pgstudies
Welkom by Universiteit Stellenbosch

​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​Departement praktiese teologie en missiologie​​

Benewens sy voor- en nagraadse werk, sluit die dissiplinegroep ook die Eenheid vir Godsdiens- en Ontwikkelingsnavorsing (EGON) in. EGON het ’n omvattende statistiese databasis oor godsdiens in Suid-Afrika. Dit spesialiseer ook in armoedenavorsing en -verligting deur ’n uitgebreide netwerk.

Boonop is die dissiplinegroep ’n lid van die Netwerk vir Afrika-gemeenteteologie (NetACT)​ en die tuiste van dié netwerk se administratiewe kantore. NetACT is ’n groep gereformeerde teologiefakulteite in Suider-Afrika wat leierskap wil ontwikkel en tot die noodsaaklike sendings- en profetiese rol van die kerk in Afrika wil bydra. Verskeie projekte word onderneem, waarby ’n groot getal nagraadse studente van Afrika betrokke is. Ons navorsingsfokusgebiede word hieronder uiteengesit.​​​

NAVORSINGSGEBIEDE​​​​

​​​KATEGETIEK EN JEUGBEDIENING  

Kategetiek en jeugbediening gaan daaroor om die Evangelie aan kinders en jongmense in ’n postmoderne omgewing te verkondig, wat insluit kwessies soos identiteit, middelafhanklikheid, en die fases in die ontwikkeling en koestering van geloof.​​

GEMEENSKAPSONTWIKKELING 

Gemeenskapsontwikkeling verken die beste manier om die Evangelie in ’n bepaalde sosiale omgewing te verkondig. Gemeenskapsopheffing deur entrepreneurskapsontwikkeling en Christelike leierskap en bestuur in benadeelde gemeenskappe is ’n prioriteit. Prakties-teologiese ekklesiologie word op maatskaplike en gemeenskapskwessies soos armoede toegepas.

GEMEENTEBEDIENING EN KERKONTWIKKELING 

Gemeentebediening en kerkontwikkeling gaan oor die betekenis van gemeentewees uit ’n sendingsoogpunt. Navorsing is daarop gerig om gemeentes hulle rol te help bepaal om God se koninkryk in ’n gebroke werklikheid sigbaar te maak. Gemeentes word bygestaan met die bestuur van oorgangs- en transformasieprosesse.

HOMILETIEK  

Homiletiek handel oor preekvoorbereiding, die verband tussen relevante prediking en liturgie, en openbare aanbidding. Die doel is om treffende dog verantwoordelike eksegese te bevorder en die Ou en Nuwe Testament so te verkondig dat die hedendaagse relevansie van die Evangelie duidelik daaruit blyk.

MISSIOLOGIE 

Missiologie behels die intergodsdienstige debat, waaronder die ekumeniese probleem. Die kerk se taak om te getuig word in verskillende kulturele kontekste as ’n uitreikproses beskou. Die teorie en geskiedenis van missiologie word konkreet gemaak deur na die leefwêreld van verskeie kultuurgroepe in Afrikaverband te verwys.

PASTORALE SORG​

Pastorale sorg skenk spesifiek aandag aan die ontwikkeling van ’n volwasse geloof, ’n pastorale identiteit en ’n Christelike spiritualiteit waarin die kern van die Christelike geloof deur ’n mens se lewe en dade weerspieël word. Spesiale fokusgebiede sluit in hospitaalbediening en pastorale ondersteuning van diegene in fisiese en emosionele pyn, huweliks- en gesinsverryking, en Afrika-spiritualiteit.​​


STAWENDE DOKUMENTE
 ​​​Departmentele Vorm​ 
Aansoekproses