Curriculum Studies
Welkom by Universiteit Stellenbosch

Argief Nuus

DIE VERLEDE ​IN KONTEKS

​Outeur: Prof. Michael Le Cordeur                                                                                                                                          Gepubliseer: 02/08/2018

Daar is kommer dat die jeug wegdryf van die ANC se struggle-geskiedenis en dat dít die rede is waarom die minister van basiese onderwys teen 2025 Geskiedenis verpligtend wil maak vir leerders van graad 10 tot in graad 12, hoewel dit reeds ʼn verpligte vak is as deel van Sosiale Studies tot in graad 9.  Dit sal die huidige verpligte Lewensoriëntering vervang.

Ek stem saam dat dit van groot belang is dat ons jeug vertroud moet wees met ons geskiedenis. Dit bou karakter en dra by tot gesonde verhoudinge tussen Suid-Afrikaners, gegewe ons verdeelde verlede. Met die beginsel het ek dus geen probleem nie; trouens ek verwelkom die idee.

Maar met dié voorbehoud: Geskiedenis as vak is al jare lank ʼn omstrede onderwerp in Suid-Afrika. Karl Marx het gesê dat mense hul eie geskiedenis skryf, elkeen vanuit sy eie lewensbeskouing en dikwels vanuit die perspektief van die heerser van die tyd. In daardie opsig kan dit nie ontken word nie dat die geskiedenis wat voor 1994 in skole gepredik is, problematies was omdat dit geskryf was vanuit ʼn Christelik Nasionalistiese perspektief. Daarteenoor kon die nuwe regering nog nie werklik daarin slaag om reg te laat geskied aan die land se volledige geskiedenis nie.

GEBALANSEERD

Sommige kommentators pleit dat ons die pre-1994 geskiedenis agter ons sit en aangaan met ons lewe. Dit is ongelukkig nie so maklik nie. Volgens die historikus Walter Mignolo (2014) is diegene wat in die verlede ander gekategoriseer het, geneig om te wil vergeet, terwyl diegene wat in die verlede geklassifiseer is, selde kan vergeet. Daarom moet dit die volledige en gebalanseerde geskiedenis wees waarmee elke Suid-Afrikaner kan identifiseer.

Volgens die verslag van ʼn ministeriële taakspan wat op 30 Mei bekend gemaak is, is 13 lande se kurrikula bestudeer. Dit sluit in Suid-Afrika se BRICS-vennote (Brasilië, Rusland, Indië en China) en lande wat Afrika-denke bo Westerse denke wil bevorder, soos Rwanda, Nigerië, Zimbabwe en Tanzanië.

Deel van die balans waarna ek hierbo verwys, is dat daar myns insiens plek is vir beide denkwyses. Een van die beginsels van die nuwe kurrikulum wat sedert 2012 gevolg word, is juis dat die nuwe geslag opgevoed word sodat hulle bestaande lewensbeskouings krities kan beoordeel ten einde selfstandige besluite te kan neem.

Volgens die minister moet Geskiedenis verpligtend wees om “positiewe aspekte by leerders te kweek soos nasiebou, patriotisme, kulturele erfenis en sosiale samehorigheid”. Hierdie waardes is egter reeds vervat in die Kurrikulum Assesseringsbeleidsverklaring (KABV), wat gebaseer is op beginsels soos sosiale transformasie, geregtigheid, kritiese leer, menseregte, inklusiwiteit, diversiteit, en ʼn waardering vir inheemse kennissisteme. 

Voorts streef die KABV-kurrikulum daarna “om leerders, ongeag hul sosio-ekonomiese agtergrond, ras, geslag, fisiese of intellektuele vermoë, toe te rus met die kennis, waardes en vaardighede wat nodig is vir selfvervulling en betekenisvolle deelname in die samelewing as burgers van ʼn vrye land”.

