Afrikaans & Dutch
Welkom by Universiteit Stellenbosch

Nuus en gebeure

​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​facebook. klein.pngInstagram_Glyph_Gradient_RGB.pngLI-In-Bug.png


Prof Louise Viljoen ontvang Jan H Marais-prys

Prof Louise Viljoen, een van die voorste letterkundiges wat oor die afgelope dekades in Afrikaans werk en ’n voormalige kollega by die Departement Afrikaans en Nederlands, het die Jan H Marais-prys ontvang.

Dit is die tweede jaar in ’n ry wat iemand wat met die Departement geassosieer word hierdie gesogte prys wen. Die Departement is geweldig trots om met prof Viljoen geassosieer te word en wens haar geluk met hierdie geweldige prestasie.

Lees HIER die persverklaring wat haar as wenner aankondig.

Lees HIER ’n berig op die US-webwerf.





Kanselierstoekenning vir navorsingIlse toekenning web (3).png

Prof Ilse Feinauer van die Departement Afrikaans en Nederlands het Maandag 5 Desember 2022 ’n Kanselierstoekenning vir volgehoue uitnemendheid in navorsing ontvang. ’n Maksimum van 15 sulke prestige-toekennings word tydens die Desembergradeplegtighede vir navorsing, innovasie, leer en onderrig, sosiale impak en professionele dienste gemaak.

In haar 40 jaar as akademik​us aan die US het prof Feinauer ’n uitstaande navorsingsprofiel opgebou, sowel nasionaal as internasionaal. Sy is een van die stigterslede van die African Society for Translation Studies (ATSA) en dien in die uitvoerende raad van die European Society for Translation Studies (EST). Haar betrokkenheid by internasionale organisasies en kongresse het daartoe gelei dat die EST-kongres in 2019 in Stellenbosch gehou is – die eerste keer wat dit buite Europa plaasgevind het.

Prof Feinauer bly baie aktief betrokke by plaaslike taalpraktyk en Afrikaanse taalkunde. Sy is die eerste bekleër van die Ton en Anet Vosloo Leerstoel in Afrikaanse Taalpraktyk in die Departement Afrikaans en Nederlands en is die ondervoorsitter van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.


Departement ontvang SARS se veeltalige terminologielys​

’n Verteenwoordiger van die SARS Taaleenheid het Woensdag 17 Augustus 2022 ’n kopie van hulle veeltalige terminologielys aan die Departement Afrikaans en Nederlands oorhandig. Die lys bevat belastingverwante terme in al 11 amptelike Suid-Afrikaanse tale. Is jy nuuskierig oor hoe belastingterminologie in jou taal lyk? Raadpleeg gerus die pdf-weergawe deur HIER te klik.

Sars_oorhandiging_crop2_blur_resize.jpg

Me Maret Blom-De Wet, me Aletia Ollewagen (SARS Taaleenheid), prof Harold Lesch en dr Amanda Marais


​​Dr Lorna Morris ontvang ​AS Hornby Woordeboektoekenning

Lorna Morris-crop sepia.JPG In 2021 het dr Lorna Hiles Morris haar PhD (Leksikografie) in die Departement voltooi, asook ʼn termyn as Consolidoc-genoot. Onlangs het sy die gesogte internasionale A.S. Hornby Woordeboektoekenning ontvang – ʼn bedrag van £15 000 vir ʼn tweejaarnavorsingsprojek oor elektroniese woordeboeke vir Suid-Afrikaanse skoolleerders.

Die doel van die A.S. Hornby Woordeboektoekenning is om oorspronklike navorsing te ondersteun wat gerig is op praktiese voordele vir leerders van Engels. Die beoordelaars van hierdie toekenning oorweeg jaarliks interessante en vernuwende voorstelle wat leksikografiese navorsing koppel aan die behoeftes van taalleerders. Dr Morris se navorsing volg uit haar PhD, waar sy artikels ontwerp het vir elektroniese skoolwoordeboeke wat spesifiek leerders ondersteun wat nie in hulle moedertaal studeer nie. Haar nuwe navorsing sal haar vorige ontwerp in skole en op elektroniese woordeboeke toepas. Positiewe uitkomste van hierdie navorsing kan ʼn wesenlik bydrae maak tot die ontwikkeling van ʼn draagbare apparaat vir Suid-Afrikaanse skole ter ondersteuning van geletterdheid in laerskole.

