Viticulture & Oenology
Welkom by Universiteit Stellenbosch

Verlengde Graadprogram

Die Verlengde Graadprogram (VGP) is ingestel om studente met bewese potensiaal, maar met ontoereikende skoolagtergrond, te ondersteun ten einde hul graadprogramme te kan bemeester. Die VGP behels dat ʼn addisionele studiejaar tot die hoofstroomgraadprogram toegevoeg word. Hierdie ekstra tyd word dan aangewend vir die aanbieding van addisionele akademiese ondersteuning as voorbereiding vir spesifieke hoofstroomvakke en vir algemene voorbereiding tot universiteitstudie.

In alle studierigtings in die Fakulteit AgriWetenskappe, behalwe die twee rigtings hieronder, behels die VGP ʼn addisionele studiejaar alvorens die student by die eerste jaargang van die gekose hoofstroomgraadprogram aansluit. Die kurrikulum van hierdie studiejaar is spesifiek ontwerp om addisionele akademiese steun te verleen en om die oorgang tussen skool en universiteit te vergemaklik. Studente moet al die modules van dié addisionele studiejaar slaag ten einde toelating tot die eerste jaargang van die hoofstroomprogram te verkry.

Vir twee van die studierigtings in die Fakulteit behels die VGP dat die eerste jaargang van die hoofstroomprogram oor twee studiejare versprei word. Hierdie reëling geld vir die studierigtings Agri-ondernemingsbestuur en Landbou-ekonomiese Analise en Bestuur. Al die voorgeskrewe modules vir hierdie twee jaar moet suksesvol voltooi word, alvorens die student tot die tweede jaargang van die hoofstroomprogram toegelaat word.

Enige student wat vir ʼn hoofstroomprogram gekwalifiseer het, kan aansoek doen vir toelating tot die betrokke VGP. Na aanleiding van skoolprestasie en/of die resultate van enige assessering of toets, ingesluit die NNT, deur die Universiteit voorgeskryf, kan ʼn student deur die Fakulteit aangeraai of verplig word om die VGP te volg.

Die minimum toelatingsvereistes vir die VGP in die programme BScAgric, BScBosb (rigting Bosbou- en Natuurlikehulpbronwetenskappe), BScBewEkol, BScVoedselwet en BAgricAdmin is:

  • ʼn Gemiddelde prestasiepunt van 60% in die NSS of die IEB-skooleindsertifikaat (Lewensoriëntering uitgesluit), of ander skoolkwalifikasie;

  • Afrikaans of Engels (Huistaal of Eerste Addisionele Taal) 4 (50%);

  • Wiskunde 4 (tussen 55% en 59,9%);

  • Fisiese Wetenskappe (Fisika en Chemie) 4 (50%); OF

  • Fisiese Wetenskappe (Fisika en Chemie) 3 (tussen 45% en 49,9%), en Lewenswetenskappe 4 (tussen 55% en 59,9%) of Landbouwetenskappe 5 (tussen 60% en 69,9%);

  • NNT tussen 33% en 47%.

Die minimum toelatingsvereistes vir BScAgric met Grondkunde en Chemie as hoofvakke:

  • ʼn Gemiddelde prestasiepunt van 60% in die NSS of die IEB-skooleindsertifikaat (Lewensoriëntering uitgesluit), of ander skoolkwalifikasie;

  • Afrikaans of Engels (Huistaal of Eerste Addisionele Taal) 4 (50%);

  • Wiskunde 5 (tussen 60% en 69,9%);

  • Fisiese Wetenskappe (Fisika en Chemie) 4 (50%); OF

  • Fisiese Wetenskappe (Fisika en Chemie) 3 (tussen 45% en 49,9%), en Lewenswetenskappe 4 (tussen 55% en 59,9%) of Landbouwetenskappe 5 (tussen 60% en 69,9%);

  • NNT tussen 33% en 47%.

Die minimum toelatingsvereistes vir die VGP vir die studierigting Hout- en Houtprodukkunde is:

  • ʼn Gemiddelde prestasiepunt van 60% in die NSS of die IEB-skooleindsertifikaat (Lewensoriëntering uitgesluit),of ander skoolkwalifikasie;

  • Afrikaans of Engels (Huistaal of Eerste Addisionele Taal) 4 (50%);

  • Wiskunde 5 (tussen 60% en 69,9%);

  • Fisiese Wetenskappe (Fisika en Chemie) 4 (50%);

  • NNT tussen 33% en 47%.

Studente wat die VGP wil of moet volg, sal van volledige inligting aangaande die struktuur en kurrikulum daarvan voorsien word. Hierdie inligting kan ook van die Fakulteitsekretaris (tel. 021 808 9111) aangevra word.