Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Twee Openbare Beskermers beïndruk by Sosiale Geregtigheidslesing
Outeur: Corporate Communications and Marketing (Hannelie Booyens)
Gepubliseer: 22/02/2024

Aan die einde van hul gesprek tydens die 5de Jaarlikse Sosiale Geregtigheidslesing het die twee formidabele vroue op die verhoog van die Adam Small-teater welverdiende staande applous ontvang.

Terwyl sy vrae beantwoord het van prof Thuli Madonsela, voormalige Openbare Beskermer, het Suid-Afrika se huidige Openbare Beskermer, adv. Kholeka Gcaleka, opgemerk watter “historiese voorreg" dit vir haar is om ʼn verhoog te deel met Madonsela, tans Direkteur van die Sentrum vir Sosiale Geregtigheid (CSJ) aan die Universiteit Stellenbosch (US).

“Dit is op u moed en breë skouers dat die Openbare Beskermer steeds staan," het Gcaleka gesê.

Die moed om op teen onreg en korrupsie op te staan was ʼn deurlopende tema in Gcaleka se inspirerende lesing.

Die prestigeryke Jaarlikse Sosiale Geregtigheidslesing, wat op Maandag 20 Februarie deur die CSJ by die Fakulteit Regsgeleerdheid aangebied is, het ʼn diverse gehoor van meer as 300 mense gelok. Gcaleka het aansienlike stof tot nadenke gebied in haar toespraak getiteld “Social justice, an antidote to poverty: 30 years into democracy, what still needs to be done?"

Die Openbare Beskermer is verwelkom deur die US se Rektor en Visekanselier, prof Wim de Villiers. “Ons by die Universiteit Stellenbosch het onsself daartoe verbind om ʼn krag ten goede te wees in die transformasie van Suid-Afrika in ʼn plek van geleenthede vir almal, ʼn plek van gedeelde welvaart en ʼn plek waar daar volhoubare vreedsame naasbestaan is," het De Villiers gesê. Hy het Madonsela en haar span by die CSJ bedank vir hul belangrike werk om sosiale geregtigheid te bevorder in die belang van volhoubare ekonomiese en maatskaplike welstand en vrede.

Gcaleka het benadruk dat sosiale geregtigheid nie net ʼn morele imperatief is nie, maar diep verweef is met die nasie se reis na versoening, inklusiwiteit en volhoubare ontwikkeling.

Burger-gesentreerde regering

Met die klem op Suid-Afrika se grondwetlike verbintenis tot sosiale geregtigheid en demokrasie, het Gcaleka die belangrikheid van die evaluering van die rol van instellings soos die Openbare Beskermer oor die afgelope 30 jaar benadruk, veral in die konteks van volgehoue sosio-ekonomiese ongelykhede. Sy het die noodsaaklikheid verduidelik om die onderliggende oorsake van armoede en ongelykheid soos korrupsie, swak bestuur en ondoeltreffende dienslewering die hoof te bied.

“Hoë vlakke van armoede en ongelykheid is ʼn antitese vir die strewe na sosiale geregtigheid, het Gcaleka gesê. “Dit is ook die oorsaak van etniese en rassetwis. Boonop ondermyn dit die strewe na sosiale geregtigheid, en dus nasiebou. As dit nie aandag kry nie, kan dit die rypwording van risiko's meebring wat beide die sosiale en demokratiese bestel kan ondermyn."

Die Openbare Beskermer het die belangrikheid van burgergesentreerde regering, die bevordering van deursigtigheid, aanspreeklikheid en burgerbetrokkenheid in besluitnemingsprosesse benadruk om hierdie uitdagings aan te pak. Burgergesentreerde benaderings het ten doel om dienslewering deur die staat te verbeter, konsekwentheid tussen die verwagtinge van burgers en regeringsbeleid te verhoog, en uiteindelik vertroue tussen burgers en regeringsinstellings te kweek.

Gcaleka het gesê baie moet nog gedoen word om die sukses ongedaan te maak wat staatskapers behaal het om die politieke stelsel te korrumpeer deur die plasing van lojale individue in belangrike rolle, deur wetstoepassing te belemmer en deur sleutellede by korrupte aktiwiteite te betrek.

“Die hoofprioriteite moet nou noodwendig wees om politieke bestuur en aanspreeklikheid te herstel terwyl ons tegniese verbeterings aanbring en staatsvermoë herbou terwyl ons korrupsie beveg. Verskeie stappe is nodig om ons openbare dienslewering te herbou, onder meer die hersiening van aanstelling- en afdankingsprosedures van rekenpligtige beamptes en die verwydering van politiek uit die prosesse.

