pgstudies
Welkom by Universiteit Stellenbosch

Nagraadse Studies​​

      Registrasie by die us​


​​​​​​​​​

GESONDHEID EN VEILIGHEID

HOSPITALE EN DIE KAMPUSGESONDHEIDSDIENS

In ’n noodgeval of indien hospitaalmagtiging vooraf bekom is, sal alle studente met voldoende mediese versekering outomaties in die privaat hospitaal op Stellenbosch (Medi-Clinic) opgeneem word. Die US se Kampusgesondheidsdiens bied ook mediese sorg teen die gidstariewe van die Mediesesraad. Die Kampusgesondheidsdiens het ’n aantal dokters wat in studente se gesondheidsorgbehoeftes voorsien. Maak asseblief ’n afspraak. 

Klik hier vir verdere inligting oor die wye verskeidenheid beskikbare dienste.

MEDIESE VERSEKERING

​Die Suid-Afrikaanse Departement van Binnelandse Sake vereis bewys van mediese dekking wat ingevolge die Wet op Mediese Skemas van 1998 by die Suid-Afrikaanse Raad vir Mediese Skemas geregistreer is, en wat jaarliks vir die duur van ’n student se studie betaal word. Bewys van lidmaatskap moet as deel van die studievisumaansoek en voor registrasie by die US voorsien word. 

Studente word aangeraai om die bepalings en voorwaardes van hulle mediese fonds sorgvuldig te lees en direk met die verskaffer te skakel. 

Let daarop dat die US nie by enige mediesefondsverskaffer geaffilieer is nie. Die Universiteit aanvaar enige mediese fonds, solank dit in Suid-Afrika geregistreer is.​​


persoonlike VERSEKERING​

Ons raai jou aan om versekering vir jou persoonlike besittings soos digitale kameras en skootrekenaars te bekom. Maak seker dat jy die voorwaardes van jou persoonlike versekering verstaan.

PERSOONLIKE VEILIGHEID​​​​

Wees verstandig oor jou persoonlike veiligheid op Stellenbosch, nes jy op enige ander plek ter wêreld sal wees. Wees straatslim in die dorp deur in ’n groep te bly en die hoofroetes te gebruik waar daar gewoonlik te alle tye van die dag of nag mense is. Dit is nie raadsaam om saans alleen te loop nie. Hou altyd jou noodkaart van die US Internasionale kantoor byderhand. 

Diefstal gebeur wel, sowel op die dorp as in universiteitsgeboue. Moenie enige waardevolle items sonder toesig laat nie. Moenie groot bedrae geld met jou saamdra nie. Gebruik ’n U-slot om jou fiets te beveilig en/of sluit jou motordeure. Alle fietse behoort ’n lig te hê met die oog op fietsry saans. Maak jou vensters toe en sluit die deure van jou blyplek wanneer jy uitgaan en in die aand.

​RISIKOBESTUUR EN KAMPUSSEKURITEIT​

Risikobestuur en Kampussekuriteit is ’n diensafdeling wat ’n veilige en ordelike omgewing vir alle studente, personeellede en besoekers help skep. Veiligheidswagte patrolleer die Universiteit se terreine en is opgelei om die universiteitsgemeenskap se veiligheid te verseker en noodbystand te bied. ​​​​​​​​​​