Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Voorste letterkundige van US vereer met Jan H Maraisprys
Outeur: Corporate Communication and Marketing / Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 28/07/2023

​Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het vandag (28 Julie 2023) aangekondig dat die vermaarde letterkundige, prof Louise Viljoen, vanjaar se optvanger is van die gesogte Jan H Maraisprys.

Dié prys van R750 000 word toegeken as erkenning vir Viljoen se bydrae tot Afrikaanse letterkunde. Dit sal later vanjaar by 'n funksie op Stellenbosch aan haar oorhandig word. Die besluit is vandag bekend gemaak deur die voorsitter van die keurkomitee, dr Johan van Zyl.

Viljoen is 'n emeritus professor in die Departement Afrikaans en Nederlands aan die US wat spog met 'n formidabele publikasierekord as literatuurwetenskaplike. Sy het sowat 60 artikels in vaktydskrifte gepubliseer; 30 hoofstukke in boeke en drie boeke en meer as 50 referate gelewer by nasionale en internasionale kongresse, heelwat as hoofspreker. Haar navorsingsfokus is die Afrikaanse letterkunde, met spesifieke verwysing na postkolonialisme, gender, identiteit, kosmopolitisme en transnasionalisme. Erkenning vir haar vakkundige bydraes in Afrikaans blyk uit haar ontvangs van onderskeie beurse, pryse en toekennings, wat insluit die Gustav Preller-prys vir Literatuurwetenskap en Literêre Kritiek van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns (2016), en die ATKV-SA Akademieprys vir die beste wetenskaplike artikel in Afrikaans (in 2012 en weer in 2019).

Viljoen sê sy was skoon uit die veld geslaan toe sy hoor sy's die ontvanger van vanjaar se Jan H Maraisprys. “Dit is vir my 'n baie groot eer dat my werk op prys gestel word. Ek is veel verskuldig aan al my kollegas en vakgenote by universiteite hier en in die buiteland wat oor die loop van baie jare my werk help vorm het. Sonder die akademiese omgewing, intellektuele vryheid en geleenthede wat die Universiteite Stellenbosch vir my gebied het, sou dit ook nie kon gebeur nie."

Prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die US, het Viljoen met haar uitsonderlike prestasie gelukgewens. “Die US gee graag erkenning aan haar reuse-bydrae tot Afrikaans as wetenskaptaal. Die US se aansienlike finansiële bydrae tot die prys getuig van ons voortgesette verbintenis tot meertalige en diverse akademiese uitnemendheid in Suid-Afrika," het hy gesê.

Die Departement Afrikaans en Nederlands is ook verheug oor Viljoen se welverdiende toekenning, het dr Amanda Lourens, Voorsitter, gesê. “Dit is wonderlike nuus vir ons. Prof Viljoen se akademiese werk is wyd bekend en binne die departement het sy 'n onskatbare rol gespeel in die uitbou van die Afrikaanse letterkunde as vakdissipline, maar ook die uitbou van Afrikaans as wetenskapstaal."

Die jaarlikse Jan H Maraisprys is in 2015 geskep deur 'n besluit van Het Jan Marais Nationale Fonds, Media24 en die Universiteit Stellenbosch. Al drie instellings het hulle ontstaan te danke aan die vêrsiende steun van Johannes Henoch Marais (1860-1915) van Stellenbosch wat saam met sy broers in die 1870's hulle fortuin op die Kimberleyse Diamantveld gemaak het. Jannie Marais was 'n groot ondersteuner van Afrikaans as 'n akademiese en literêre taal.

Die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns se keurkomitee van vooraanstaande akademici uit verskillende dissiplines het vanjaar bestaan uit proff Albert Grundlingh (Stellenbosch), Gerhard Lubbe (Stellenbosch), Ena Jansen (Amsterdam en Johannesburg), Ian Dubery (Johannesburg), Ilse Feinauer (Stellenbosch) en dr Johan van Zyl (vroeër van Pretoria en ook Sanlam).

  • Bron: Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns