REGLEMENT VIR DIE BEYERS NAUDé SENTRUM VIR PUBLIEKE TEOLOGIE

 

1. ALGEMEEN

​1.1.  Naam

Die Beyers Naudé Sentrum vir Publieke Teologie (hierna 'die Sentrum' genoem).

​1.2.  Status

Die Sentrum is 'n instansie vir navorsing en gemeenskapsinteraksie van die Universiteit van Stellenbosch (hierna 'die Universiteit' genoem) wat setel binne die Dissiplinegroep Sistematiese Teologie en Ekklesiologie  (hierna 'die Dissiplinegroep' genoem) en rapporteer aan die Fakulteitsraad Teologie (hierna 'die Fakulteitsraad' genoem).

​2.  DOELSTELLINGS

​2.1.  Algemene doelstelling

Om deur navorsing en gemeenskapsinteraksie kundigheid op die gebied van die rol, taak en verantwoordelikheid van teologie in die publieke arena te bevorder.

​2.2.  Besondere doelstellings

    1. Om in samewerking met kundiges binne en buite die Universiteit op projekbasis navorsing te onderneem oor aspekte van publieke teologie;
    2. Om die resultate van navorsing deur middel van nasionale en internasionale publikasies, asook deur die aanbieding van kongresse, simposia en werkwinkels bekend te stel;
    3. Om bydraes vir publikasies wat in 'n bepaalde verband tot die Fakulteit Teologie staan, te help genereer;
    4. Om, wanneer die Sentrum daartoe versoek word, op 'n kontrakbasis navorsing te doen en advies te verskaf.
    5. Om samewerking tussen die Fakulteit Teologie en die breër kerklike gemeenskappe, die ekumeniese bewegings, nasionale en internasionale navorsings- en diensinstellings, asook die openbare- en die privaatsektor, te bevorder. 
    6. Om opleiding in die vorm van kort kursusse, seminare en soortgelyke inisiatiewe aan te bied.

      3.  DIE DIREKTEUR EN ANDER PERSONEEL

      3.1.  Personeel

      Die personeel van die Sentrum bestaan uit:

    1. ​'n Deeltydse direkteur (hierna 'die Direkteur' genoem) aangestel uit die geledere van die voltydse personeel van die Fakulteit.
    2. Wanneer die Direkteur nie beskikbaar is om die take te vervul nie, wys die Dagbestuur van die Sentrum 'n waarnemende direkteur aan.
    3. Deeltydse navorsingspersoneel wat op 'n adhoc-basis aangestel word om aan besondere projekte deel te neem.
    4. Navorsings-, tegniese en administratiewe personeel soos wat die Universiteit van tyd tot tyd mag aanstel.


      3.2.  Direkteur

      Die direkteur word op aanbeveling van die Beheerkomitee deur die Fakulteitsraad vir 'n dienstermyn van drie jaar aangewys en is verantwoordelik vir:

      1. die verwesenliking van die doelstellings van die Sentrum,
      2. die onderneming en afhandeling van projekte wat deur die Beheerkomitee goedgekeur is,
      3. die administrasie van, leiding in en toesig oor die aktiwiteite van die Sentrum,
      4. skakeling met die Fakulteitsraad, Universiteit en ander instansies oor sake wat die Sentrum raak,
      5. die finansiële bestuur van die Sentrum, in oorleg met die Beheerkomitee of die Dagbestuur van die Beheerkomitee.
      6. enige ander sake wat die sentrum raak.

 

3.3       Tydelike aanstellings en vergoeding

3.3.1    Tydelike aanstellings en die vergoeding daaraan verbonde word op aanbeveling van die Direkteur van die Sentrum in ooreenstemming met heersende Universiteitsbeleid deur die Universiteit gedoen. Eise in verband met administratiewe en navorsingsuitgawes asook reis- en verblyfkoste word in ooreenstemming met heersende Universiteitstariewe uit Sentrumfondse betaal. 


      1. 4.         BEHEERSTRUKTUUR

         4.1       Direkteur

        Die Sentrum funksioneer onder leiding van die Direkteur (met verantwoordelikhede soos in 3.2 beskryf) as 'n afsonderlike instansie binne die Dissiplinegroep en beplan sy aktiwiteite in noue skakeling en medewerking met die Dissiplinegroep.

        4.2       Beheerkomitee


        Die Sentrum staan onder beheer van die Beheerkomitee wat soos volg saamgestel word:

4.2.1    die Direkteur of Waarnemende Direkteur,

​4.2.2.   die Dekaan van die Fakulteit of sy/haar verteenwoordiger,

      1. 'n Dosent in Publieke Teologie/Etiek,
      1. twee verteenwoordigers van belanghebbende departemente uit enige van die ander fakulteite van die Universiteit wat in oorleg met die Fakulteitsraad deur die Dekaan aangewys word,
      2. die voorsitters, of hul verteenwoordigers, van die Dissiplinegroepe Sistematiese Teologie en Ekklesiologie, Praktiese Teologie en Missiologie en Ou en Nuwe Testament,
      3. 'n dosent in Menswaardigheid,

        4.2.7    die voorsitter van die Teologiese Studente-vereniging of sy/haar verteenwoordiger.

