Afrikaans & Dutch
Welkom by Universiteit Stellenbosch

Nuus en gebeure

​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​facebook. klein.png

Deugde dubbel en dwars erken  

Dr Amanda Lourens is in een week op twee verskillende maniere vir haar akademiese betrokkenheid en haar veelsydige bydrae tot die Departement Afrikaans en Nederlands vereer. Sy is tot senior lektor bevorder (een van slegs 'n handjie vol bevorderings in die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe) en het een van die US se Toekenning vir Uitnemende Onderrig ontvang.

Die aantal dosente wat jaarliks met dié toekenning vereer word is besonder klein en dit beklemtoon die waarde van Amanda se rol in die Departement en die Fakulteit. Sy is in die kategorie ‘Ontluikende Dosent’ vereer vir die manier waarop sy nie net krities oor haar onderrigpraktyk besin nie, maar ook opvoedkundige literatuur benut om professioneel te groei. Sedert 2008 het sy al baie diep spore in die Departement getrap.​ Sy is – in 'n mindere of meerdere mate – by die onderrig van navorsingsmetodologie, redigeerteorie en praktiese redigering, teksanalise, Afrikaanse poësie, feministiese literêre teorie en akademiese skryfwerk betrokke.

Baie geluk aan dr Amanda Lourens met haar welverdiende bevordering en die institusionele erkenning van haar toewyding tot haar vakgebied en haar studente.

​---------------------------------------------------------------------

Screenshot 2021-10-22 112906.png

​Alfred Schaffer by tiende Tuin van digters gehuldig

Dis die naweek die tiende Tuin van digters by die Breytenbach Sentrum in Wellington en personeel en oudstudente van die Departement Afrikaans en Nederlands figureer weer prominent.

Vrydagaand word Alfred Schaffer gehuldig vir die diep spore wat hy al as skrywer, vertaler en mentor in die Afrikaanse en Nederlandse letterkunde getrap het. Danie Marais en prof. Yves T'Sjoen (Universiteit van Gent en Universiteit Stellenbosch) lei “Alfred Schaffer gehuldig: Woorden word woorde".

Saterdagmiddag lees oudstudente Ryan Pedro en Zandra Bezuidenhout as deel van “Nuwe bundels nuwe woorde" van hulle jongste werk voor. Kort daarna is Marius Swart, Alfred Schaffer en Zandra Bezuidenhout in gesprek met Nèlleke de Jager as deel van 'n paneelbespreking oor die vertaling van poësie.

Die aand praat prof. Jerzy Koch (Adam Mickiewicz Universiteit en Universiteit Stellenbosch) met Daniel Hugo oor sy Afrikaanse bundel Pleks van plaas. (Vrydagfeit: prof. Koch is 'n Pool wat vlot Afrikaans praat!)

En om 20:00 Saterdagaand word die Ingrid Jonker-prys aan Ryan Pedro oorhandig vir sy debuut, Pienk ceramic-hondjies. Ronel de Goede, 'n oud-kollega by die Departement en voorsitter van die pryskomitee, neem hier die leiding.

Lus om die hele program te lees? Klik hier!

​---------------------------------------------------------------------

Waarom net een dag gebruik om vertaling te vier?


Donderdag 30 September is Internasionale Vertaaldag. In ʼn taaldepartement wat drie vertaalprogramme (en ʼn hele paar kortkursusse) aanbied, is die vertalers natuurlik regdeur die jaar besig en leef hulle beslis vanjaar se tema – Verenig in Vertaling – uit.

In Maart het ʼn Hart is so groot soos ʼn vuis, Marius Swart se vertaling van PP Fourie se roman The Heart is the Size of a Fist, verskyn. Op Vertaaldag tree vertaler en outeur in gesprek met Peter Bergsma (JM Coetzee se Nederlandse vertaler) as deel van Zuid-Afrikahuis se Boeken uit het Huis-reeks. Die praatjie sal van 16:00 tot 17:00 regstreeks uitgesaai word en kan op YouTube gekyk word.

In April is Alfred Schaffer se Nederlandse vertaling van Ronelda S. Kamfer se Chinatown deur Podium gepubliseer. Alfred en Ronelda het in Mei met Ama van Dantzig oor hulle samewerking gepraat.

