Welkom by die Fakulteit Teologie
Uit die Dekaanskantoor
2022 Semester 1 teaching plan - FT (10 Febr).xlsx
Language Implementation Plan 2022 Teologie Afr.docx
Theology modes of teaching for semester 1 2022.docx
Theology student protocol summary 2022 First Semester.docx
Welkom aan al ons studente in die nuwe akademiese jaar.
Waar ek grootgeword het – my voorsate kom van die Kalahari en Namakwaland –
het ons mekaar by familiesaamtrekke verwelkom met ʼn fees om die vuur. Almal het
met die voorbereidings gehelp, en dan saam die ete geniet. Ons het ure en ure
lank stories oor die ou dae om die vuur vertel terwyl die kos berei en geëet
is.
Die Fakulteit Teologie van die Universiteit Stellenbosch wil ʼn Afrika-dorp
wees waar ons, ondanks ons verskillende rolle en verantwoordelikhede, ondanks
waar ons vandaan kom, in hierdie verwelkoming deel. Mag julle ook deel daarvan
wees en dit in die nuwe akademiese jaar ervaar.
Hierdie is ‘n beduidende jaar. Vir sommige van julle is dit die eerste jaar
aan universiteit. Dalk is jy die eerste in jou familie, en jy is hier om jou
passie en roeping te volg. Jy is opgewonde, maar (dalk) ook ʼn bietjie bang. Vir
ander van julle is dit die voortsetting van ʼn reis saam met ons. En vir nog
ander is dit die laaste jaar hier – wat sekerlik ook emosioneel is. Ongeag waar
jy op hierdie reis is, kom sit saam met ons in die kring om die vuur. Deel die
verantwoordelikhede, vreugdes en uitdagings. In hierdie tuiskoms mag jy
onverwagte kragte of gawes ontdek of erken, en ook uitdagings, beperkings en
selfs foute in jouself raaksien. Jy vind dalk dat jou denke tot nou toe
ingeperk was. Jy mag by tye ontoereikend voel. Onthou dat dit aandui dat jy
groei, jy leer, jy verander. Dit is ʼn reis van ontdekking, ontwikkeling en
viering.
Daar is nog ʼn rede waarom hierdie jaar beduidend is – ons herdenk ook in
2018 die 100-jarige bestaan van die Universiteit Stellenbosch. Dit is vir ons
iets besonders om deel van hierdie ryk erfenis te wees. Ons word deel van ʼn
groter storie, en ondek ʼn sin vir identiteit, ons missie, sodat ons dit kan
vervul, of dalk, verraai. Weer eens, kom sluit aan by ons kring en speel jou
rol met ons.
As ʼn Afrika-ekumeniese fakulteit, is ons saam met jou opgewonde oor die
jaar. Mag ons as ʼn lerende gemeenskap saamwerk, mekaar uitdaag, saam groei. Mag
ons ook saam vier wat ons in onsself op hierdie reis ontdek. En soos ons by mekaar
in die kring aansluit, mag jy vind dat jy al dieper in die grond van Afrika
wortel skiet, sodat ons sterk word om vrug te dra wat komende generasies sal voed.
Dekaan: Prof Reggie Nel
Tel: 021 808 3254
E-pos: rwnel@sun.ac.za