Transformation
Welkom by Universiteit Stellenbosch

US Transformasieplan

​​​​​​​​​​​​201.png​​​​

Inleiding en agtergrond


Die oogmerk van hierdie Transformasieplan (TP) is om die implementering en operasionalisering van die Universiteit Stellenbosch (US) se Visie 2040 en Strategiese Raamwerk 2019-2024(VSR) aan te help. Die VSR verklaar dat “modernisering, sosiale geregtigheid en die behoefte aan die fundamentele transformasie van die hoëronderwysstelsel (wat instellings self insluit)" huidig die bepalende kenmerk van hoër onderwys is, in Suid-Afrikaanse verband sowel as in die wêreldkonteks (bl. 10.) Die TP is belyn met hierdie eis van transformasie in die VSR, sowel as met die parameters wat in die transformasieplanne van die onderskeie fakulteite en omgewings vir professionele akademiesesteundienste neerslag gevind het.

Die TP word gerig deur die US se waardes:

  • Gelykwaardigheid: restitusie ten opsigte van ons erfenis uit die verlede en billikheid in ons strewes
  • Uitnemendheid: die akademiese vryheid om ingestel te wees op kennis wat aan die hoogste standaarde van integriteit, vernuwing en toepaslikheid voldoen
  • Deernis: erkenning van en besorgdheid oor die welwees van al ons studente en personeel
  • Verantwoordbaarheid: aanvaarding van die hoogste vlak van verantwoordelikheid vir ons optrede
  • Respek: beleefde onderlinge en openbare diskoers, die verskuldigde ontsag vir die vryheid, gelykwaardigheid en waardigheid van alle mense, en respek vir die omgewing (VSR, bl. 17).
Die TP put uit verskeie eksterne dokumente, onder meer die volgende:

  • die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996, met die bygaande Handves van Menseregte;
  • die Witskrif oor Onderwys en Opleiding (1995);
  • die daaropvolgende Program vir die Transformasie van Hoër Onderwys: Onderwyswitskrif 3 (1997);
  • die Wet op Hoër Onderwys 101 van 1997;
  • die Soudien-verslag van 2008 (die verslag deur die Ministeriële Komitee: Transformasie en Sosiale Kohesie en die Uitskakeling van Diskriminasie in Openbare Hoëronderwysinstellings);
  • die Durban-verklaring oor Transformasie in Hoër Onderwys (DHOO 2de Spitsberaad oor Hoër Onderwys, Okt 2015); en
  • die RGN-verslag oor Transformasie in Hoër Onderwys, 2017.

Die TP is ontwikkel binne die verband van versnelde en diepgrypender transformasie. Die afgelope paar jaar was 'n tydperk van ongekende ontwrigting en verandering in Suid-Afrika, ook aan die US. Hierdie tydperk van onstabiliteit, vergesel van die aansienlike groei wat die US die afgelope dekade beleef het, het nuwe uitdagings en geleenthede opgelewer. Die VSR wys “institusionele onstabiliteit (veral met die studenteprotes in 2015 en 2016) wat die akademiese program by etlike instellings raak, die stadige tempo van transformasie, rassisme, toegang tot die hoër onderwys, die behoefte aan 'n gedekoloniseerde kurrikulum, openbare finansiële beperkinge en sosiale kohesie in die hoër onderwys" as sleuteluitdagings uit (bl. 10). Die US se responsiewe en toekomsgerigte fokus, wat in die VSR uitgespel word, plaas die instelling in 'n gunstige posisie om ons impak te maksimeer en ons verbondenheid te vervul om inklusiewe en diverse ervarings vir ons studente en personeel te skep en sodoende hulle volle potensiaal te ontgin. Die TP is een van die meganismes wat stukrag aan hierdie strewe verleen.

By wyse van hierdie TP verbind die US sigself daartoe om “Afrika se voorste navorsingsintensiewe universiteit" te help vorm aanneem, 'n universiteit waar studente en personeel werk, leef, luister en leer, oor die toepaslikheid van ons kennis besin en nuwe kennis voortbring ten einde ons samelewing te laat aanbeweeg vanuit 'n uitsluitende verlede na 'n toekoms van sosiale geregtigheid, volhoubaarheid, vooruitgang en demokrasie. 

Oogmerke van die TP
 

  • Die TP het die volgende ten doel:
  • Koördineer, fasiliteer en bevorder transformasie as 'n ingebedde, sistemiese, inklusiewe en geïntegreerde proses en praktyk aan die US.
  • Skep sinergie in ons institusionele verstaan van wat transformasie in die praktyk aan die US behels.
  • Verskaf 'n historiese en nasionale konteks vir transformasie in hoër onderwys en die belyning daarvan met nasionale strewes.
  • Lê riglyne, beginsels en parameters vir aktiewe Universiteitswye transformasie neer.
  • Vestig 'n verslagdoenings-, moniterings- en evalueringsraamwerk wat met die VSR belyn is om van aksiestappe en vordering rakende transformasie rekord te hou.
  • Inisieer en rig die ontwikkeling van TP's in die onderskeie US-omgewings.​

​​ 

Die US transformasieplan kan hier​ besigtig word

​​​