Afrikaans & Dutch
Welkom by Universiteit Stellenbosch

VER[r]AS

​​​​​​Die Departement Afrikaans en Nederlands se studentekomitee (voorheen ASK – Afrikaanse Studiekring) staan bekend as VER[r]AS – die Vereniging vir Afrikaansstudente. VER[r]AS word deur ʼn studentekomitee bestuur en bestaan gewoonlik uit voorgraadse studente wat Afrikaans en Nederlands as vak neem. Deur die loop van die jaar reël die komitee verskeie geleenthede vir medestudente rondom bepaalde temas wat met Afrikaans verband hou, byvoorbeeld Afrikaanse filmaande, poësie-aande en selfs vasvra- en speletjiesaande.

Een van die belangrikste bedrywighede van die VER[r]AS-komitee is die saamstel van die jaarlikse studentebundel Penseel. Penseel is 'n bundel met 'n lang geskiedenis in die Departement Afrikaans en Nederlands. Dit is in 1969/70 deur Fanie Olivier en Danie Botha gestig onder beskerming van ASK. Sedertdien is die bundel bykans elke jaar gepubliseer. Van die digters en skrywers wie se werk oor die jare in Penseel gepubliseer is, is vandag bekende figure in die Afrikaanse literêre wêreld – Zandra Bezuidenhout, Kerneels Breytenbach, Charles Fryer, Rachelle Greeff, Helena Gunter, Joan Hambidge, Daniel Hugo, André le Roux, Sonja Loots, Fanie Olivier, Alfred Schaffer, Etienne van Heerden en Marlene van Niekerk – om maar 'n paar te noem.

Penseel is vandag steeds 'n studentebundel. Alle studente aan die Universiteit Stellenbosch kan hulle oorspronklike Afrikaanse gedigte of kortkortverhale inskryf om moontlik in Penseel gepubliseer te word. Die inskrywings word deur 'n paneel keurders beoordeel, en die beste bydraes word dan in die bundel gepubliseer. Die bekendstelling van die bundel vind gewoonlik in die vierde kwartaal plaas, kort voor die klasse vir die jaar sluit. By hierdie bekendstellingsgeleentheid kry die jong digters en skrywers wie se werk in die bundel verskyn dan die geleentheid om van hulle gedigte of kortkortverhale aan 'n gehoor voor te lees.

Vir meer inligting oor die VER[r]AS-komitee of oor Penseel of vir enige navrae, stuur gerus 'n e-pos na penseel@sun.ac.za.


PENSEEL
​​​

Penseel 2021 Voorblad.pngVER[r]AS, die Departement Afrikaans en Nederlands s​e studentevereniging, het Woensdag 2 Maart die 2021-uitgawe van Penseel bekendgestel. Agt en twintig digters en kortverhaalskrywers is in die bundel opgeneem. Keuring vir die 2021-uitgawe is deur dr Amanda Marais, dr Alfred Schaffer en mnr Marius Swart gedoen.

Die 2021-redaksie – studente wat volgens eie bekentenis almal vrek oor die wêreld van lees en skryf – beskryf die proses om die bundel saam te stel as lank en uitdagend, maar ook verfrissend, bevredigend en leersaam. En die van hulle wat vir die 2022-uitgawe nog op kampus is, sien daarna uit om weer deel van die proses te wees.

Die 2021-redaksie is: Maryna Adshade (redakteur), Charlton Andrew, Pippa Bester, Anouk Cronjé, Madeleine Kruger, Rentia Meyer, Karla van der Merwe (assistentredakteur) en Duné van Jaarsveld.

Penseel het 'n luisterryke geskiedenis wat terugstrek na 1969/1970 en 'n inisiatief van die toe-nog-onbekende Danie Botha en Fanie Olivier. Sedertdien het skrywers soos Joan Hambidge, Daniel Hugo, Loftus Marais en Marlene van Niekerk almal bydraes gelewer. Die uitgawes van 2021 en 2022 verdien hulle plek in die geskiedenis omdat hulle verskyn het en saamgestel sal word in die Departement Afrikaans en Nederlands se honderdste bestaansjaar.​


Die 2022-redaksie:

Voorsitter: Anouk Cronje

Ondervoorsitter: Rentia Meyer

Sekretaresse: Duné van Jaarsveld

Komiteelede: Cameron Jo Benjamin en Maya Joubert​