Student Affairs
Welkom by Universiteit Stellenbosch

 

FVZS LiC.png​​​​

Die Leierskap in Konteks- (LiC-)program word deur die Abe Bailey Trust geborg en is in 2018 ingestel om jong leiers aan Suid-Afrikaanse hoëronderwysinstellings met mekaar in kontak te bring ten einde breër skakeling oor leierskap te bewerkstellig en om die hiërargiese konstruk van leierskap in hoëronderwysmilieus uit te daag. Die LiC beklemtoon die vereistes vir leierskap in konteks, en bied jong leiers blootstelling aan die geleenthede en uitdagings van verskillende studenteleierskapomgewings. Verantwoordbare leierskap bly ’n sleuteltema.


Wat is die LiC?​

Die LiC-program is 'n maand lange aanlyn leierskapsaanbod wat ontwikkel is om jong leiers in Suid-Afrika geleentheid te gee om te besin en gedagtes uit te ruil oor hulle persepsies van leierskaprolle, hoe sulke rolle binne die hoëronderwysomgewing gekonstrueer word en hoe dit leierskap in Suid-Afrika en wêreldwyd beïnvloed. Die kernvraag wat ondersoek word, is: Hoe kan jong leiers op persoonlike vlak daartoe bydra dat die manier waarop persepsies oor leierskap gevorm en ervaar word, verander sodat dit sal help om leiers vir die 21ste eeu te ontwikkel?


Metodologie

Net soos die LSAL is die LiC ’n maand lange aanlyn program in drie fases wat deur personeel en studente ontwikkel is om die ontwikkeling van leiers in die hoëronderwysmilieu samewerkend te herbedink en uit te werk. Kollegas uit vennootinstellings dra ook tot die program by om te verseker dat verskillende leierskapskontekste ondersoek word. Fase 1 bestaan uit aanlyn materiaal wat die studente vooraf moet bestudeer ter voorbereiding op fase 2, wat die LiC-dag van byeenkoms is en wat paneelbesprekings en omgang in wegbreeksessies behels. Fase 3 behels ’n deurvoeringsfase waartydens studente hulle doelstellings met verwysing na hulle spesifieke konteks moet ondersoek. Die program is aan die hand van die teorie van verandering gekonseptualiseer ten einde die omgewing te ondersoek en aannames uit te daag met die oog daarop om ’n omvattende doelwitverklaring op te stel. Die ontwerpproses behels ook die toepassing van die metodologiese benadering bekend as waarderende ondersoek, wat daarop ingestel is om uit te wys wat goed in die omgewing werk en hoe om op gevestigde grondslae voort te bou. Deur paneelbesprekings en wegbreeksessies te gebruik, bied die LiC ’n ruimte vir kruisinstitusionele omgang en word oor leierskap nagedink teen die agtergrond van die breër, nasionale leierskapskonteks en hoe dit leierskap aan die US en leierskap vir die 21ste eeu beïnvloed. Die temas wat telkens in hierdie aanbod ter sprake kom, is onder meer leierskap in konteks, hoe om vooroordele die hoof te bied, relasionele en verantwoordbare leierskap.


Erkenning​

Die LiC word as ’n geregistreerde opleidingsgeleentheid aan die US erken, en studente kry erkenning daarvoor op hulle akademiese rekord.


 ​