Leerders moet probleme kan identifiseer en oplos, besluite neem deur kritiese en kreatiewe denke, doeltreffend saam met ander as ʼn span kan saamwerk, hulself verantwoordelik bestuur, inligting krities ontleed, en sensitief wees vir kwessies soos armoede, ongelykheid, taal en gestremdhede.

LEWENSORIËNTERING

Ek stem saam dat entoesiasme by leerders gekweek moet word vir hul eie geskiedenis. Maar is dit nie juis wat Geskiedenis in Graad 9 beoog nie? Volgens die KABV het Geskiedenis in Graad 9 ten doel dat leerders begrip en waardering sal hê vir die verlede en die kragte wat dit vorm, om iets wat in die verlede gebeur het vanuit meer as een oogpunt te beskou, en om te begryp waarom gebeure uit die verlede soms verskillend geïnterpreteer word.

Baie van die waardes waarna die minister verwys, word reeds in Graad 9 aangespreek. Dit sluit in demokrasie (ons verdeelde verlede, ons verenigde toekoms, eenheid en diversiteit, trots Suid-Afrikaans, menseregte en vroueregte) en politiek (Suid-Afrika en die wêrelddorp, Suid-Afrika se rol in Afrika, en die Verenigde Nasies).

Dikwels het dit die teenoorgestelde effek as die vak verpligtend gemaak word – leerders ontwikkel ʼn afkeer daarin.

Ek huldig ook die mening dat leerders in die VOO-fase op hul loopbaankeuses moet fokus, ʼn aspek wat deur Lewensoriëntering aangespreek word. Daarom is dit vir my problematies dat Lewensoriëntering afgeskuif word ná Graad 9. Vrae wat ontstaan, is: Waarom is dit in die eerste plek ingestel? Het die vak ná 24 jaar van demokrasie skielik nutteloos geword? Word alles nou by die venster uitgegooi? Was skole onsuksesvol om die doelwitte van die vak tot sy reg te laat kom?

Indien ondersoek ingestel is, is die minister dalk reeds bewus van die volgende gebreke:

  • Lewensoriëntering word dikwels deur meer as een onderwyser aangebied, sonder enige koördinering.
  • Die vak word in matriek nie ekstern geëksamineer nie en dus nie in berekening gebring vir die leerder se algehele punt nie.
  • Dit vorm nie deel van die kriteria vir toelating tot hoër onderwys nie.
  • Dikwels dwaal leerders buite die klas rond terwyl hulle veronderstel is om vir die werkplek of tersiêre onderwys voor te berei.

Waar die vak toevertrou word aan een spesialisonderwyser, is die verskil opmerklik. Neem jy Lewensoriëntering weg, ontneem jy leerders se enigste voorbereiding vir die arbeidsmark of tersiêre onderwys soos uitgespel in die volgende doelwit van die KABV: “om toegang tot hoër onderwys te verkry en om leerders se oorgang vanaf onderwys-instellings na die werkplek te fasiliteer”.

QUO VADIS?

My voorstel is dus eenvoudig: Versterk die inhoud van verpligte Graad 9-geskiedenis om voorsiening te maak vir die minister se verwagtinge. Dis die minste ontwrigting.

Ditto vir Lewensoriëntering: Maak die nodige aanpassings indien daar tekortkominge is. Stel slegs gekwalifiseerde Lewensoriëntering-onderwysers aan en laat leerders eksterne eksamens aflê. So kan die vak herleef en die minister se doelwitte aangespreek word.

Ten slotte: Leerders moet begelei word sodat hulle uit die geskiedenis kan leer om nie dieselfde foute van die verlede te maak nie. Hiertoe kan ʼn Geskiedenis-onderwyser wat sy of haar sout werd is, ʼn belangrike rol speel.

  • Prof Michael le Cordeur is voorsitter van die Departement Kurrikulumstudie in die Fakulteit Opvoedkunde.

