Afrikaans & Dutch
Welkom by Universiteit Stellenbosch

DJ Oppermangedenklesing

 

D.J. Opperman (1914-1985), was vanaf 1960 tot met sy aftrede in 1979 verbonde aan die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Stellenbosch. As dosent en studieleier het hy verskillende generasies studente ingelei in die geheime van die Afrikaanse en wêreldletterkunde; as dosent het hy ook 'n 'Letterkundige Laboratorium' begin waarin hy jong skrywers en kritici begelei het. As digter het hy nege grensverskuiwende digbundels en drie belangrike versdramas gepubliseer; as akademikus het hy een van die belangrikste studies oor die Dertigers en 'n hele aantal invloedryke opstelle gepubliseer; as literêre rolspeler het hy verskillende bloemlesings gepubliseer (waaronder die verskillende uitgawes van Groot Verseboek 'n belangrike kanoniseringsinstrument in die Afrikaanse poësie geword het) en as keurder het hy vir uitgewerye 'n groot rol gespeel in die vorming van talle digters.

Ná die dood van D.J. Opperman in 1985 het prof. Lina Spies, in daardie stadium verbonde aan die Universiteit van Pretoria, ondersoek gedoen na die moontlikheid om 'n D.J. Oppermangedenklesing in te stel om sy bydrae as digter, akademikus en literêre rolspeler te eer. Op inisiatief van die destydse professore aan die Departement Afrikaans en Nederlands, Johan Smuts, Merwe Scholtz, Johan Combrinck en Fritz Ponelis, en met die goedkeuring van mev. Marié Opperman is die tweejaarlikse gedenklesing in 1986 ingestel. Die eerste D.J. Oppermangedenklesing is op 8 Mei 1987 deur prof. Lina Spies gelewer. Sedert 1987 is die volgende gedenklesings gelewer om D.J. Opperman se bydrae te vereer:

1987 – Prof. L. Spies: Besieling en behoud: die boodskap van D.J. Opperman vir ons tyd

1989 – Prof. A.P. Grové: Teoretisering oor die poësie en Opperman se digterskap

1991 – Prof. J.C. Kannemeyer: "Die rotsmusiek van eie hiëroglief": 'n visie anderkant die teks

1993 – Prof. J.J. Degenaar: Die vindingrykheid van metaforiese taalgebruik

1995 – Prof. E. Botha: "Kuns is boos!": die digter as Erlkönig

1997 – Prof. H. Snyman: D.J. Opperman en die mitologie

1999 – Prof. H.P. van Coller: Die bloemleser as kanoniseerder

2001 – Prof. A.P. Brink: Groot verseboek: Kanon of haelgeweer?

2003 – Karel Schoeman: Onderhoud gevoer deur Jakes Gerwel en Louise Viljoen

2005 – Prof. G.J. Gerwel: Vertrekpunt vir die vorming van 'n nuwe Akademie vir Afrikaans

2007 – Prof. H.C. Aucamp: Die allure van die onvolledige met spesifieke verwysing na Sonklong oor Afrika van D.J. Opperman

2009 – Prof. A.E. Krog: Die verkleurmannetjie(s) op Sjaka: 'n vergelyking van die manifestasie van Shaka in die gedig van Opperman en die Sesotho-roman van Thomas Mofolo

2011 – Prof. L. Spies: God, die magtige magneet: die religieuse motief in die poësie van D.J. Opperman

2013 – Prof. H.E.J. van Vuuren: D.J. Opperman se laatwerk

2014 Herdenking van Opperman se geboortedag honderd jaar gelede op 29 September 2014

2017 – Prof. W. Burger: Opperman en die Afrikaanse Literatuurkritiek