Die Departement is trots op dr Morris se prestasies en wens haar sukses toe in haar voortgesette navorsing.


Ilse EST nuwe termyn resize.jpg

Nuwe​​​ termyn op EST-raad

Baie geluk aan prof Ilse Feinauer, wat vir nog ’n termyn tot die Uitvoerende Raad van die European Society for Translation Studies (EST) verkies is. Sy, dr Amanda Marais en mnr Marius Swart is van 22 tot 25 Junie betrokke by die tiende EST-kongres in Oslo, Noorweë.​​


​​​Eerste MA-dag vir Departement se bedrywige studente


Maandag 13 Junie het agt MA-studente in die Departement Afrikaans en Nederlands met hulle navorsing en hulle vordering oor die afgelope ses maande gespog deur mondelinge aanbiedings oor hulle navorsingsvoorstelle te doen.

Die aanbiedings vorm deel van 'n nuwe inisiatief in die Departement wat daarop gemik is om studente te help om vinniger te vorder en om te leer uit die navorsing wat hulle eweknieë doen. Met die doel voor oë het die Departement in Januarie 'n navorsingsoriënteringsweek gehou en moes studente in Junie hulle navorsingsvoorstelle voordra aan 'n gehoor bestaande uit personeel en medestudente. Benewens die aanbieders wat in die Letteregebou teenwoordig was, het aanbieders aanlyn aangesluit van elders in Suid-Afrika, uit Namibië en, in een geval, van 'n kongres in België.

Volgens prof Ilse Feinauer, die bekleër van die Ton en Anet Vosloo-leerstoel in Afrikaanse Taalpraktyk, en die een wat die inisiatief voorgestel het, was die MA-dag 'n reusagtige sukses. In haar bykans 40 jaar se betrokkenheid by die Departement (as student en dosent) is dit die eerste keer wat so baie MA-studente so vinnig soveel vordering maak. Prof Harold Lesch, Departementele Voorsitter, deel haar siening en voeg by dat dit gepas is dat die Departement ook in sy eeufeesjaar nuwe maniere vind om navorsing te bevorder.


​​Dr Adendorff word ’n lid van die SA Akademie

Dr Elbie Adendorff.png Dr Elbie Adendorff, senior lektor in die Departement Afrikaans en Nederlands, het as volwaardige lid by die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se geledere aangesluit. Sy doseer reeds sedert 2004 by die Departement.

Hoewel dit enigiemand vry staan om aansoek te doen om lidmaatskap, het die Akademie, wat in 1909 gestig is, streng kriteria waaraan 'n aansoeker moet voldoen voordat hulle deur die Akademieraad tot lid verkies word. Volgens die Akademie se Akte van Oprigting sluit dit “[w]erk van hoë gehalte", “'n verantwoordelike betrekking in die eie vakgebied" en “eweknie-erkenning op die vakgebied of werkterrein" in.

Dr Adendorff se navorsingsuitsette en die puik studieleiding wat sy aan haar nagraadse studente bied, strek nie net die Departement tot voordeel nie, maar ook wetenskapskrywing in Afrikaans en haar spesialisgebied van taalverwerwing.


Vertaaldosent se werk geniet internasionale erkenning

Marius FIT2.png Marius Swart se werk, veral sy Engelse vertaling van Marlene van Niekerk se Die sneeuslaper, is onlangs deur die International Federation of Translators (FIT) geloof. Hoewel hy nie die internasionale Marion Boers-prys gewen het nie, het hy 'n eervolle vermelding vir The snow sleeper ontvang.

Die prys is tydens FIT se 22ste wêreldkongres in Varadero (Kuba) oorhandig. Prof Ilse Feinauer, wat 'n hoofrede by die kongres gelewer het, het die toekenning namens Swart ontvang. In die commendatio beskryf die jurie Swart as “onteenseglik een van die voorste literêre vertalers wat hoofsaaklik tussen Afrikaans en Engels werk". Hulle gee ook erkenning aan sy werk as dosent, tolk, vertaler en navorser wat deur sy aandag aan die wisselwerking tussen teorie en praktyk werk lewer wat deur wetenskaplike denke gerig word maar getuig van kreatiwiteit en kunstigheid.