Maths.jpg​​​

Wiskunde-onderwysers sukkel met Engels

Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie [Alec Basson]

Gepubliseer: 28/03/2018​

Graad 4 tot Graad 7 (Intermediêre Fase) wiskunde-onderwysers in Oos-Kaapse skole met beperkte hulpbronne sukkel met Engels, die taal waarin hulle veronderstel is om te onderrig, en hul kennis van wiskunde is nie op standaard nie.

Dit is een van die bevindings van 'n onlangse studie aan die Universiteit Stellenbosch (US).

“Wiskunde-onderwysers in die Intermediêre Fase sukkel om Engels baas te raak en dit het ʼn negatiewe impak op die gehalte van wiskunde-onderrig," sê dr Lindiwe Tshuma, 'n navorsingsgenoot aan die US en 'n spesialis in primêre wiskunde by die African Institute for Mathematical Sciences Schools Enrichment Centre (AIMSSEC) in Muizenberg.

“Data toon dat hoewel sommige onderwysers ʼn poging aanwend om in Engels te onderrig en leerders se vermoë in dié taal te verbeter, dit nie op gereelde grondslag plaasvind nie," voeg sy by.

Tshuma, wat onlangs haar doktorsgraad in Kurrikulumstudie van die US verwerf het, het probeer om die verband tussen Intermediêre Fase-onderwysers se taalvaardighede en wiskunde-onderrig by Oos-Kaapse laerskole met beperkte hulpbronne te ontleed. Sy sê haar werk onder wiskunde-onderwysers in Oos-Kaapse laerskole met beperkte hulpbronne was die dryfveer agter haar navorsing.

“Hierdie onderwysers is dikwels glad nie spesialiste nie en moet wiskunde onderrig weens die tekort aan gespesialiseerde wiskunde-onderwysers op laerskoolvlak veral in skole met beperkte hulpbronne wat nie beter gekwalifiseerde onderwysers kan lok en behou nie."

As deel van haar studie het Tshuma gebruik gemaak van Engelse taalvaardigheidsassesserings, assesserings oor probleme rakende wiskundige konsepte, vraelyste, onderhoude, en ook waarnemings oor wat in klaskamers gebeur. Beide wiskunde-onderwysers in die Intermediêre Fase en hul opvoeders by verskillende universiteite in die land het aan die studie deelgeneem.

Tshuma1.png

Sy het onderwysers se vaardigheid in Engels getoets deur middel van gestandaardiseerde Engelse Taalvaardigheidsassesserings wat by vyf verskillende Suid-Afrikaanse universiteite geloods is. Hierdie assesserings het onderwysers se begrip van Engels getoets, terwyl die assessering oor probleme rakende wiskundige konsepte probeer bepaal hoe hulle Engels aanwend om dié probleme op te los.

Tshuma sê die studie het getoon dat 'n onderwyser se bevoegdheid in Engels inderdaad verband hou met hoe wiskunde-inhoud aan leerders oorgedra word.

“Onderwysers wat die onderrigtaal baasraak, is in 'n beter posisie om nuwe konsepte aan hul leerders te verduidelik en geleenthede vir die aanleer van die taal met betrekking tot die lewering van wiskunde-inhoud te skep."

“Andersyds kan onderwysers wat sukkel met die onderrigtaal leerders nie help om basiese lees- en skryfvaardighede te verrig of om wiskundige begrippe in hul eie woorde te verduidelik nie; vaardighede waardeur wiskundige inhoud dikwels geassesseer word."

“Die studie beklemtoon onderwysers se bevoegdheid in die onderrigtaal as een van die belangrikste aanwysers van wiskundige prestasie. Dit is veral belangrik aangesien die land se inheemse tale nog nie ten volle ontwikkel is om wiskunde-onderrig te steun nie."

Taalkundig swak opgelei

Tshuma sê instellings wat onderwysers oplei doen nie genoeg om wiskunde-onderwysers in die Intermediêre Fase taalkundig sodanig voor te berei dat hulle Engels as onderrigtaal kan gebruik nie.

