1920's
| Die eerste spore...
Die vestiging van die vakgebied Mikrobiologie aan die Universiteit van Stellenbosch het sy ontstaan te danke aan Plantpatologie, wat reeds in 1918 ʼn spesialiteitsgebied binne die Fakulteit Landbou was. Prof P.A. van der Bijl is in 1921 as hoof van die nuutgestigte Departement Plantpatologie aangestel. Die naam van die departement is daarna na Fitopatologie, en later na Plantsiekteleer, verander. Die eerste semesterkursus in Mikrobiologie, Inleiding tot Mikrobiologie, is kort daarna vir landboustudente ontwikkel, gevolg deur die dienskursusse Grondmikrobiologie en Huishoudkundige Mikrobiologie. | |
1950's
|
| Mikrobiologie word 'n Landbou vak
Die eerste tree na Mikrobiologie as graadkursus is in 1949 deur prof S.J. du Plessis, hoof van die Departement Plantsiekteleer, geneem. Die inleidende kursus in Mikrobiologie is uitgebou met die insluit van studiemateriaal van leerinstellings in die VSA en Brittanje. Die Mikrobiologie kursus is amptelik in 1951 as deel van die BSc graad in Landbou ingestel, met Chemie as sterk basis. Prof Hennie A. Louw, wat later Dekaan van Landbou sou word, was die eerste ingeskrewe student en verwerf in 1951 die graad B.Sc. in Landbou met Mikrobiologie as hoofvak. Hy is die daaropvolgende jaar as voltydse dosent/assistent vakkundige beampte in die Departement Plantsiekteleer en Mikrobiologie aangestel. In 1958 het hy 'n PhD in Mikrobiologie met onderskeiding aan die Universiteit van Aberdeen, Skotland behaal, en word sodoende die eerste Suid-Afrikaner met 'n doktorsgraad in dié dissipline. Prof S.J. du Plessis is in 1953 deur prof A.J. Louw as professor in plantsiekteleer opgevolg. |
1960's
| Departement word gestig
In 1961 besluit die Senaat om die vakrigtings Plantsiekteleer en Mikrobiologie te skei. Prof A.J. Louw is as hoof van Departement Plantsiekteleer aangestel en prof Hennie Louw as hoof van Departement Mikrobiologie. Onder leiding Prof Louw brei die Departement Mikrobiologie uit en sluit kursusse in grondmikrobiologie, virologie en voedselmikrobiologie in. Menere N.F. Schoombee en M.H.V. van Regenmortel is as dosente aangestel. Twee navorsers, drie gegradueerde tegnici en twee assistenttegnici is as ondersteuningspersoneel aangestel. Met die aankoop van die eerste elektronmikroskoop is mnr. J.S. Hahn, ‘n oudstudent van die Departement Mikrobiologie, na Duitsland gestuur vir opleiding en daarna as eerste elektronmikroskopis aangestel. Die elektronmikroskoop is in die Paul van der Bijl laboratorium op Welgevallen proefplaas geïnstalleer.
Mikrobiologie word 'n Natuurwetenskappe vak
Na onderhandelinge met die Departemente Botanie en Soölogie, is ʼn suiwer BSc kursus in Mikrobiologie in 1960 as ʼn interfakultêre graadkursus in die Fakulteit Natuurwetenskappe ingestel. Prof M.H.V. van Regenmortel is tot senior lektor en daarna tot professor in Virologie bevorder. Met sy aanstelling is die Departement Mikrobiologie na Departement Mikrobiologie en Virologie herdoop. Met ingang 1963 is die Honneurs BSc graad ingestel, met Mikrobiologie as een van die hoofstudierigtings. |
Navorsing kry momentum
Navorsing in die Departement Mikrobiologie en Virologie het aanvanklik op grondmikrobiologie, voedselmikrobiologie, probleemoplossing in die voedselbedryf en plantvirologie gefokus. Die personeel en nagraadse studente was sedert 1961 deel van die “Experimental Biology Group”, ʼn wetenskap besprekingsgroep van die Universiteite Stellenbosch en Kaapstad. Referate is in plaaslike vakjoernale gepubliseer en internasionaal versprei. |
1970's
| Veranderinge vanuit regeringsvlak
In 1973 besluit die Regering om die Stellenbosch Elsenburg Landboufakulteit en die Elsenburg Landboukollege te skei. | Poste is gerasionaliseer, twee departemente is gesluit en die Universiteit van Stellenbosch neem die Elsenburg Landboufakulteit in 1975 onder sy vlerk, met die Departement Mikrobiologie en Virologie daarby ingesluit. Prof M.H.V. van Regenmortel het kort daarna uitgetree en die virologieafdeling is vir ʼn kort tydperk deur dr M.B. von Wechmar van die Departement Plantsiekteleer bestuur.