Oor die erkenning wat sy vertaalvernuf geniet, sê Swart dat hy sonder die Departement Afrikaans en Nederlands “nooit sou geweet het vertaling is iets wat mens kan doen nie" en beskryf dit as “gepas en poëties" dat die dosent (nou kollega) wat hom eerste aan vertaling blootgestel het, namens hom die toekenning ontvang het.

Die Marion Boers-prys vir die vertaling van skryfwerk (fiksie en nie-fiksie) deur outeurs uit een van die 16 SAOG-lidlande is daarop gemik om uitnemendheid in vertaling te erken en te beloon. Kandidate moet deur 'n FIT-lid genomineer word en hoewel die outeur van die oorspronklike werk 'n burger van 'n SAOG-lidland moet wees, kan die vertaler wat benoem word enige nasionaliteit hê.

Die prys is in 2020 ingestel ter nagedagtenis aan Marion Boers en dit word in 2022 vir die eerste maal toegeken. Boers was van 2008 tot 2014 vir twee opeenvolgende termyne FIT-president en was vir meer as twee dekades die uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Vertalersinstituut (SAVI). Sy is in Oktober 2018 oorlede.


Totsiens aan Liana Roos

IMG-20220531-WA0006-crop2.jpgDie Departement Afrikaans en Nederlands het op 31 Mei afskeid geneem van mev Liana Roos wat ná 16 jaar na die Buro van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal skuif.

Liana het in 2006 uit die korporatiewe sektor by die Departement aangesluit  en het baie vinnig by die eise van die akademiese wêreld aangepas. Sy het haar haar administratiewe pligte met geweldige doeltreffendheid afgehandel én met vriendelikheid en deernis wat almal altyd op hulle gemak gestel het.

As probleemoplosser en iemand met 'n oog vir ontwerp het sy die Departement se webwerf in stand gehou en bygedra tot plasings op sosiale media.

Gevra wat haar tekortkominge is, erken sy dat sy nie vinnig kan tik of stadig kan stap nie.

Die Departement se personeel en studente sal haar ontsettend baie mis. Ons verlies is beslis die WAT se wins.


US dosent wen gesogte Jan H. Maraisprys

​​​​


Kliek hier​ vir die volledig berig.


​Prysuitdeling: 2​​021-pryswenners

​​​Een van die hoogtepunte op ons kalender is die prysuitdeling waar ons studente se harde werk in die vorige akademiese jaar erken en beloon word. Vanjaar se spoggeleentheid het op 23 Maart by Stias plaasgevind, en dit was ook 'n voorreg om sommige van ons borge daar te kon ontvang. Prof Ilse Feinauer het namens die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns die gesogte Marius Joosteprys vir die beste MA-student aan die Departement Afrikaans en Nederlands, aan Ancheri Götze oorhandig.

Die voorgraadse pryswenners

  • Beste prestasie ATV 178: Owethu Makosana
  • Beste prestasie ATV 188: Kathryn Neumann
  • Jaco van der Merwe-prys vir die beste prestasie AN 178: Anouk Cronjé
  • Beste prestasie ATV 278: Megan Landman​
  • Beste prestasie ATV 288: Kellen Daniëls
  • Corrie Burger-prys vir die beste prestasie AN 278: Cecilia Steinberg
  • WEG Louw-prys vir die beste prestasie in Letterkunde in die derde jaar AN: Maryna Adshade & Joanna Gouws
  • Beste prestasie in die derde jaar AN: Maryna Adshade & Joanna Gouws
  • Pharos-boekprys vir die beste prestasie in Leksikografie: Marle-Zanne Barnard

Die beste studente ​​in elk van die AN-jaargroepe kon elkeen 'n woord kies as hulle WAT-Borg ’n Woord-pryse. Hulle het die volgende woorde gekies:

Anouk Cronjé – “sinkopasie”

Cecilia Steinberg – “ampersand”

Maryna Adshade – “befomfaai”

Joanna Gouws – “swad”

Voorgraads vir FB.png  

Die nagraadse en kortkursuspryswenners

  • Vakprys vir Redigering: Mareli Swart & Ella van Rensburg
  • Beste Honneursnavorsingswerkstuk: Ella van Rensburg (Vertaling)
  • Beste prestasie Honneurs in Afrikaans en Nederlands: Eleonore Basson
  • Beste prestasie Honneurs in Vertaling: Mareli Swart
  • Folio-prys vir die beste Vertaling-student: Mareli Swart
  • Alison Bucholz ontvang die prys vir die beste prestasie in die kortkursusse in die Vertaalprogram.

