Gesondheid en Leierskap

Die kortkursus Gesondheid en Leierskap (GesondUS) beoog om ’n ruimte te bied waar studente ’n begrip van die gesondheidsorgstelsel kan ontwikkel as weerspieëling van die breër politieke en sosio-ekonomiese historiese ontwikkelings in Suid-Afrika en wêreldwyd. Deelnemers word ingelig oor en toegerus met voldoende kennis en vaardighede om die veelvlakkige terrein van gesondheid, gesondheidsorg en persoonlike welstand as aspirantleiers te navigeer. Die grondslag van die kursus is ’n sterk gerigtheid op sielkundige sowel as fisieke gesondheid. Deelnemers sal dus omvattende blootstelling aan wêreldbeskouings rakende gesondheid en gesondheidsorg kry en ’n begrip vorm van die veelvoudige dimensies van selfsorg in die professionele én die persoonlike sfeer. Die kursus stel deelnemers in staat om krities te dink oor faktore wat die samelewing se persepsies van gesondheid beïnvloed, en oor hulle rol as agente van verandering wat die opvoedkundige aspekte van gesondheid en persoonlike welstand betref.


Vir meer inligting, stuur 'n e -pos aan ​ fvzs@sun.ac.za.