Logistics
Welkom by Universiteit Stellenbosch

Operasionele Navorsing: Voorgraads

​​Operasionele Navorsing (ON) beantwoord vrae soos: Hoe moet ek as fabrieksbestuurder voorraadvlakke in my pakstoor bestuur sodat ek aan onsekere aanvraag kan voldoen sonder om te veel geld aan die opberging van voorraad te bestee? Waar moet ek as stadsbeplanner oorweeg om nuwe fasiliteite (soos skole, poskantore en biblioteke) in 'n dorp te plaas sodat dit vir die meeste mense binne bereikbare afstand is? Hoe kan ek as vloerbestuurder 'n doeltreffende produksieskedule vir 'n fabriek opstel? Hoe kan ek as finansiële beleggingsbestuurder ʼn beleggingsportefeulje opstel wat verwagte opbrengs maksimeer, maar risiko op aanvaarbare vlakke hou? 

Die slagspreuk van ON is "The Science of Better". 'n Operasionele navorser volg 'n wetenskaplike benadering om voorstelle vir die verbetering van werklike probleme soos hierbo genoem te maak, en gebruik tegnieke wat tipies oorvleuel met wiskunde, statistiek en rekenaarwetenskap om beste of optimale oplossings te bereken. ON is 'n kragtige instrument in besluitnemers en bestuurders se hande, want dit stel hul in staat om hoë gehalte besluite te maak wat wetenskaplik verantwoordbaar is.  Sulke besluitneming kom onder andere in fabrieke, besighede, banke, mynbou, die konstruksiebedryf, landbou, ekologie en konsultasie-omgewings voor.


Loopbaangeleenthede

Ons afgestudeerde studente werk onder andere by banke en versekeringsmaatskappye, by aanlegte in die vervaardigingsbedryf (soos fabrieke, saagmeule of depots), by kettingwinkels, by staatsdepartemente of semi-staatsorganisasies (soos die Departement van Waterwese en Bosbou, of die Transnet-filiale), by navorsingsinstansies (soos die WNNR), of as privaat konsultante. Goeie opleiding in operasionele navorsing sal 'n persoon in staat stel om gemaklik as lid van 'n beplanningsgroep in 'n maatskappy of konsulterende onderneming te funksioneer. Dit maak ook loopbaangeleenthede soos bestuursposisies moontlik.

Operasionele Navorsing Brosjure


Raadpleeg asseblief die amptelike Ekonomiese en Bestuurswetenskappe Jaarboek vir meer inligting oor modulekombinasies en vereistes.

​