Prof Mike A. Loos het prof Hennie Louw in 1975 as professor in Mikrobiologie opgevolg, nadat laasgenoemde as eerste voltydse dekaan van die Landboufakulteit aangestel is. Mnr. N.F. Schoombee is in 1975 tot senior lektor bevorder. Op daardie stadium is die Departement Mikrobiologie op die tweedevloer in die J.S. Maraisgebou gehuisves, reg langs die Landbou biblioteek en die Plantvirologie afdeling is na die Paul van der Bijlgebou op Welgevallen proefplaas verskuif. |
1980's | Mikrobiologie begin sy stempel afdruk
Die Departement Mikrobiologie beleef sedert 1980 ʼn bloeitydperk. Dr D. du Plessis is in 1981 aangestel en dr F. Sirgel kort daarna in 1984. Prof Hennie J.J. van Vuuren en mnr. Leon M.T. Dicks sluit in 1983 by die Departement aan, gevolg deur prof I.S. (Sakkie) Pretorius, dr Petro Schumann en mnr. Bernard J.H. Janse in 1987.
Met die toename in studentegetalle het die vraag na meer laboratoriumspasie toegeneem. ʼn Groot lesingsaal op die grondvloer van die J.S. Maraisgebou is in ʼn laboratorium omskep en het ook as praktiese lokaal vir voorgraadse studente gedien. In 1985 word die Landbou Biblioteek na die sentrale biblioteek verskuif en die spasie op die tweede vloer word omskep na ʼn groot laboratorium vir voorgraadse studente.
| ...
Die nuwe fasiliteit op die tweede vloer, toegerus met ʼn ingeboude outoklaaf, instap broeikamers en kouekamers, is deur Mikrobiologie en Plantpatologie gedeel. Mikrobiologie het later na die derde vloer van die J.S. Maraisgebou verhuis en navorsingsruimte met Departement Genetika gedeel.
Plantvirologie is in 1986 as studierigting afgeskaf en die Departement Mikrobiologie brei sterk uit in molekulêre mikrobiologie. Met ruim finansiële steun van Anglo American Corporation is die Instituut vir Biotegnologie gestig, met Mikrobiologie en Biochemie as die hoof afdelings en Prof Hennie J.J. van Vuuren as Direkteur van die Instituut. Die doel van die Instituut was om kursusmateriaal in biotegnologie te ontwikkel en ‘n sterk navorsingsprogram op die been te bring. Prof Sakkie Pretorius het die eerste vakkursus in Molekulêre Gisgenetika ingestel en het ʼn belangrike rol gespeel in die formulering van Afrikaanse terminologie vir hierdie nuwe vakrigting.