Nagraads vir FB.png


Middagete met sy majesteit

Hy is dalk nie 'n hofdigter nie, maar dr Alfred Schaffer van die Departement Afrikaans en Nederlands is twee keer in bietjie meer as 'n maand vir sy werk vereer en gehuldig. Eers by die Tuin van Digters in Wellington in Oktober en, meer onlangs, by die Paleis Noordeinde in Den Haag.

Op 25 November het Koning Willem-Alexander 26 uitblinkers tydens 'n noenmaal vereer. Benewens dr Schaffer (die 2021-ontvanger van die PC Hooft-prys), het die gastelys paralimpiese atlete, musikante, akteurs, en ontvangers van die Spinoza- en Stevinpremie (die hoogste toekenning vir Nederlandse akademici en wetenskaplikes) ingesluit.

Hoewel die uitblinkersmaaltye gewoonlik elke ses maande plaasvind, is dit – hoogs uitsonderlik – die tweede in minder as 'n maand.

Op 22 Oktober is dr Schaffer by die Breytenbachsentrum se jaarlikse Tuin van Digters vir sy bydrae tot die digkuns gehuldig.


Deugde dubbel en dwars erken  

Dr Amanda Lourens is in een week op twee verskillende maniere vir haar akademiese betrokkenheid en haar veelsydige bydrae tot die Departement Afrikaans en Nederlands vereer. Sy is tot senior lektor bevorder (een van slegs 'n handjie vol bevorderings in die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe) en het een van die US se Toekenning vir Uitnemende Onderrig ontvang.

Die aantal dosente wat jaarliks met dié toekenning vereer word is besonder klein en dit beklemtoon die waarde van Amanda se rol in die Departement en die Fakulteit. Sy is in die kategorie ‘Ontluikende Dosent’ vereer vir die manier waarop sy nie net krities oor haar onderrigpraktyk besin nie, maar ook opvoedkundige literatuur benut om professioneel te groei. Sedert 2008 het sy al baie diep spore in die Departement getrap.​ Sy is – in 'n mindere of meerdere mate – by die onderrig van navorsingsmetodologie, redigeerteorie en praktiese redigering, teksanalise, Afrikaanse poësie, feministiese literêre teorie en akademiese skryfwerk betrokke.

Baie geluk aan dr Amanda Lourens met haar welverdiende bevordering en die institusionele erkenning van haar toewyding tot haar vakgebied en haar studente.


​Alfred Schaffer by tiende Tuin van digters gehuldig

Screenshot 2021-10-22 112906.pngDis die naweek die tiende Tuin van digters by die Breytenbach Sentrum in Wellington en personeel en oudstudente van die Departement Afrikaans en Nederlands figureer weer prominent.

Vrydagaand word Alfred Schaffer gehuldig vir die diep spore wat hy al as skrywer, vertaler en mentor in die Afrikaanse en Nederlandse letterkunde getrap het. Danie Marais en prof Yves T'Sjoen (Universiteit van Gent en Universiteit Stellenbosch) lei “Alfred Schaffer gehuldig: Woorden word woorde".

Saterdagmiddag lees oudstudente Ryan Pedro en Zandra Bezuidenhout as deel van “Nuwe bundels nuwe woorde" van hulle jongste werk voor. Kort daarna is Marius Swart, Alfred Schaffer en Zandra Bezuidenhout in gesprek met Nèlleke de Jager as deel van 'n paneelbespreking oor die vertaling van poësie.

Die aand praat prof Jerzy Koch (Adam Mickiewicz Universiteit en Universiteit Stellenbosch) met Daniel Hugo oor sy Afrikaanse bundel Pleks van plaas. (Vrydagfeit: prof Koch is 'n Pool wat vlot Afrikaans praat!)

En om 20:00 Saterdagaand word die Ingrid Jonker-prys aan Ryan Pedro oorhandig vir sy debuut, Pienk ceramic-hondjies. Ronel de Goede, 'n oud-kollega by die Departement en voorsitter van die pryskomitee, neem hier die leiding.

Lus om die hele program te lees? Klik hier!


Waarom net een dag gebruik om vertaling te vier?