En op 15 September het Michiel Heyns die nuwe UJ-prys vir Literêre Vertaling vir Red Dog (2018) ontvang. Dit het oorspronklik in Afrikaans as Buys (2014) verskyn en is, natuurlik, deur Willem Anker geskryf.

Die Departement se viering van Vertaaldag vind in twee fases plaas. In die aanloop tot Vertaaldag het die 2021-honneursklas in vertaling besluit om twee hoofstukke uit prof. Amanda Gouws en Olivia Ezeobi se The Covid Diaries: Women's Experience of the Pandemic in Afrikaans te vertaal. Hulle slyp sodoende nie alleen hulle vertaalvaardighede nie, maar doen ook ervaring op in vertaalprojekbestuur, gehalteversekering en bemarking.

Ná Vertaaldag – elke Woensdagoggend in Oktober – sal ʼn buitengewone dosent ʼn virtuele gaslesing gee oor kwessies wat met vertaling, tolking en redigering verband hou. Kontak gerus vir lfoster@sun.ac.za as jy graag na die lesings deur prof. Luc van Doorslaer, prof. Anthony Pym, dr. Paola Gentile en prof. Myriam Vermeerbergen wil luister.

Besoek ons vertaalblad op Facebook vir die jongste besonderhede oor hierdie vertaalfees!

​----------------------------------------------------------------------

Aanlyn by die ALV

 

Die Departement Afrikaans en Nederlands word vandeesweek goed verteenwoordig by die negentiende hoofkongres van die Afrikaanse Letterkundevereniging (ALV). Daar is huidige en oudstudente, 'n nadoktorale genoot en 'n oud-kollega (prof. Louise Viljoen) wat almal referate lewer. Daar is die buitengewone hoogleraar in Letterkunde, prof. Jerzy Koch, met 'n referaat, en die buitengewone hoogleraar in Nederlandse letterkunde, prof. Yves T'Sjoen, wat 'n hoofrede lewer. En dan is daar uiteraard dr. Amanda Lourens (referaat) en prof. Andries Visagie (hoofrede).

Die kongres sou eers in September 2020 plaasgevind het, toe in Januarie 2021, en nou vind dit uiteindelik van 15 tot 17 September aanlyn plaas (met alle reëlings uit Gqeberha getref deur Nelson Mandela Universiteit se Skool vir Taal, Media en Kommunikasie). Dr. Lourens en prof. Visagie is dit eens dat hulle met die aanlyn formaat die gesprekke met kollegas oor ʼn koppie tee of koffie en tydens etes die meeste sal mis.

Die blootstelling aan nuwe gedagtes en die stemme van opkomende akademici is egter positiewe aspekte van die kongres wat die verlammende invloed van die inperking sal teenwerk. Die jong akademici is “die toekoms van die Afrikaanse literatuurwetenskap", soos prof. Visagie dit stel.

Prof. Visagie se hoofrede handel oor die ontstaan van Jan Rabie se verhaal “Die man met die swaar been" (uit die kortverhaalbundel Een-en-twintig). Hy het op die spoor van drie variante van die verhaal gekom nadat hy in 2019 deur die US-biblioteek uitgenooi is om deur hulle Jan Rabie-versameling te “gaan snuffel met die oog op ʼn bydrae tot die US Woordfees". Hy verken vervolgens “die sosiopolitieke en literêre klimaat waarbinne hierdie hoogs gekanoniseerde verhaal sy ontstaan gehad het" en beskou “die verhaal as een van die vroegste antikoloniale verhale in Afrikaans".

In haar referaat fokus dr. Lourens op Elsa Joubert se Spertyd, spesifiek temas soos verlies, aflegging, losmaak en transendensie. Vir haar is dit glad nie ʼn morbiede onderwerp nie. Dis eerder ʼn politieke kwessie. Sy wil, met behulp van ondersoeke na die literatuur, die samelewing se denke oor ouderdomskwessies – die obsessie met “jeug wat deur middel van verbruikersgoedere bekom moet word", die marginalisasie van ouer vroue – transformeer. Veroudering en die dood moet juis nie “doodgeswyg" word nie, aangesien dit “normale lewensfases" is.

