Transformation
Welkom by Universiteit Stellenbosch

Die Krotoa Gebou

​​​Krotoa Building.png

​US noem gebou​ na Krotoa

Die RW Wilcocks-gebou van die Universiteit Stellenbosch (US) is herdoop tot die Krotoa-gebou. Dié gebou op die Stellenboschkampus is die tuiste van die departemente Geskiedenis en Sielkunde, die Afdeling Navorsingsontwikkeling, US Internasionaal, die US Argief, sowel as die Sentrum vir Navorsing oor Evaluasie, Wetenskap en Tegnologie.

Krotoa !Goa/Gõas 'Eva' van Meerhof (1642–1674), van die ||Ammaqua ​​of Water Mense (Watermans) en die Goringhaiqua het aan die Kaap geleef in die tyd van Jan van Riebeeck, wat in 1652 'n nedersetting vir die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie (die VOC) aan die suidpunt van Afrika kom vestig het. Krotoa, of “Eva" soos die Hollanders haar genoem het, het onder meer as 'n tolk en tussenganger tussen haar mense en die VOC opgetree. 

Die Uitvoerende Komitee van die US Raad (UK(R)) het die naamsverandering op 16 Augustus 2021 goedgekeur nadat die Rektoraat in Junie 'n kortlys van voorgestelde name van die Komitee vir die Naamgewing van Geboue, Lokale en ander Fasiliteite/Persele ontvang het. Nadat die saak breedvoerig bespreek en verskeie aspekte, waaronder Krotoa se komplekse persoonlike geskiedenis, in ag geneem is, het die Rektoraat die naam aan die UK(R) voorgelê. 

“Die naam Krotoa is veral betekenisvol noudat ons Vrouemaand vier. Benewens enkele koshuise het geen US-geboue tot dusver na vroue geheet nie," sê dr Ronel Retief, Registrateur en voorsitter van die Naamgewingskomitee. 

“Dit was ook vir die Rektoraat belangrik dat hoewel die naam met 'n geskiedkundige figuur verband hou, dit ook simboliese waarde het en sodoende méér as net 'n persoon verteenwoordig. Die naam Krotoa word nie net aan 'n vrou gekoppel nie, maar aan 'n ganse onderverteenwoordigde groep mense wat inheems is aan Suider-Afrika en die gebied wat ons vandag as die Wes-Kaap ken. Sodoende word terselfdertyd erkenning aan die erfenis van die Eerstenasiemense van ons streek gegee, en erken ons ook iets van ons gedeelde en komplekse geskiedenis.

“Boonop is Krotoa se rol as tolk tussen verskillende kultuur- en taalgroepe ʼn demonstrasie van brugbou, wat veral relevant is vir gesprekke oor meertaligheid, inklusiwiteit en die skep van onderlinge begrip tussen verskillende groepe mense," sluit Retief af. 

“Met hierdie naam wil ons dus 'n sterk boodskap uitstuur oor ons verbintenis tot transformasie en regstelling by die US."

Dr Leslie van Rooi, Senior Direkteur van Sosiale Impak en Transformasie, en lid van sowel die Visuele Regstelling- as Naamgewingskomitee, voeg by: “Die US erken die rol en plek van die Eerstenasiemense in die groter geskiedenis van Suider-Afrika. Die belang daarvan om die naam Krotoa aan 'n prominente gebou op kampus te koppel moet ook verstaan word teen die agtergrond van voortdurende gesprek oor die ondersteuning en formalisering van Khoekhoegowab-taalverwante kursusse by die US. 

“Die US het reeds in 2019 besluit die nuwe eetsaal van Goldfields-koshuis moet Sada Oms heet, 'n Khoekhoegowab-term vir 'ons huis'. Hierdie bykomende simboliese erkenning deur die Krotoa-gebou maak dus deel uit van ons voortgesette vennootskap en skakeling met die Eerstenasiemense van Suider-Afrika.

“Gesprekke oor die naam, ook met die gepaste Khoe-strukture, gee erkenning aan Krotoa as belangrike figuur, maar ignoreer nie haar komplekse, tragiese geskiedenis as mens nie."

Uitbeeldings binne en buite die gebou wat sowel die Wilcocks- as die Krotoa-stories kontekstualiseer, word beplan.

Proses

Die Rektoraat het reeds in 2019 goedkeuring verleen dat die Registrateur en die Senior Direkteur van Sosiale Impak en Transformasie 'n institusionele en inklusiewe proses vir die naamsverandering van die Wilcocks-gebou volg.​ 

Die proses het onderhoude met verskeie belanghebbendes ingesluit. Die Universiteit het ook meer as 100 gemeenskapsorganisasies en -instellings van die beoogde naamsverandering in kennis gestel. Dít het ingesluit die Stellenbosse Ko-bestuursforum (onder meer Die Vlakte-forum), Stellenbosch Munisipaliteit, die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (Stellenbosch), die Stellenbosse Burgerlike Voorspraaknetwerk en die Stellenbosse Belastingbetalersvereniging, wat almal in die Universiteit se Institusionele Forum dien.

'n Versoek vir vo​orstelle is in Julie 2020 gerig aan alle US-personeel en -studente sowel as gemeenskapslede (wat verteenwoordig word deur die strukture wat in die US se Institusionele Forum dien). Die Naamgewingskomitee, wat spesiaal uitgebrei is met die oog op die naamsverandering van die RW Wilcocks-gebou, het in Oktober 2020 ooreengekom oor 'n proses om 'n kortlys op te stel. Die 17 voorstelle wat ontvang is, is gevolglik tot die geskikste opsies verminder, wat aan die Rektoraat voorgelê is.

