Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
ʼn Dag in die Lewe: Christine Groenewald
Outeur: Corporate Communications and Marketing
Gepubliseer: 16/05/2024

​Christine Groenewald, die Universiteit Stellenbosch (US) se Omgewingsvolhoubaarheidskoördineerder, is ʼn kampvegter vir groener kampuspraktyke. Haar dinamiese rol behels om die Universiteitsgemeenskap op te voed en te betrek by werksessies, geleenthede en volhoubare inisiatiewe wat ten doel het om die instelling se koolstofvoetspoor aansienlik te verklein. Ons vier Werkersdag in Mei en dra hierdie reeks profiele op aan ons personeel en hul deurslaggewende bydraes tot die US.

Wat behels jou rol by die US? 

Ek is die Omgewingsvolhoubaarheidskoördineerder: Betrokkenheid, wat deel is van die Omgewingsvolhoubaarheidspan by Fasiliteitsbestuur. My fokus is om bewustheid te skep, betrokkenheid moontlik te maak en opleidingsgeleenthede op ons kampusse te bied oor omgewingsvolhoubaarheid en die gedrag wat nodig is om ons koolstofvoetspoor te verklein.

Ek doen werksessies met personeel en studente oor besparing op nutsdienste, help om zero afval- en boomplantgeleenthede te organiseer, reël energiebesparingspraatjies, bied opleiding oor groen skoonmaakbeginsels aan, fasiliteer toere wat ons volhoubare kampus-infrastruktuur ten toon stel en skakel met media- en kommunikasiekollegas om groter bewustheid te skep.

Hoe lyk ʼn tipiese dag by die werk? 

Ek het nie ʼn tipiese dag nie – dit is soos die weer, dit verander voortdurend: soms stortreën dit en ander kere kry ek ʼn kans om die rose te ruik. Daar is baie kontak met personeel, studente en eksterne belanghebbendes deur e-posse, telefoonoproepe en vergaderings om vas te stel waar ons kan saamwerk en meer bewustheid kan skep. Die reël van werksessies en aanbiedings neem ook ʼn hap uit my dag. Sommige dae behels om werksessies te fasiliteer en aanbiedings te doen.

Nog ʼn belangrike deel van die dag is om na te dink oor wat ons gedoen het, hoe ons beter kan vaar en die proses te dokumenteer. Ek fokus byvoorbeeld in Februarie daarop om die studenteverwelkomingsprogramme te ondersteun en daardeur groter bewustheid te help skep oor hoe om te leef en studeer op ʼn manier wat die koolstofvoetspoor van ons instelling sal verklein. In die aanloop tot April bestee ek baie tyd aan die reël van die Aardeweekprogram, soos die een wat ons in die week van 22 tot 26 April gehad het.

Hoe het jou opvoeding of vorige ervarings jou vir hierdie taak voorberei?   

Ek is ʼn opgeleide wiskunde- en wetenskaponderwyser, so die skep van leerervarings was nog altyd deel van my volwasse lewe. Ek het ons drie kinders tuis onderrig en daardeur het ek die waarde geleer van leer enige tyd en enige plek, wat my gehelp het om oral geleenthede vir betrokkenheid en leer raak te sien.

My sewe jaar op die Tygerberg-kampus as ʼn personeellid in die residensiële ruimte en om deeltyds by die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe te werk het my ʼn goeie begrip gegee van hoe ʼn mens die ruimtes buite die klas vir onderwys, ervarings en opleiding kan gebruik, asook van die behoefte om omgewingsvolhoubaarheid in die kurrikulum in te sluit. Om saam met groot mentors soos prof Bob Mash en John de Wet te werk het die platform gebied om natuurlik in my huidige rol in te beweeg.

Ek het ook in ʼn gesin grootgeword wat die natuur en die buitelewe waardeer​, so dit was ʼn natuurlike oorgang om ʼn rol te speel om omgewingsvolhoubare gedrag te bevorder.

Wat geniet jy die meeste van jou rol en werk by die US? 

Ek is bevoorreg om my passie vir onderrig en die omgewing in hierdie rol te kan kombineer. En omdat die pos relatief nuut is, is daar baie ruimte vir kreatiwiteit en groei. Ek is in die gelukkige posisie dat ek vir baie van die projekte ʼn leë skilderdoek het waar ek die gewenste uitkomste kan skep. Dit gee my groot bevrediging om terug te kyk en te sien wat ons span, saam met kollegas en studente, die afgelope paar jaar bereik het.

Nog ʼn aspek wat ek geniet, is om mense van verskillende agtergronde en met verskillende denkprosesse te ontmoet en om hulle dan rondom gemeenskaplike doelwitte saam te snoer. Dit is hoekom Volhoubare Ontwikkelingsdoelwit 17 (Vennootskappe vir die doelwitte) so goed by my aanklank vind. Soos die Afrika-spreekwoord lui: 'If you want to go fast, go alone. If you want to far, go together.' Ek glo ons moet nog ʼn lang pad vir ʼn gesonde planeet stap en ons het almal se hulp en toewyding nodig om daar te kom.

Vertel vir ons iets opwindends oor jouself wat min mense sou verwag.

Miskien is dit nie so verrassend nie, maar ek is ʼn ywerige handwerker. Om nuttige items van nuuts af te skep of innoverende maniere te vind om items prakties en doelgerig te hergebruik, gee my groot vreugde en ʼn gevoel dat ek iets bereik het. Dit strook ook perfek met my lewensleuse: “Leef lig en maak limonade wanneer die lewe jou suurlemoene gee."

FOTO: Stefan Els