Die kongrestema is “Affekte, begeertes, emosies" en daar gaan beslis nie ʼn tekort aan interessante bydraes wees nie. Kyk gerus na die kongresprogram op LitNet.​

​----------------------------------------------------------------------​

​Dubbele triomf vir dosente

Dr Willem Anker en dr Alfred Schaffer het elkeen die afgelope week ʼn groot literêre prys in ontvangs geneem. Willem se roman Skepsel is op Saterdag 11 September met die kykNET-Rapportprys vir fiksie tydens ʼn virtuele seremonie bekroon (die kort videoseremonie is hier beskikbaar) en Alfred het ʼn paar dae vroeër, op Donderdag 9 September, die Nederlandse PC Hooft-prys in Den Haag in ontvangs geneem.

As deel van die oorhandigingseremonie van die PC Hooft-prys het ʼn aantal bekende digters – Tom Lanoye, Ronelda Kamfer, Ellen Deckwitz, Antjie Krog en Rodaan Al Galidi – uit Alfred en hulle eie werk voorgelees en gedeel wat hulle so besonders aan sy digkuns vind. Kyk gerus hier na die luisterryke geleentheid.

Dit is omtrent ʼn jaar waarin die werk van hierdie twee skrywer-dosente erken word. Benewens die 2021-UJ-prys en die kykNET-Rapportprys, is Skepsel ook vir ʼn ATKV-Woordveertjie benoem: die wenner van die ATKV-prosaprys word op 17 September aangekondig. En op 22 en 23 Oktober is dit die Breytenbach Sentrum se Tuin van Digters in Wellington, waar Alfred gehuldig sal word vir sy bydrae tot die digkuns.​

​----------------------------------------------------------------------​

Dr Lorna Morris woeker met woordeboeke

Niemand kan ontken dat woordeboeke uitermate nuttig is nie, maar daar is party mense wat nie werklik daaroor opgewonde raak nie. Gelukkig vir almal van ons hou dr. Lorna Morris, ʼn Consolidoc by die Departement Afrikaans en Nederlands, nie net van leksikografie as ʼn vakgebied nie. Sy voel ook baie sterk daaroor dat woordeboeke so toeganklik en gebruikersvriendelik moontlik moet wees.

Lorna het haar PhD in Lekikografie in Maart 2021 ontvang (uiteraard met prof. Rufus Gouws as studieleier). Sy sê sy geniet die dissipline se analitiese sy – om te kyk hoe mense woorde gebruik, om die woord se oorsprong te ondersoek en uit te vind watter verbande daar met ander woorde is (insluitende woorde in ander tale).

Haar liefde vir woordspeurwerk het daartoe gelei dat sy op skoolwoordeboeke in Suid-Afrika fokus. Haar doelwit? Om woordeboeke te help skep waaruit mense kan leer omdat hulle toegankliker, bruikbaarder en prettiger is om te raadpleeg. Sy het by die 25ste internasionale kongres van die African Association of Lexicography oftewel Afrilex (wat op 29 en 30 Junie 2021 gehou is)  ʼn referaat oor ʼn elektroniese skoolwoordeboek aangebied.

Haar werk geniet ook internasionale aandag. Hoewel sy nie ʼn referaat gaan aanbied by die 29ste internasionale kongres van die European Association for Lexicography nie (dit vind van 7 tot 9 September plaas en die Demokritus Universiteit van Thracië in Griekeland is die gasheer), is sy een van die ontvangers van die Hornby-prys wat haar in staat stel om die kongres kosteloos by te woon. Heel gepas is Euralex se kongrestema “Lexicography for Inclusion".

Lorna glo dat skoolwoordeboeke ʼn belangrike rol in die onderwys in Suid-Afrika te speel het en kan help om gelyke en waardevolle onderwys aan almal te bied. Sy reken dat gedrukte woordeboeke nog hulle plek in Suid-Afrika het, veral in skole, maar ondersoek ook geskikte toestelle en programmatuur om leerders van woordeboektoegang te voorsien sonder dat hulle aanlyn moet gaan.