“Dit is alle opvoedingsdepartemente by universiteite sowel as ander instellings wat onderwysers oplei se plig om wiskunde-onderwysers in die Intermediêre Fase se Engelse taalvaardigheid te ontwikkel en te verbeter."

“Een van die maniere om die gehalte van wiskunde-onderrig in die Intermediêre Fase te verbeter is om in onderwysers se taalkundige vermoë te belê  vanaf die aanvanklike onderwysopleidingskurrikulum tot by deurlopende professionele onderwyserontwikkelingsprogramme. Onderwysers kan nie alleen hierdie leemte in wiskunde-onderrig vul nie; hulle benodig die ondersteuning van onderwyseropleidingsinstellings en ander belanghebbendes in die onderwys."

“Onderwysers moet toegerus wees met die nodige vaardighede oor hoe om nuwe inhoud deur taal te leer."

“Bevoegdheid in Engels is nodig vir onderwysers om hoë gehalte wiskunde-onderrig in dié taal te lewer. Maar dit mag egter nie voldoende wees nie. Hulle benodig ook kennis oor inhoud, kennis oor pedagogiese inhoud en spesifieke kennis oor hoe om wiskunde aan Engelse leerders te onderrig."

Tshuma wys daarop dat slegs 1 uit die 10 onderwyseropleidingsinstellings wat aan die studie deelgeneem het, modules verskaf het wat op die gebruik van Engels as onderrigtaal fokus, maar ongelukkig word die modules op magistersvlak aangebied. Sy sê die meeste onderwysers in skole met beperkte hulpbronne sal dit egter nie bereik het teen die tyd dat hulle by skole ontplooi word nie.

Tshuma voeg by dat Engels 'n vreemde taal is vir die meeste onderwysers wat dit as onderrigtaal gebruik en die feit dat ons huidige Beleid oor Taal in Onderwys vereis dat hulle Engels in die klaskamer gebruik beklemtoon die belangrikheid van hoë vlakke van Engelse taalvaardigheid. Die minimum vereistes vir onderwyseropleidingskwalifikasies vereis dat onderwysers in die Intermediêre Fase ten minste oor addisionele taalvaardigheid in Engels beskik. 

“Die antwoorde van onderwysers in die assessering oor Engelse taalvaardigheid en dié oor probleme rakende wiskundige konsepte het egter grammatikale en idiomatiese foute uitgewys. My studie kom dus tot die gevolgtrekking dat addisionele taalvaardigheid in die onderrigmedium nie goed genoeg is vir 'n wiskunde-onderwyser in die Intermediêre Fase nie."

Tshuma is bekommerd dat indien die status quo bly soos dit is, onderwysers se swak taalvaardigheid en begrip van wiskundige inhoudskennis waarskynlik van onderwyser na leerder oorgedra sal word.

“Miskien moet ons vra wie die nasie in die steek laat: is dit onderwysers wat die leerders in die steek laat of is dit opvoeders wat onderwysers in die steek en laasgenoemde wat op hulle beurt dit aan leerders doen?"

“Dit gaan nie oor die verheffing van Engels bo ander amptelike landstale nie. Daar is egter 'n behoefte om voorsiening te maak vir Engelse leerders wat vandag in die onderwysstelsel is en wat in Engels onderrig en geassesseer moet word, soos bepaal deur die huidige onderwysbeleid."

Tshuma sê sy hoop haar studie sal ʼn wesenlike bydra lewer tot die huidige debat oor taalgebruik in die onderwys en om bewustheid onder diegene wat die kurrikulum vir onderwysersopleiding ontwikkel te kweek sodat onderwysers se bemeestering van die onderrigtaal geprioritiseer word vir die oordrag van betekenisvolle inhoud in klaskamers met beperkte hulpbronne.

·         Hooffoto: Pixabay

·         Foto 1: Dr Lindiwe Tshuma in haar kantoor.