|
1990's
| Nuwe fasiliteite plaas Mikrobiologie in ʼn leiersposisie
Prof Hennie Louw word as Dekaan van die Fakulteit Landbou in 1991 deur prof Martin J. Hattingh, ʼn oudstudent van die Departement Mikrobiologie en ʼn personeellid van die Departement Plantsiekteleer, opgevolg en Prof W.H. (Emile) van Zyl sluit in 1992 by die departement aan. Met verdere toename in studentegetalle en personeel het daar ʼn ernstige behoefte aan navorsingsruimte ontstaan en in 1993 verhuis Mikrobiologie na die vierde vloer in die Huishoudkunde (tans Lombardi) gebou. Dr James Watson, ontvanger van die Nobelprys vir Medisyne in 1962, het die nuwe fasiliteite geopen en ontvang later dieselfde jaar ʼn US eredoktorsgraad. | Prof Hennie van Vuuren word in 1993 as departementele voorsitter aangewys en in die daaropvolgende jare het die departement tot die grootste navorsingsdepartement binne die Fakulteit Landbouwetenskappe gegroei. In 1996 is die Instituut vir Wynbiotegnologie gestig en het verskeie nagraadse studente saam met prof Sakkie Pretorius na die J.H. Neethlinggebou verhuis. Weens ʼn toenemende getal voor en nagraadse studente uit Natuurwetenskappe, het die Departement Mikrobiologie in 1997 na die Fakulteit Natuurwetenskappe (met prof Fritz J.W Hahne as Dekaan) verskuif en het groot insette gelewer tot die stigting van die Skool van Biologiese Wetenskappe.
Nadat prof Hennie van Vuuren die Departement in 1997 verlaat, dien Prof Sakkie Pretorius as waarnemende voorsitter en Me Marinda Viljoen word as lektor aangestel. Prof D.E. (Doug) Rawlings sluit in Julie 1998 as nuwe voorsitter aan, gevolg deur die aanstelling van prof B.A. (Bernard) Prior dieselfde jaar. Dr A. (Alf) Botha sluit aan by die departement in 1999, gevolg deur dr G.M. (Gideon) Wolfaardt in 2000. Op daardie stadium het die Departement Mikrobiologie uit agt dosente en 57 nagraadse studente bestaan. |
2000's
| 'n Nuwe eeu en nuwe generasie
Weens die sterk toename in studentegetalle het ʼn groter vraag na navorsingsruimte ontstaan. In Maart 2000 het Mikrobiologie na die derde vloer van die nuutgeboude J.C. Smuts Biologiegebou verhuis en deel die fasiliteite met Biochemie op die eerste vloer en Genetika op die tweede vloer. Met die instel van kursusprogramme in 2000 is die tradisionele BSc kursus met twee hoofvakke vervang, met meer uitkomsgebaseerde programme in Molekulêre en Sellulêre Biologie, Mikrobiese Diversiteit en Biotegnologie. In 2001 was daar ongeveer 510 voorgraadse en 67 nagraadse studente (28 PhD, 29 MSc, 2 MScAgric, 7 HonsBSc en 1 BScAgric IV) in die vakrigting Mikrobiologie. | Dr H.Y. (Hafizah Chenia word in 2003 aangestel en prof Gideon Wolfaardt verlaat die departement in 2004. Gedurende die periode 2000 tot 2004 handhaaf die departement ʼn besonderse sterk navorsingsprofiel en al die akademiese personeel besit oor Nasionale Navorsings Stigting (NNS) evaluerings op ʼn baie hoë gemiddelde vlak (een A, vier B’s, een C en een Y). Dr Karin Jacobs sluit in 2005 by die departement aan, gevolg deur dr Heinrich Volschenk in 2007 na die aftrede van prof Bernard Prior. Me Trudie Jansen word aangestel as junior lektor in 2008 en dr Wesaal Khan as senior lektor in Oktober 2011.
Vanaf 1999 is verskeie dosente ook ad hominem bevorder, insluitende proff. Van Zyl, Dicks, Botha, Bloom (né Viljoen) en Jacobs. Terwyl Prof Doug Rawlings in 2007 en 2008 as Dekaan Natuurwetenskappe waargeneem het, het prof Emile van Zyl as voorsitter van die departement waargeneem. Die voorsitterskap is in Januarie 2009 deur prof Rawlings hervat met die aanstelling van prof T.E. (Eugene) Cloete in 2009 as Dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe. |