Oor ʼn dekade is alle woordeboeke dalk aanlyn as ʼn kombinasie van gratis programmatuur en programme of toepassings waarop mens moet inteken (eersgenoemde met advertensies, laasgenoemde daarsonder). Of hulle kan deel uitmaak van ʼn spesifieke elektroniese toestel (koop die toestel, kry toegang tot die woordeboek). Watter formaat die woordeboeke van die toekoms ook al aanneem, sal Lorna Morris haar deel doen om te verseker dat Suid-Afrikaanse woordeboeke so toeganklik en bruikbaar moontlik bly.

​​--------------------------------------------------------------------



Internas​ionale netwerke laat vertaling gedy

​ʼn Suid-Afrikaner, ʼn Italianer en ʼn Hongaar beland in ʼn Belgiese hawestad. Wat dalk na die begin van ʼn grap vol stereotipes klink was eintlik die begin van verrykende internasionale samewerking in vertaalkunde tussen drie jong akademici.

Marike van der Watt (Universiteit Stellenbosch en KU Leuven), Paola Gentile (Universiteit van Triëst, Universiteit van Namen en navorsingsgenoot aan die US) en Fruzsina Kovács (Pázmány Péter Katolieke Universiteit) het mekaar in 2018 in Antwerpen ontmoet by die KU Leuven se Centre for Translation Studies, oftewel CETRA.

Na hulle CETRA-ontmoeting was hulle in 2019 die sameroepers van ʼn paneel by die European Society for Translation Studies (EST) se negende driejaarlikse kongres (daardie jaar in Stellenbosch gehou). Hulle het daardie suksesvolle samewerking opgevolg met ʼn spesiale uitgawe van die vaktydskrif Translation Spaces.

In hierdie uitgawe word gefokus op wat gebeur as vertaalkunde, resepsiestudie en imagologie saam gebruik word om transnasionale beeldvorming te ondersoek. Met ander woorde, hoe kan ons die drie dissiplines gebruik om te kyk na die manier waarop ons sekere beelde van ander lande, nasionaliteite of groepe vorm of voortsit? Soos hulle dit in die uitgawe se inleiding stel:

“Readers' images of a country are constructed on the basis of texts that are first selected for translation, for example, and the particular ways in which translated books are subsequently promoted and packaged within their specific book covers. Cultural images thus undergo an evolution: they are constantly re-elaborated, re-shaped, re-processed, and filtered through marketing, promotion and reviewing phases."

Gelukkig vir almal wat in die onderwerp belangstel, is die spesiale uitgawe nie die laaste sien van die blikkantien nie. Marike van der Watt is nie net besig met ʼn PhD in Vertaling wat juis op imagologie fokus nie (met prof. Ilse Feinauer, die bekleër van die Ton en Anet Vosloo Leerstoel in Afrikaanse Taalpraktyk, en prof. Luc van Doorslaer van die KU Leuven as studieleiers). Sy is ook betrokke by ʼn transnasionale navorsingsprojek wat deur die Nederlandse Taalunie befonds word en uitgevoer word in samewerking met die Universiteit van Triëst en die KU Leuven: “Binnenlandse vogels, buitenlandse nesten: de hedendaagse Vlaamse literatuur in vertaling en haar relatie tot het Vlaamse letterenbeleid".

---------------------------------------------------------------------


Huldigingsbundel vir prof. Ilse Feinauer

Prof. Ilse Feinauer is nie net self ʼn uitmuntende navorser nie, maar ʼn akademikus wat ander aanspoor en bemagtig om navorsing te doen. Dit kan duidelik gesien word in die spesiale uitgawe van die vaktydskrif Stellenbosch Papers in Linguistics Plus wat onlangs verskyn het. Dié huldigingsbundel het kollegas prof. Harold ​Lesch en mnr. Marius Swart as gasredakteurs en fokus op die wisselwerking tussen taalpraktyk en teorie.

Na ʼn voorwoord deur jarelange kollega prof. Rufus Gouws, wat prof. Feinauer se geweldige bydrae tot ʼn verskeidenheid vakgebiede uiteensit, verskyn daar agt artikels deur verskeie internasionale en Suid-Afrikaanse akademici asook ʼn aantal studente van die Departement Afrikaans en Nederlands.