SLEGS VIR MEDIANAVRAE

Dr Lindiwe Tshuma

African Institute for Mathematical Sciences Schools Enrichment Centre

Muizenberg

Tel: 0217879265

E-pos: lindiwe@aimssec.ac.za

      UITGEREIK DEUR

Martin Viljoen

Bestuurder: Media

Korporatiewe Kommunikasie

Universiteit Stellenbosch

Tel: 021 808 4921

E-pos: viljoenm@sun.ac.za ​


Afrikaans en Xhosa 'n toonbeeld van meertaligheid

Die Departement Kurrikulumstudie is baie trots op 'n spesiale projek by vanjaar se US Woordfees waar Afrikaans en Xhosa behoorlik 'n fees van WOORDE gaan hê. Volgens die voorsitter van die departement, prof Michael le Cordeur wil die projek bewys dat Afrikaans en isiXhosa nie net baie gemeen het nie, maar dat die twee tale kan saamspan om die ideaal van meertaligehid aan die US te versewenlik.  Met 'n molo en 'n goeiemôre gaan feesgangers nie net dié twee tale saam in produksies soos Gif/Poison/Ityhefu sien nie, hulle gaan ook van 'n nuwe projek hoor: die #Amagama Projek. 

Feesgangers gaan oor die 10 dae kans kry om 100 Xhosa woorde te leer - dis 10 per dag!

Volgens Jana Nel, projekbestuurder en deeltydse dosent aan die opvoedkundedepartement, is dit 'n opwindende projek. "Dit streef daarna om taalgrense sowel as kultuurgrense oor te steek deur wedersydse begrip en respek te toon. Wanneer mense na mekaar kan uitreik deur mekaar in hul moedertaal te groet, te vra hoe dit gaan en totsiens te sê, maak dit reeds 'n baie groot verskil." Nel is Dinsdagmiddag die gas in die Spektrum-ateljee van RSG by die Plataan-kafee.

Daar gaan ses #Amagama-stalletjies in die hart van die dorp wees. Twaalf onderwysstudente (Xhosa- sowel as Afrikaanssprekend met Xhosa as hoofvak) gaan feesgangers help om die woorde te leer en reg uit te spreek. 

"Hulle sal ook ondersteuning bied met die uitspraak van die drie bekende klikklanke in die Xhosa-taal."

Die studente, wat blou hemde sal dra, gaan elke dag op die volgende plekke wees:

- Erfurthuis, Ryneveldstraat 37

- By die pendeldiens in Ryneveldstraat

- H.B. Thom-teater

- Konservatorium

- Bloekomhoek

- Plataan-kafee (agter die Sasol-kunsmuseum) 

Wil jy 'n voorsprong hê?

Leer solank die volgende 10 isiXhosa-woorde:

1. Molo/Molweni - groetvorm (enkelvoud en meervoud)

2. Unjani?/Ninjani? - Hoe gaan dit? (enkelvoud en meervoud)

3. Ndiyaphila - Dit gaan goed met my 

4. Manene namanenekazi - dames en here

5. Mnandi - lekker

6. Iphi indlu yangasese? - Waar is die badkamer?

7. Umnyhadala - fees

8. Iplasi lewayini - wynplaas

9. Amanzi - water

10. Imini emnandi - lekker dag

Bron: Liani Jansen van Rensburg van SARIE: https://www.netwerk24.com/SARIE/​

https://www.netwerk24.com/Sarie/Ons-Lewe/Hieroor-Praat-Mense/afrikaans-en-xhosa-het-dit-gemeen-20180301​

Amagama1.jpgAmagama2.jpgAmagama4.jpg 

IMG-20180309-WA0026.jpg

Aanlyn-vakwoordeboek bevorder meertaligheid

Mobilex.jpg 
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie [Alec Basson]​

Op 21 Februarie word Internasionale Moedertaaldag gevier om onder meer die belangrikheid van taaldiversiteit en meertaligheid in die skep van volhoubare samelewings te beklemtoon.