Donderdag 30 September is Internasionale Vertaaldag. In ʼn taaldepartement wat drie vertaalprogramme (en ʼn hele paar kortkursusse) aanbied, is die vertalers natuurlik regdeur die jaar besig en leef hulle beslis vanjaar se tema – Verenig in Vertaling – uit.

In Maart het ’n Hart is so groot soos ’n vuis, Marius Swart se vertaling van PP Fourie se roman The Heart is the Size of a Fist, verskyn. Op Vertaaldag tree vertaler en outeur in gesprek met Peter Bergsma (JM Coetzee se Nederlandse vertaler) as deel van Zuid-Afrikahuis se Boeken uit het Huis-reeks. Die praatjie sal van 16:00 tot 17:00 regstreeks uitgesaai word en kan op YouTube gekyk word.

In April is Alfred Schaffer se Nederlandse vertaling van Ronelda S. Kamfer se Chinatown deur Podium gepubliseer. Alfred en Ronelda het in Mei met Ama van Dantzig oor hulle samewerking gepraat.

En op 15 September het Michiel Heyns die nuwe UJ-prys vir Literêre Vertaling vir Red Dog (2018) ontvang. Dit het oorspronklik in Afrikaans as Buys (2014) verskyn en is, natuurlik, deur Willem Anker geskryf.

Die Departement se viering van Vertaaldag vind in twee fases plaas. In die aanloop tot Vertaaldag het die 2021-honneursklas in vertaling besluit om twee hoofstukke uit prof Amanda Gouws en Olivia Ezeobi se The Covid Diaries: Women's Experience of the Pandemic in Afrikaans te vertaal​. Hulle slyp sodoende nie alleen hulle vertaalvaardighede nie, maar doen ook ervaring op in vertaalprojekbestuur, gehalteversekering en bemarking.

Ná Vertaaldag – elke Woensdagoggend in Oktober – sal ʼn buitengewone dosent ʼn virtuele gaslesing gee oor kwessies wat met vertaling, tolking en redigering verband hou. Kontak gerus vir lfoster@sun.ac.za as jy graag na die lesings deur prof Luc van Doorslaer, prof Anthony Pym, dr. Paola Gentile en prof Myriam Vermeerbergen wil luister.

Besoek ons vertaalblad op Facebook vir die jongste besonderhede oor hierdie vertaalfees!


Aanlyn by die ALV

 

Die Departement Afrikaans en Nederlands word vandeesweek goed verteenwoordig by die negentiende hoofkongres van die Afrikaanse Letterkundevereniging (ALV). Daar is huidige en oudstudente, 'n nadoktorale genoot en 'n oud-kollega (prof Louise Viljoen) wat almal referate lewer. Daar is die buitengewone hoogleraar in Letterkunde, prof Jerzy Koch, met 'n referaat, en die buitengewone hoogleraar in Nederlandse letterkunde, prof​ Yves T'Sjoen, wat 'n hoofrede lewer. En dan is daar uiteraard dr. Amanda Lourens (referaat) en prof Andries Visagie (hoofrede).

Die kongres sou eers in September 2020 plaasgevind het, toe in Januarie 2021, en nou vind dit uiteindelik van 15 tot 17 September aanlyn plaas (met alle reëlings uit Gqeberha getref deur Nelson Mandela Universiteit se Skool vir Taal, Media en Kommunikasie). Dr. Lourens en prof Visagie is dit eens dat hulle met die aanlyn formaat die gesprekke met kollegas oor ʼn koppie tee of koffie en tydens etes die meeste sal mis.

Die blootstelling aan nuwe gedagtes en die stemme van opkomende akademici is egter positiewe aspekte van die kongres wat die verlammende invloed van die inperking sal teenwerk. Die jong akademici is “die toekoms van die Afrikaanse literatuurwetenskap", soos prof Visagie dit stel.

Prof Visagie se hoofrede handel oor die ontstaan van Jan Rabie se verhaal “Die man met die swaar been" (uit die kortverhaalbundel Een-en-twintig). Hy het op die spoor van drie variante van die verhaal gekom nadat hy in 2019 deur die US-biblioteek uitgenooi is om deur hulle Jan Rabie-versameling te “gaan snuffel met die oog op ʼn bydrae tot die US Woordfees". Hy verken vervolgens “die sosiopolitieke en literêre klimaat waarbinne hierdie hoogs gekanoniseerde verhaal sy ontstaan gehad het" en beskou “die verhaal as een van die vroegste antikoloniale verhale in Afrikaans".