Die Rektoraat het ook versoek dat die tersaaklike belangegroepe genader word om te bepaal of daar enige teenkanting teen die gebruik van die naam Krotoa in US-verband sou wees. Die tersaaklike leiers en verteenwoordigers van die Eerstenasiestrukture het sterk steun vir die gebruik van die naam uitgespreek. 

'n Datum vir die onthulling van die nuwe naam moet nog bepaal word. Intussen sal die US se nuwe Beleid oor Visuele Regstelling in September vir goedkeuring voor die Raad dien.

Verdere inligting

Die RW Wilcocks-gebou is in 1966 in gebruik geneem, en is genoem na prof Raymond William Wilcocks, wat van 1935 tot 1954 die Universiteit se Rektor was.

Die naamsverandering van die RW Wilcocks-gebou maak deel uit van 'n langtermyn- en uitgebreide proses van visuele regstelling op die US se kampusse om nie net sekere simbole te verwyder nie, maar ook nuwe visuele simbole bekend te stel wat dui op 'n gemeenskaplike geskiedenis, ons uiteenlopende verhale, en openbare ruimtes wat almal welkom laat voel.​

Hierdie proses is 'n paar jaar gelede van stapel gestuur, en aansienlike vordering is die afgelope paar jaar gemaak om studente- en personeelvriendelike leef- en werksruimtes te skep wat in die behoeftes van 'n uiteenlopende groep studente, personeel en ander belanghebbendes voldoen, en terselfdertyd 'n verwelkomende kampuskultuur bevorder.​

​Krotoa toneelstuk

 


Die opvoering van prof Sylvia Vollenhoven se toneelstuk Krotoa: Eva van die Kaap by vanjaar se Toyota US Woordfees het aansluiting gevind by die Universiteit Stellenbosch (US) se hernoeming in 2021 van die RW Wilcocks-gebou na die Krotoa-gebou. Dit het nie net leerders, studente, onderwysers en akademici die geleentheid gegee om beter te verstaan wie Krotoa as mens was nie, maar ook om 'n beter begrip te vorm van haar verhaal en die beweegrede agter die hernoemingsproses.

Met die toneelstuk as agtergrond het hoofman Hendrik van Wyk van die Khoisan onlangs die Stellenbosch-kampus besoek as deel van die voortgesette deelnameproses wat met die kontekstualisering van die Krotoa-gebou verband hou.  

Hierdie deelnameproses word deur die Universiteit se Visuele Regstellingsbeleid gerig en bring verskeie interne en eksterne belanghebbers byeen om oor die storie, nalatenskap en impak van Krotoa op onder meer ons akademiese vakgebiede, ons navorsing en ons visuele landskap te beraadslaag.

Die Oktober-samekoms in die Krotoa-gebou is deur Khoisan-leiers, verteenwoordigers van verskeie Stellenbosse gemeenskapsforums, asook personeellede en studente van die US en ander universiteite bygewoon. Dit was die begin van die volgende fase van openbare deelnamesessies wat uiteindelik tot die beplande seremoniële opening van die Krotoa-gebou sal lei en wat deur rituele prosesse van die Khoisan gerig sal word.   

“'n Universiteit kan nooit ʼn plek wees waar mens ophou leer nie," het dr Leslie van Rooi, die US se Senior Direkteur: Sosiale Impak en Transformasie, gesê. “In hoofman Van Wyk se woorde van vanoggend: 'Niks is staties nie. Mens moet beweeg. Mens moet verander.' En dit beteken nie jy los 'n deel van wie jy is agter nie, maar wel dat jy uiteindelik jouself kan word, jou voller wese kan vind.  

"Uiteindelik, ná jare waarin hy homself van sy geskiedkundige wese weggestoot het, beweeg ons Universiteit stadig maar seker na sy ware self … hy verwesenlik homself om 'n nasionale bate te word – universeel en ook plaaslik en betrokke, terwyl hy sy stories deur die krake van sy geskiedenis deel en toelaat dat iets nuuts tot stand kom."           

Die seremonie het ook 'n betowerende voordrag van Khadija Tracey Heeger se gedig “Krotoa" deur die digter self ingesluit; 'n tipies prikkelende toespraak deur die US se prof Aslam Fataar, wat onlangs by die derde Internasionale Konferensie oor Maatskaplike Geregtigheid aan die woord was; asook ʼn hoofrede deur prof June Bam (Universiteit van Kaapstad), wat gepraat het oor die waarde van inheemse kennis wat vandag steeds deur vroue weerklink.

“Wat my betref, is ons rol om Krotoa terug te bring op ʼn manier wat wys hoe sy die veeltalige diplomaat was – en ʼn vredemaker," het Bam gesê.

Krotoa word meer as 200 keer in die vroeë Kaapse Argief genoem, meestal in die dagboeke, joernale en briewe van die VOC-kommandeurs Jan van Riebeeck and Zacharias Wagenaer. Maar dit was slegs voetnote van haar volle verhaal wat Vollenhoven tans in samewerking met die eerste nasie-mense en die breër Suid-Afrikaanse samelewing herontdek en deel.​