pgstudies
Welkom by Universiteit Stellenbosch

​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​AFDELING REKENAARWETENSKAP​

Rekenaarwetenskap is ’n lewendige en innoverende omgewing, en hoëgehaltenavorsing is ’n topprioriteit. Ál ons senior navorsers het ’n NNS-gradering – trouens, Suid-Afrika se enigste twee A-gegradeerde Rekenaarwetenskapnavorsers is deel van ons personeel – en ons nagraadse studente kom van oor die hele wêreld. Benewens ’n deeglike kennis van die grondbeginsels van Rekenaarwetenskap, het ons nagraadse studente ook voortreflike programmerings- en tegniese vaardighede. Die eerste IBM Sagtewaresentrum van Uitnemendheid in Suid-Afrika is onder meer in die Afdeling geleë. Ons nagraadse kwalifikasie word direk by gesogte internasionale instellings aanvaar en is gesog in die bedryf.​​


​NAVORSINGSGEBIEDE 

OUTOMAATTEORIE, TALE EN TOEPASSINGS

Ons bestudeer probleme met betrekking tot outomate en tale, waaronder hoe om hierdie formalismes uit data te bepaal. Ons pas die teorie toe op praktiese probleme op die gebied van beeldverwerking, diagramvertolking, musiekskepping, soekmetodes vir gereelde uitdrukkings, en vele meer.

PROGRAMTOETSING EN -VERIFIKASIE

Ons onderneem toetsing, programontleding, simboliese uitvoering, probabilistiese simboliese uitvoering, logikagebaseerde tegnieke en modelkontrole vir sowel opeenvolgende as gelyklopende stelsels. Ons help ontwikkel ook die gewilde Java PathFinder-gereedskapstel, sowel as die CSeq- en ESBMC-instrumente wat op die ontleding van gelyklopende en ingebedde sagteware konsentreer.

KUNSMATIGE INTELLIGENSIE

​Ons ondersoek verskeie aspekte van kunsmatige intelligensie, waaronder probabilistiese modellering en masjienleer, soekalgoritmes, evolusionêre berekening, en swermintelligensie. Toepassingsgebiede sluit in rekenaarvisie, natuurliketaalverwerking, robotika, en rekenaarspelers vir verskeie speletjies.

BREËBAND- EN MOBIELE NETWERKE

Ons bestudeer aansporingskemas om samewerking en prestasie in mobiele ad hoc-netwerke te bevorder en te verbeter. Protokolle vir dataversending in voertuiggebaseerde ad hoc-netwerke word ook ondersoek, sowel as die gedrag van die Bitcoin-blokketting, en die winsgewendheid van verskillende oneerlike dataontginningskemas.​

BEREKENING EN SAMELEWINGSIMPAK

Hierdie interdissiplinêre navorsingsgebied kombineer Rekenaarwetenskap op interessante maniere met verskillende ander vakrigtings. Dit gaan oor die verkenning van ’n ekosisteem wat bestaan uit oorvleuelende, iteratiewe fases van gemeenskapsgebaseerde behoeftebepaling, gevolg deur die gesamentlike ontwerp en beplanning, die gesamentlike implementering en produksie, die gesamentlike toetsing, ontleding, monitering en evaluering en, laastens, die gesamentlike oordenking van inligtings- en kommunikasietegnologie- (IKT-)instrumente, in plaaslike tale en op plaaslike kulturele maniere, mét en déúr plaaslike gemeenskappe.​​

NAGRAADSE KWALIFIKASIES​​​

 HONNEURSGRADE ​​​​​​​ ​  MAGISTERGRADE​  DOKTORALEGRADE
Aansoekproses