In haar referaat fokus dr. Lourens op Elsa Joubert se Spertyd, spesifiek temas soos verlies, aflegging, losmaak en transendensie. Vir haar is dit glad nie ʼn morbiede onderwerp nie. Dis eerder ʼn politieke kwessie. Sy wil, met behulp van ondersoeke na die literatuur, die samelewing se denke oor ouderdomskwessies – die obsessie met “jeug wat deur middel van verbruikersgoedere bekom moet word", die marginalisasie van ouer vroue – transformeer. Veroudering en die dood moet juis nie “doodgeswyg" word nie, aangesien dit “normale lewensfases" is.

Die kongrestema is “Affekte, begeertes, emosies" en daar gaan beslis nie ʼn tekort aan interessante bydraes wees nie. Kyk gerus na die kongresprogram op LitNet.​


​Dubbele triomf vir dosente

Dr Willem Anker en dr Alfred Schaffer het elkeen die afgelope week ʼn groot literêre prys in ontvangs geneem. Willem se roman Skepsel is op Saterdag 11 September met die kykNET-Rapportprys vir fiksie tydens ʼn virtuele seremonie bekroon (die kort videoseremonie is hier beskikbaar) en Alfred het ʼn paar dae vroeër, op Donderdag 9 September, die Nederlandse PC Hooft-prys in Den Haag in ontvangs geneem.

As deel van die oorhandigingseremonie van die PC Hooft-prys het ʼn aantal bekende digters – Tom Lanoye, Ronelda Kamfer, Ellen Deckwitz, Antjie Krog en Rodaan Al Galidi – uit Alfred en hulle eie werk voorgelees en gedeel wat hulle so besonders aan sy digkuns vind. Kyk gerus hier na die luisterryke geleentheid.

Dit is omtrent ʼn jaar waarin die werk van hierdie twee skrywer-dosente erken word. Benewens die 2021-UJ-prys en die kykNET-Rapportprys, is Skepsel ook vir ʼn ATKV-Woordveertjie benoem: die wenner van die ATKV-prosaprys word op 17 September aangekondig. En op 22 en 23 Oktober is dit die Breytenbach Sentrum se Tuin van Digters in Wellington, waar Alfred gehuldig sal word vir sy bydrae tot die digkuns.​


Dr Lorna Morris woeker met woordeboeke

Niemand kan ontken dat woordeboeke uitermate nuttig is nie, maar daar is party mense wat nie werklik daaroor opgewonde raak nie. Gelukkig vir almal van ons hou dr Lorna Morris, ’n Consolidoc by die Departement Afrikaans en Nederlands, nie net van leksikografie as ʼn vakgebied nie. Sy voel ook baie sterk daaroor dat woordeboeke so toeganklik en gebruikersvriendelik moontlik moet wees.

Lorna het haar PhD in Lekikografie in Maart 2021 ontvang (uiteraard met prof Rufus Gouws as promotor). Sy sê sy geniet die dissipline se analitiese sy – om te kyk hoe mense woorde gebruik, om die woord se oorsprong te ondersoek en uit te vind watter verbande daar met ander woorde is (insluitende woorde in ander tale).

Haar liefde vir woordspeurwerk het daartoe gelei dat sy op skoolwoordeboeke in Suid-Afrika fokus. Haar doelwit? Om woordeboeke te help skep waaruit mense kan leer omdat hulle toegankliker, bruikbaarder en prettiger is om te raadpleeg. Sy het by die 25ste internasionale kongres van die African Association of Lexicography oftewel Afrilex (wat op 29 en 30 Junie 2021 gehou is) ’n referaat oor ’n elektroniese skoolwoordeboek aangebied.

Haar werk geniet ook internasionale aandag. Hoewel sy nie ʼn referaat gaan aanbied by die 29ste internasionale kongres van die European Association for Lexicography nie (dit vind van 7 tot 9 September plaas en die Demokritus Universiteit van Thracië in Griekeland is die gasheer), is sy een van die ontvangers van die Hornby-prys wat haar in staat stel om die kongres kosteloos by te woon. Heel gepas is Euralex se kongrestema “Lexicography for Inclusion".