As ʼn meertalige instelling neem die Universiteit Stellenbosch (US) deel aan hierdie vieringe en doen dit alles moontlik om te verseker studente uit verskillende taalagtergronde is suksesvol in hul studies. Meertaligheid help ook om toegang tot die US te verbreed.

Een van die maniere waarop meertaligheid bevorder word is deur die web-gebaseerde vakwoordeboek MobiLex wat studente help om konsepte wat in hul onderskeie vakke gebruik word beter te verstaan. MobiLex verduidelik vakterminologie aan studente in Afrikaans, Engels en isiXhosa.

“Met die MobiLex-projek val die klem op meertaligheid, maar terselfdertyd op die ontwikkeling en uitbou van isiXhosa se vakwoordeskat vir gebruik in skole en op universiteite," sê Dr Michele van der Merwe van die US se Departement Kurrikulumstudie en bestuurder van die projek.

MobiLex word tans in die Fakulteite Opvoedkunde en Teologie aangewend en sal later na Ekonomiese & Bestuurswetenskappe, Lettere en Sosiale Wetenskappe, en Natuurwetenskappe uitgebrei word. In 2017 het die Departement van Kuns en Kultuur R1,52 miljoen oor drie jaar bewillig om MobiLex in eersgenoemde twee fakulteite te bevorder.

In die Fakulteit Teologie behels die huidige prosesse die ontwikkeling van terme en definisies in Afrikaans, Engels en isiXhosa vir alle voorgraadse teologie-modules, sê ds Nina Müller van Velden, koördineerder van die MobiLex-projek.

Dr Van der Merwe noem dat in die Fakulteit Opvoedkunde terminologie vir Intermediêre en Senior Fase Wiskunde-onderwys bygevoeg en terme vir Kurrikulumstudie opgedateer en bygewerk is. 'n Nuwe vakgebied, naamlik Taalopvoeding, is in Afrikaans opgestel, na Engels vertaal en moet nog na isiXhosa vertaal word, voeg sy by.

“Studente en dosente in die Fakulteit is baie opgewonde oor die gebruik van MobiLex omdat dit meertaligheid in lesings help bevorder."

Müller van Velden sê hulle is verheug oor die befondsing (University Capacity Development Grant) van die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding wat die uitbreiding van MobiLex na ander fakulteite moontlik sal. Dié proses het reeds op 1 Februarie 2018 begin.

“Die uiteindelike droom is dat MobiLex kampuswyd deur gebruikers in al die fakulteite benut kan word." 

Müller van Velden sê 'n MobiLex-toepassing sal binnekort bekendgestel.  

“Gebruikers sal met gemak op hul slimfone en tablette die vakwoordeboeke kan navigeer, sonder om enige data te hoef gebruik na die aanvanklike aflaai en installering daarvan."

Die toepassing sal van tyd tot tyd opgedateer kan word, soos wat verdere data ontwikkel word, voeg sy by.

Benewens die MobiLex-projek, lewer die US se Taalsentrum ook ʼn belangrike bydrae tot meertaligheid deur individuele studente se taalvaardighede in isiXhosa, Engels en Afrikaans te help verbeter.

·         Die US sal in September ʼn Taaldag aanbied. Meer besonderhede hieroor sal later bekendgemaak word.  ​

​​Kurrikulumstudie eer Onnies op Onderwyserdag​​​​​​​

Prof Maureen Robinson

download.jpg

Die Lewe sonder Bendes​
 
Dit is duidelik dat oplossings vir die bendegeweld op die Kaapse Vlakte nie maklik gevind sal word nie . Nuwe en vernuwende benaderings is wat nodig is, skryf Michael le Cordeur.
Dis asof bendegeweld deel van die gemeenskap se psige geword het.
Op die Kaapse Vlakte weet almal van die bendeoorlog. Dit word elke dag in opskrifte teen die lamppale uitbasuin; jy sien die lyke van kinders in die strate; jy hoor die skote in die nag, selfs helder oordag; jy ruik die dood. Mense leef in vrees.​
image001.jpg