Die eerste artikel deur prof. Luc van Doorslaer, verbonde aan die Universiteit van Tartu (Estland) en die KU Leuven (België) en buitengewone hoogleraar (Vertaling) by die Departement Afrikaans en Nederlands, fokus op hoe Suid-Afrika en Suid-Afrikaners in Nederlandstalige koerante uitgebeeld word – met ander woorde, hoe word Suid-Afrika se beeld in Nederlands vertaal.

Ander internasionale bydraes is die van prof. Anthony Pym en prof. Myriam Vermeerbergen. Prof. Pym is buitengewone professor (Vertaling) by die Departement Afrikaans en Nederlands, maar ook verbonde aan die Rovira i Virgili Universiteit (Spanje) en die Universiteit van Melbourne (Australië). Sy artikel fokus op kosmopolitaanse vertaling en hoe wêreldbeelde sou kon verander. Nog ʼn kollega van die KU Leuven, prof. Vermeerbergen, is een van die Departement Afrikaans en Nederlands se navorsingsgenote. Sy het saam met twee Suid-Afrikaanse gebaretaaltolke, Ananda en Banie van der Walt, gewerk aan ʼn artikel oor die projek om 110 Bybelverhale in Suid-Afrikaanse gebaretaal te vertaal.

Plaaslike kenners staan natuurlik geensins terug vir hul internasionale eweknieë nie. Prof. Marné Pienaar (Universiteit van Johannesburg) se bydrae behels ʼn vergelykende ondersoek na Afrikaans- en Zulu-vertalings van Adam Habib se South Africa's Suspended Revolution: Hopes and Prospects. Prof. Kobus Marais (Universiteit van die Vrystaat) sluit aan by prof. Feinauer se werk om Vertaalkunde as akademiese vakgebied in Afrika uit te bou en ondersoek vertaling se posisie op die vasteland, met vergelykende vertaling as ʼn spesifieke fokus.


Me. Lelanie de Roubaix en dr. Amanda Lourens van die Departement Afrikaans en Nederlands se artikel lê die klem op die hoe sigbaar die vertaler en die vertaalhandeling is in resensies van vertaalde Engelse en Afrikaanse romans.

Prof. Gouws het benewens die voorwoord ook ʼn artikel tot die uitgawe bygedra. Dit plaas leksikografiese dataverspreiding en inligtingsontrekking onder die loep en maak voorstelle vir verbeterde leksikografiese strukture.

Die slotbydrae is die van prof. Lesch en me. Simoné Gambrell. Hulle ondersoek tolkopleiding – spesifiek die ontwikkeling van ʼn aanlegtoets vir simultane tolking.

Uit die verskeidenheid onderwerpe is die diep spore wat die huidige bekleër van die Ton en Anet Vosloo Leerstoel in Afrikaanse Taalpraktyk in die akademie getrap het, duidelik sigbaar. Veels geluk aan prof. Feinauer en aan al die bydraers!



  
  
Description
  
  
  
  
Alfred Schaffer: Herman De Coninckprys 2021http://www.sun.ac.za/english/faculty/arts/afrikaans-dutch/PublishingImages/Alfred_Herman%20de%20Coninckprys.jpg
Alfred Schaffer se "Wie was ik" is met die Herman De Coninckprys 2021 bekroon.
https://www.hermandeconinckprijs.eu/laureaat/In page navigation
"Skepsel" wen UJ-pryshttp://www.sun.ac.za/english/faculty/arts/afrikaans-dutch/PublishingImages/Skepsel%20WA%20webblad.png
Willem Anker wen vir die derde maal 'n UJ-prys.
https://www.facebook.com/ujafrikaans/In page navigation
Kruger Trust vereer dr Elbie AdendorffKruger Trust vereer dr Elbie Adendorff
http://www.sun.ac.za/afrikaans/Lists/news/DispForm.aspx?ID=7854In page navigation
US-dosent palm gesogte literêre prys inUS-dosent palm gesogte literêre prys in
http://www.sun.ac.za/afrikaans/Lists/news/DispForm.aspx?ID=7852In page navigation
Dictionary of LexicographyDictionary of Lexicography
Dictionary of LexicographyIn page navigation
​​