Lorna glo dat skoolwoordeboeke ʼn belangrike rol in die onderwys in Suid-Afrika te speel het en kan help om gelyke en waardevolle onderwys aan almal te bied. Sy reken dat gedrukte woordeboeke nog hulle plek in Suid-Afrika het, veral in skole, maar ondersoek ook geskikte toestelle en programmatuur om leerders van woordeboektoegang te voorsien sonder dat hulle aanlyn moet gaan.

Oor ’n dekade is alle woordeboeke dalk aanlyn as ’n kombinasie van gratis programmatuur en programme of toepassings waarop mens moet inteken (eersgenoemde met advertensies, laasgenoemde daarsonder). Of hulle kan deel uitmaak van ’n spesifieke elektroniese toestel (koop die toestel, kry toegang tot die woordeboek). Watter formaat die woordeboeke van die toekoms ook al aanneem, sal Lorna Morris haar deel doen om te verseker dat Suid-Afrikaanse woordeboeke so toeganklik en bruikbaar moontlik bly.


Intern​​as​ionale netwerke laa​​​t vertaling gedy


​’n Suid-Afrikaner, ’n Italianer en ’n Hongaar beland in ’n Belgiese hawestad. Wat dalk na die begin van ʼn grap vol stereotipes klink was eintlik die begin van verrykende internasionale samewerking in vertaalkunde tussen drie jong akademici.

Marike van der Watt (Universiteit Stellenbosch en KU Leuven), Paola Gentile (Universiteit van Triëst, Universiteit van Namen en navorsingsgenoot aan die US) en Fruzsina Kovács (Pázmány Péter Katolieke Universiteit) het mekaar in 2018 in Antwerpen ontmoet by die KU Leuven se Centre for Translation Studies, oftewel CETRA.

Na hulle CETRA-ontmoeting was hulle in 2019 die sameroepers van ’n paneel by die European Society for Translation Studies (EST) se negende driejaarlikse kongres (daardie jaar in Stellenbosch gehou). Hulle het daardie suksesvolle samewerking opgevolg met ’n spesiale uitgawe van die vaktydskrif Translation Spaces.

In hierdie uitgawe word gefokus op wat gebeur as vertaalkunde, resepsiestudie en imagologie saam gebruik word om transnasionale beeldvorming te ondersoek. Met ander woorde, hoe kan ons die drie dissiplines gebruik om te kyk na die manier waarop ons sekere beelde van ander lande, nasionaliteite of groepe vorm of voortsit? Soos hulle dit in die uitgawe se inleiding stel:

“Readers' images of a country are constructed on the basis of texts that are first selected for translation, for example, and the particular ways in which translated books are subsequently promoted and packaged within their specific book covers. Cultural images thus undergo an evolution: they are constantly re-elaborated, re-shaped, re-processed, and filtered through marketing, promotion and reviewing phases."

Gelukkig vir almal wat in die onderwerp belangstel, is die spesiale uitgawe nie die laaste sien van die blikkantien nie. Marike van der Watt is nie net besig met ʼn PhD in Vertaling wat juis op imagologie fokus nie (met prof Ilse Feinauer, die bekleër van die Ton en Anet Vosloo Leerstoel in Afrikaanse Taalpraktyk, en prof Luc van Doorslaer van die KU Leuven as studieleiers). Sy is ook betrokke by ʼn transnasionale navorsingsprojek wat deur die Nederlandse Taalunie befonds word en uitgevoer word in samewerking met die Universiteit van Triëst en die KU Leuven: “Binnenlandse vogels, buitenlandse nesten: de hedendaagse Vlaamse literatuur in vertaling en haar relatie tot het Vlaamse letterenbeleid".


Huldigingsbundel vir prof Ilse Feinauer

Prof Ilse Feinauer is nie net self ʼn uitmuntende navorser nie, maar ’n akademikus wat ander aanspoor en bemagtig om navorsing te doen. Dit kan duidelik gesien word in die spesiale uitgawe van die vaktydskrif Stellenbosch Papers in Linguistics Plus wat onlangs verskyn het. Dié huldigingsbundel het kollegas prof Harold ​Lesch en mnr Marius Swart as gasredakteurs en fokus op die wisselwerking tussen taalpraktyk en teorie.

Na ʼn voorwoord deur jarelange kollega prof Rufus Gouws, wat prof Feinauer se geweldige bydrae tot ʼn verskeidenheid vakgebiede uiteensit, verskyn daar agt artikels deur verskeie internasionale en Suid-Afrikaanse akademici asook ’n aantal studente van die Departement Afrikaans en Nederlands.

