studie is dit moontlik om die NG Dip in Ingenieurswese in een (1) akademiese jaar te voltooi. Die maksimum toegelate tyd is twee (2) jaar. Die minimum toegelate tyd om die NG Dip in Ingenieurswese deeltyds te voltooi sal afhang van die student se vordering. Die maksimum tyd toegelaat vir deeltydse studie in die program is drie (3) jaar. 

Ter voltooiing van die NG Dip in Ingenieurswese moet ʼn student ag (8) modules voltooi (verwys na die moduleuiteensetting vir opsies): 

Lees hier meer oor die uiteensetting van die program ... 

Besoek asb. die webwerf van die Sentrum vir Hernubare en Volhoubare Energie Studies (Centre for Renewableand Sustainable Energy Studies (CRSES) vir meer inligting oor hierdie program. 

Voornemende studente moet daarop let dat die modules aangebied in die NG Dip in Ingenieurswese elke jaar hersien sal word, in ag genome die vinnig-veranderende konteks van die hernubare en volhoubare energie, en ook die beskikbaarheid van kundiges op die gebied. 

Studente kan by die Nagraadse Toelatingskomitee aansoek doen om erkenning van modules van ander departemente of instellings. Daar sal egter geen erkenning gegee word vir modules wat deel uitmaak van ʼn ander kwalifikasie nie. Die Komitee sal elke module assesseer en oorweeg of die module gelyk is aan ʼn nagraadse module. 

Deeltydse studente moet van kampus af toegang hê tot die internet asook e-pos. Alle studente moet klasse, toetse en eksamens op kampus bywoon.