Navorsingsmeestersgraad in Ingenieurswese Meganies of Megatronies: MIng Navorsing (Meganies) of MIng Navorsing (Megatronies) 

Toelatingsvereistes – MIng Navorsing: 

Studente wat een van die volgende kwalifikasies het, kan toegelaat word tot die MIng Navorsingsprogram: 

1. BIng 

2. HonsBSc 

3. Toepaslike 4-jaar B-graad 

4. NDI 

Om aanvaar te word vir die MIng Navorsingsprogram moet ʼn student normaalweg sy / haar voorgraadse kwalifikasie in die minimum vereiste aantal jare voltooi het met ʼn gemiddeld van ten minste 60 %, uitgewerk oor die hele periode, asook ʼn gemiddeld van ten minste 60 % in die finale jaar. Let egter daarop dat a.g.v. die verskeie graderingskemas wat internasionaal gebruik word, is ʼn punt van 60 % van universiteite anders as Stellenbosch, nie ʼn outomatiese aanduiding van aanvaarding nie. 

Goedkeuring is ook onderworpe aan die diskresie van die Departement. 

In buitengewone omstandighede kan die Fakulteitsraad, op aanbeveling van die Departementele Voorsitter, toelating verleen aan ʼn voornemende student vir die MIng Navorsingsprogram al voldoen die student nie aan die bogenoemde vereistes nie, maar wat wel op ʼn ander manier bewys kan lewer dat hy/sy ʼn gelykstaande vlak van bevoegdheid het. 

Die MIng Navorsingsprogram is normaalweg nie beskikbaar vir deeltydse studente nie. 

Omvang – MIng Navorsing: 

Die MIng Navorsingsprogram is ʼn veeleisende program en neem gewoonlik twee (2) akademiese jare van voltydse studie om te voltooi. Vir die MIng Navorsing (Meganies) of MIng Navorsing (Megatronies) moet ʼn student normaalweg die volgende voltooi:

• vyf (5) aanvullende 800-vlak modules (16 SAQA krediete elk), gevolg deur 

• ʼn navorsingstesis van 1 800 uur in Meganiese of Megatroniese Ingenieurswese. 

Die modules moet ten minste een (1) nagraadse Wiskunde of Toegepaste Wiskunde module, en ten minste twee (2) gevorderde ingenieursmodules (tipies gekies uit Vloeimeganika, Warmteoordrag, Dinamika, Struktuurmeganika, Ontwerp en Beheer) insluit. Die oorblywende modules kan fokus op die tesis-onderwerp. Studente moet hulle modules kies in samewerking met hulle studieleier. Hoogstens een (1) van die 800-vlak modules mag op ʼn self-studie basis gedoen word indien die nodige teorie vir die tesis nie in die beskikbare modules aangebied word nie. 

Studente kan aansoek doen om erkenning van modules van ander departemente en instellings. ʼn Opsomming van die kursus-inhoud, met ʼn duidelike uiteensetting van die vlak en omvang, moet tesame met die aansoek ingedien word vir oorweging. 

Die aard van die tesis moet gesien word as ʼn navorsingswerk. Die tesis sal geëksamineer word deur die studieleier, ʼn interne eksaminator en (ʼn) eksterne eksaminator(s). Kandidate wat in Desember wil gradueer, moet hulle tesisse voor of op ± 10 September inhandig. Die ooreenstemmende datum vir die Maart gradeplegtigheid is ± 20 November (verwys na die M en PhD studiegids onder “Algemene inligting” vir die korrekte datums). 

Tesame met die tesis, moet die kandidaat ook ten minste een (1) navorsingsartikel, gebaseer op hulle navorsing, skryf wat deur die Nagraadse Komitee gekeur sal word of dit geskik is vir aanbieding by ʼn internasionale konferensie. 

Vir meer inligting relevant vir internasionale studente, besoek asb. die webwerf van ons Internasionale Kantoor.