        4.3.      Aanwysing van die Beheerkomitee

Die Beheerkomitee word tweejaarliks aangewys deur die Dekaan in oorleg met die Fakulteitsraad en wys uit eie geledere 'n voorsitter aan wat nie die Dekaan of die Direkteur mag wees nie.

​4.4 Verantwoordelikhede van die Beheerkomitee


      1. Die beheerkomitee is verantwoordelik vir:
      1. die bepaling van algemene beleid van die Sentrum in oorleg met die Direkteur,
      2. die evaluering en goedkeuring van nuwe projekte wat binne die Sentrum uitgevoer moet word,
      3. die monitering van bestaande projekte,
      4. die aanstelling van projekleiers en ander personeel,
      5. die finansiële beheer van die Sentrum,
      6. die aanbeveling van die jaarverslag van die Sentrum vir goedkeuring deur die Fakulteitsraad,
      7. die delegering van bepaalde bevoegdhede aan die Dagbestuur en/of die Direkteur,
      8. die beskerming van die belange van die Sentrum, die Fakulteit en die Universiteit, en
      9. die verskaffing van advies aan die Sentrum.

        ​​​4.5.      Vergaderings van die Beheerkomitee

Die Beheerkomitee vergader minstens een keer per jaar.

​4.6.      Kworum vir Vergaderings

Vir gewone besluite bestaan 'n kworum van die Beheerkomitee uit die Direkteur of Waarnemende Direkteur plus drie lede.  Vir die wysiging van die reglement bestaan 'n kworum uit die Direkteur of Waarnemende Direkteur en vier lede.

4.7.            Besluitneming

Alle besluite word met gewone meerderheid van stemme geneem.  By staking van stemme het die voorsitter 'n beslissende stem.

​4.8.            Notule

      1. Behoorlike notules word gehou van die vergaderings van die Beheerkomitee en die Dagbestuur.
      2. Die Dissiplinegroep verskaf 'n sekretaris vir die vergaderings van die Beheerkomitee en die Dagbestuur.

 

    1. 4.9 Die Dagbestuur


      4.9.1    Samestelling van die Dagbestuur

      'n Dagbestuur van drie lede, bestaande uit die Voorsitter van die Beheerkomitee, die Direkteur en een addisionele lid, word deur die Beheerkomitee uit  eie geledere aangewys.  Die Voorsitter van die Beheerkomitee tree ook as Voorsitter van die Dagbestuur op.
    2. 4.9.2     Die Dagbestuur is verantwoordelik vir:

        1. die bestuur van die Sentrum van dag-tot-dag,
        2. die afhandeling van spoedeisende sake namens die Beheerkomitee en
        3. enige ander bestuursake wat van tyd-tot-tyd deur die Beheerkomitee aan hom gedelegeer word.

​4.9.3    Vergaderings van die Dagbestuur

Die Dagbestuur vergader op versoek van die Direkteur wanneer dit kragtens die Reglement van die Sentrum nodig geag word.  Twee lede vorm 'n kworum vir die vergaderings van die Dagbestuur.

5.         PUBLIKASIES

Die Sentrum behou, in oorleg met die betrokke skrywer(s), die reg voor tot publikasie van alle resultate wat uit 'n projek van die Sentrum voortspruit.  Op voorwaarde dat die Sentrum te alle tye in sulke publikasies erken word, mag die Beheerkomitee egter goedkeur dat resultate van Sentrumprojekte elders gepubliseer word.

6.         FINANSIERING

    1. Sentrumfondse word, met inagneming van die voorskrifte van die Universiteit, verkry uit donasies, borgskappe, bemakings, produkte, vergoeding vir spesifieke projekte, kursus- en ander gelde of enige ander dienste gelewer.
    2. Die Hoofdirekteur: Finansies en Dienste van die Universiteit behartig, in oorleg met die Direkteur, die administrasie van die Sentrum se fondse.
    3. Die Sentrum se finansiële jaar stem ooreen met dié van die Universiteit.

7.         REGSBEVOEGDHEID

7.1       Die Universiteit tree as regspersoon namens die Sentrum op.

7.2       Aanspreeklikheidseise word ingevolge die toepaslike aanspreeklikheidspolis van die Universiteit hanteer.

    1. Tekenmagtiging by die aanvaarding van opdragte geskied in ooreenstemming met die geldende reëls van die Universiteit.
    2. Programme en eenhede, soos die Eenheid vir Godsdiens en Reg, word onder beskerming van die Sentrum gevestig.

      Goedgekeur deur die Senaat: 5 Desember 2001, en gewysig deur die Senaat op 7 Junie 2013.​