Alumni
Welkom by Universiteit Stellenbosch

Russel Botman Beursfonds

​​Wyle prof Russel Botman was passievol oor die skep van geleenthede vir verdienstelike studente om toegang tot hoër onderwys te verkry. En dit is hierdie nalatenskap wat die Universiteit Stellenbosch (US) voortdurend wil eer – met jou hulp.Russel_Botman.jpg

Prof Botman het dié Beursfonds op sy 60ste verjaardag op 18 Oktober 2013 gestig toe hy gaste gevra het om in plaas van geskenke liewer ʼn skenking aan die fonds te maak. Hierdie Beursfonds gee nou aan elkeen van ons die geleentheid om sy droom van 'n beter toekoms vir die volgende generasie, 'n werklikheid te maak.
Prof Hayman Russel Botman het nie net 'n positiewe verskil in Stellenbosch gemaak nie. Hy was hoogs aangeskrewe in hoër onderwys kringe regoor die wêreld. 

Die US het eer betoon aan prof Botman se nalatenskap van versoening, menswaardigheid en sosiale geregtigheid toe 'n senior koshuis op die Stellenbosch-kampus na hom vernoem is. Die koshuis, Huis Russel Botman House, is amptelik in 2015 op Menseregtedag - 21 Maart - geopen. Die Fakulteit Teologie het ook in 2015 die eerste jaarlikse Russel Botman-gedenklesing gehou.

Prof Botman was halfpad deur sy tweede termyn as Rektor en Visekanselier van die US toe hy op 28 Junie 2014 in sy slaap oorlede is. Hy is in 2007 in dié amp aangestel, en in 2012 heraangestel vir nog 'n 5-jaar termyn.

Ten tye van sy dood was hy ook Senior Visepresident van die Vereniging van Afrika-universiteite, Raadsvoorsitter van Kaapstad as Wêreldontwerphoofstad 2014, en 'n Direksielid van Hoër Onderwys Suid-Afrika en van Media24. Hy het ook van 2006 tot 2011 as Direksievoorsitter van die Klein-Karoo Nasionale Kunstefees gedien.

 Hy is op 18 Oktober 1953 in Bloemfontein gebore, en was as laerskoolkind in die Dr Blok-skool in Heidedal. Hy matrikuleer aan die Kliptown Senior Sekondêre skool in Johannesburg, waarna hy sy studies aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) voortsit. Hy verwerf die grade BA (1978), BTh (1979), BTh Lisensiate (1981), MTh cum laude (1984) en DTh (1994).

 As lid van UWK se Studenteraad in 1976, die jaar van die Soweto-opstand, het hy sy medestudente in protes teen apartheid gelei.

Hy is in 1982 as predikant van die destydse NG Sendingkerk georden, en dien van 1982 tot 1993 as leraar in Wynberg. Hy sou 'n sleutelrol speel in die totstandkoming van die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika, en was enduit 'n sterk voorstander van eenheid in die NG Kerkfamilie.

 In 1994 word hy as Senior Lektor in Praktiese Teologie by UWK aangestel, en in 1999 word hy tot Medeprofessor en Dekaan van die Fakulteit Godsdiens en Teologie bevorder. In 2000 word hy as Professor in Praktiese Teologie en Missiologie aan die US aangestel.

 In 2002 word hy Viserektor: Onderrig, 'n pos wat hy beklee tot sy historiese aanstelling as die US se eerste swart Rektor en Visekanselier in 2007. Hy het ook van 2003 tot 2007 as President van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke gedien, en het talle akademiese en populêre artikels oor menseregte, versoening, menswaardigheid en maatskaplike geregtigheid gepubliseer.
 
Die titel van sy inhuldigingstoespraak aan die US in April 2007 was "'n Multikulturele universiteit met 'n pedagogie van hoop in Afrika", en hy het gesê hy sou hom daaraan toewy om die US se uitgesproke verbintenis tot regstelling en ontwikkeling in die praktyk te verwesenlik. In 2010 stuur hy die US se HOOP Projek van stapel, waardeur die Universiteit ontwikkeling in die samelewing bevorder. In 2013 aanvaar die Universiteit onder sy leiding 'n nuwe Visie 2030, wat daarop gemik is om die instelling meer inklusief, innoverend en toekomsgerig te maak.
 
In Maart 2014 het hy 'n eredoktorsgraad, Doktor in die Lettere, van Hope College in die VSA ontvang vir leierskap in die hoër onderwys en die gereformeerde kerk om geregtigheid vir alle Suid-Afrikaners te bevorder. In April 2013 het hy die Abraham Kuyper-prys van die Princeton Theological Seminary in die VSA ontvang vir uitnemendheid in teologie en die openbare sfeer. Hy het ook erelidmaatskap van die Verenigde Nasies Vereniging van Suid-Afrika ontvang vir die bevordering van die Millennium Ontwikkelingsdoelwitte. En op 8 Julie 2014 het sy weduwee 'n eredoktorsgraad, Doktor in die Regsgeleerdheid​, van die Universiteit van Aberdeen in Skotland namens hom ontvang.
 

Maak 'n skenking ​aan die  RUSSEL BOTMAN BEURSFONDS

BANKStandard Bank
TAKStellenbosch
TAKKODE 05 06 10
REK-NAAMUniversiteit Stellenbosch 
REK-NR 073006955 (gebonde)
​VERWYSING​
H733; voorletters en van