Animal Sciences
Welkom by Universiteit Stellenbosch

Oor ons

Die Departement Veekundige Wetenskappe van die Universiteit van Stellenbosch, gestig in 1929, is een van die oudste Departemente van sy soort in Suid-Afrika. Die Departement word nasionaal en internasionaal vir sy uitstaande navorsing in die prioriteitsgebiede van dierevoeding, diereteling, geslagsfisiologie en vleiskunde erken. Ons streef daarna om uitnemendheid in voorgraadse Veekundige opleiding te handhaaf. Die Departement werk pro-aktief saam met die onderskeie bedryfsvennote en verwante diereproduksie gemeenskappe om die implementering van ons navorsingsbevindinge, met ʼn "Navorsing tot Praktyk" benadering, te verseker.

 
Voorpunt-navorsing stel ons in staat om Veekundiges op te lei wat betekenisvol en sinvol tot die volhoubare diereproduksie binne bestaande beperkings van dierewelsyn, voedselsekuriteit en aardverwarming, sal bydra. Deur middel van ons voorgraadse en nagraadse programme, sowel as die gemeenskapsinteraksie aktiwiteite, is ons daartoe verbind om volhoubare gebruik van diere en landbou hulpbronne te verseker.

 
Navorsingsaktiwiteite fokus op die verbetering van die doeltreffendheid, winsgewendheid en volhoubaarheid van diereproduksie bedrywe, op ʼn nasionale en internasionale vlak. Nagraadse projekte sluit studies oor verskeie dierspesies, waaronder melk- en vleisbeeste, skape en bokke, varke, pluimvee, volstruise, mariene en varswater akwakultuur spesies, sowel as wild in.

​​