Die Openbare Beskermer se Kantoor het fondse bewillig om sy doeltreffendheid te verhoog deur sy arbeidsmag op te gradeer en wysigings voor te stel om remediërende optrede deur kriminalisering af te dwing. ʼn Meer positiewe reaksie van staatsinstellings op remediërende aanbevelings is van kardinale belang vir die implementering van hervormings en die versterking van bestuur om ekonomiese groei en werkskepping te bevorder, het Gcaleka gesê. 

Volgens haar meet sy die sukses van die Openbare Beskermer aan die verskil wat haar Kantoor in die lewe van gewone Suid-Afrikaners maak. “Terwyl alle grondwetlike wigte en teenwigte belangrik is, is dit van kritieke belang om te noem dat dit nie aan die staat oorgelaat moet word om te verseker dat ons ʼn lewende Grondwet het wat in staat is om ons kollektiewe drome en aspirasies as ʼn nasie te akkommodeer nie. Daar moet ook verstaan word dat ontwikkeling ons almal se strewe moet wees, met die staat wat hoofsaaklik ʼn instaatstellings- en reguleringsrol vervul."

Gcaleka het benadruk dat positiewe ervarings van regering onder burgers noodsaaklik is om vertroue te kweek en te verseker dat die staat sy mandaat van sosiale geregtigheid nakom. Sy het haar toespraak in Afrikaans afgesluit: “God seën Stellenbosch en die res van onse land." 

Leer kinders oor anti-korrupsie 

In reaksie op Madonsela se vraag oor wat gewone mense kan doen om ʼn etiese staat te bou, het Gcaleka gesê mense moet moed aan die dag lê. “Diegene wat korrup is en diegene wat deur wanpraktyke funksioneer, doen dit met waagmoed. Ons kan dit nie met lafhartigheid die hoof bied nie. Ons moet kinders van kleins af opvoed. Om die waarheid te sê, ons moet begin om boeke oor anti-korrupsie vir kinders te lees om te verseker dat ons onderwysstelsel rondom etiek en menslike karakter gesentreer is."

Suid-Afrikaners moet terugkeer na die basiese beginsels van Ubuntu, het sy gesê. “Die beginsel van Ubuntu sentreer rondom die menslike karakter. 'Wie is jy? Waar kom jy vandaan? Waarheen is jy as mens op pad?' Myns insiens is dit waar dit regtig moet begin."

Sy het ook ʼn beroep gedoen vir ʼn terugkeer na ʼn waardestelsel wat in gesinne gewortel is. “Ons moet ʼn waardestelsel wat uit gesinne voortspruit, ondersteun en aanmoedig. As ons nie daar begin nie, sal ons nie kom waar ons wil wees nie," het Gcaleka benadruk.

In haar slotopmerkings het Madonsela gesê dit is ʼn voorreg om te sien hoe ʼn jong Openbare Beskermer die aflosstokkie met soveel erns en toewyding oorneem. “Daardie aflosstokkie gaan daaroor om mense sonder vrees of vooroordeel te dien," het sy bygevoeg.

“Soos Nelson Mandela gesê het, dit is in ons hande en dit is presies waaraan die Openbare Beskermer ons vanaand herinner het. Ons het ʼn Grondwet wat die pad aandui. Ons moet seker maak daar is integriteit in die regering. Maar ons moet ook seker maak dat ons die dinge ophef wat ons self kan ophef. Sonder sosiale geregtigheid kan ons van stabiliteit en sosiale kohesie vergeet. Maar nog belangriker, ons kan ook van openbare vertroue vergeet." 

Madonsela het belowe dat die US seker sal maak dat studente verstaan wat die Kantoor van die Openbare Beskermer doen. “Ons gaan ook na gemeenskappe om hierdie evangelie te verkondig wat lui dat ons die mag het om te besluit wie ons sal regeer en hulle moet mense van integriteit wees. En ons het die mag en verantwoordelikheid om die res te doen," het Madonsela gesê.

  • Die Sosiale Geregtigheidslesing is deur Ashraf Garda gefasiliteer en bygewoon deur senior US-verteenwoordigers soos die Raadsvoorsitter, dr Nicky Newton-King. Belangrike gaste het ingesluit die ambassadeur van Swede, Håkan Juholt; Elita de Klerk, wat die De Klerk-stigting verteenwoordig het; die akademikus en ekonoom Khaya Sithole; Phelisa Nkomo (ekonoom en voormalige uitvoerende hoof van die Geslagskommissie); Michiel le Roux (stigter van Capitec); Futhi Mtoba, lid van die Nelson Mandela-stigting; Wayne Duvenage (uitvoerende hoof van OUTA); Waseem Carrim (uitvoerende hoof: Nasionale Jeugontwikkelingsagentskap); adv. Xolisile Maduna (hoof van litigasie, SAID); en Vuyiswa Ramokgopa (Rise Mzansi se nasionale voorsitter en Gautengse premierskandidaat).

FOTO: Marcel Kok