Die eerste artikel deur prof Luc van Doorslaer, verbonde aan die Universiteit van Tartu (Estland) en die KU Leuven (België) en buitengewone hoogleraar (Vertaling) by die Departement Afrikaans en Nederlands, fokus op hoe Suid-Afrika en Suid-Afrikaners in Nederlandstalige koerante uitgebeeld word – met ander woorde, hoe word Suid-Afrika se beeld in Nederlands vertaal.

Ander internasionale bydraes is die van prof Anthony Pym en prof Myriam Vermeerbergen. Prof Pym is buitengewone professor (Vertaling) by die Departement Afrikaans en Nederlands, maar ook verbonde aan die Rovira i Virgili Universiteit (Spanje) en die Universiteit van Melbourne (Australië). Sy artikel fokus op kosmopolitaanse vertaling en hoe wêreldbeelde sou kon verander. Nog ’n kollega van die KU Leuven, prof Vermeerbergen, is een van die Departement Afrikaans en Nederlands se navorsingsgenote. Sy het saam met twee Suid-Afrikaanse gebaretaaltolke, Ananda en Banie van der Walt, gewerk aan ’n artikel oor die projek om 110 Bybelverhale in Suid-Afrikaanse gebaretaal te vertaal.

Plaaslike kenners staan natuurlik geensins terug vir hul internasionale eweknieë nie. Prof Marné Pienaar (Universiteit van Johannesburg) se bydrae behels ’n vergelykende ondersoek na Afrikaans- en Zulu-vertalings van Adam Habib se South Africa's Suspended Revolution: Hopes and Prospects. Prof Kobus Marais (Universiteit van die Vrystaat) sluit aan by prof Feinauer se werk om Vertaalkunde as akademiese vakgebied in Afrika uit te bou en ondersoek vertaling se posisie op die vasteland, met vergelykende vertaling as ’n spesifieke fokus.

Me. Lelanie de Roubaix en dr Amanda Lourens van die Departement Afrikaans en Nederlands se artikel lê die klem op die hoe sigbaar die vertaler en die vertaalhandeling is in resensies van vertaalde Engelse en Afrikaanse romans.​​

Prof Gouws het benewens die voorwoord ook ’n artikel tot die uitgawe bygedra. Dit plaas leksikografiese dataverspreiding en inligtingsontrekking onder die loep en maak voorstelle vir verbeterde leksikografiese strukture.

Die slotbydrae is die van prof Lesch en me. Simoné Gambrell. Hulle ondersoek tolkopleiding – spesifiek die ontwikkeling van ʼn aanlegtoets vir simultane tolking.

Uit die verskeidenheid onderwerpe is die diep spore wat die huidige bekleër van die Ton en Anet Vosloo Leerstoel in Afrikaanse Taalpraktyk in die akademie getrap het, duidelik sigbaar. Veels geluk aan prof Feinauer en aan al die bydraers!

100 jaar lank.png

  
  
Description
  
  
  
  
Alfred Schaffer: Herman De Coninckprys 2021http://www.sun.ac.za/english/faculty/arts/afrikaans-dutch/PublishingImages/Alfred_Herman%20de%20Coninckprys.jpg
Alfred Schaffer se "Wie was ik" is met die Herman De Coninckprys 2021 bekroon.
https://www.hermandeconinckprijs.eu/laureaat/In page navigation
"Skepsel" wen UJ-pryshttp://www.sun.ac.za/english/faculty/arts/afrikaans-dutch/PublishingImages/Skepsel%20WA%20webblad.png
Willem Anker wen vir die derde maal 'n UJ-prys.
https://www.facebook.com/ujafrikaans/In page navigation
Kruger Trust vereer dr Elbie AdendorffKruger Trust vereer dr Elbie Adendorff
http://www.sun.ac.za/afrikaans/Lists/news/DispForm.aspx?ID=7854In page navigation
US-dosent palm gesogte literêre prys inUS-dosent palm gesogte literêre prys in
http://www.sun.ac.za/afrikaans/Lists/news/DispForm.aspx?ID=7852In page navigation
Dictionary of LexicographyDictionary of Lexicography
Dictionary of LexicographyIn page navigation
​​