Foto: JACO MARAIS ’n Vermeende bendelid word deur soek tydens ’n dwelmklopjag op die Kaapse Vlakte.
In townships soos Manenberg, Delft, Elsiesrivier, Bonteheuwel en die afgelope tyd ook in Philippi het dit ’n lewenswyse geword. Die strydende bendes takel mekaar met soveel geweld dat selfs die polisie vrees om die gebiede binne te gaan.
Luidens polisiestatistieke was daar 63 moorde tussen April 2015 en Maart 2016 in Manenberg. In September 2016 het 31 mense weens die bendeoorlog in Delft omgekom. In Elsiesrivier het 20 mense in September 2016 binne een week gesterf.
Sedert die begin van 2017 is 13 kinders dood in skietvoorvalle en ’n verdere 14 kinders is vir skietwonde behandel.
Bogenoemde syfers laat jou wonder: Hoeveel onskuldige mense moet nog sterf voordat ’n oplossing gevind word?
’n Manenbergse skoolhoof vertel leerlinge is nie meer emosioneel as hulle ’n lyk op hul skoolterrein sien nie. Dis asof bendegeweld deel van die gemeenskap se psige geword het.
Soeke na identiteit​
Die vraag is ook waarom die jeug kies om ’n bendelid te word.
Dalk werp Adam Small se Krismis van Map Jacobs, ’n drama oor bendegeweld wat reeds in 1983 geskryf is, lig op die saak.
Small se empatie vir die minderbevoorregtes spruit daaruit dat hy as professor van maatskaplike werk die bendekultuur bestudeer het om te verstaan waarom jeugdiges bendes as ’n veilige hawe bo die tradisionele driehoek van ouerhuis, kerk en skool verkies.
Die geskiedenis speel ook ’n rol. Dit gaan terug na die jare sestig toe mense onder dwang verskuif is na die Kaapse Vlakte: ’n uitgestrekte, sanderige gebied ver van die Kaapse middestad en sy geriewe.
Small beskryf die “Cape Flats” as ’n troostelose plek en “wasteland”, waar die suidooster op sy ergste waai en waar geen gras of blomme groei nie. Ouers moes hul kinders patriotisme leer vir ’n land wat hulle vervreemd en ontheem het van hul identiteit.
Krismis van Map Jacobs is derhalwe ’n deurtastende ondersoek na identiteit. Inwoners verf hul huisies in helder kleure om hulself te “identify”.
Map Jacobs se tragiese soeke na identiteit is soos ’n kaart (Map) op sy liggaam getatoeëer:
 
. . . cause ek wil somewhere ge-belong het. Kan jy sien die merke (Apostel) George? Kan jy sien die tattoos? It was ’n terrible gesoek vir ’n identity . . . (31)
 
Die jeug ervaar vervreemding deur kerke wat hulle verstoot, skole wat hulle skors en ’n ouerhuis wat dikwels slegs uit ’n enkelma bestaan omdat die vaderlike figuur hulle verwerp het.
Jongmense sluit dus by bendes aan omdat dit die enigste “veilige” hawe is waar hulle aanvaar word nes hulle is:
As jy ’n . . . mens is, dan wil jy wiet waar jy aan is, waar jy af is, waar jy stáán. Jy moet tog iewers belong! Somewhere moet jy iets kan identify moet jouselwers . . . (51)
’n Daad van verset
Die ontheemdes se verset in Krismis van Map Jacobs hou verband met die maatskaplike en politieke omstandighede waaruit die drama ontstaan het.
Mense is verbitterd. Dis hierdie bitterheid wat mense noop om tot dade van verset oor te gaan. Die milieu waarin Map homself bevind, speel ’n rol in sy keuses, soos blyk uit die erkentenis teenoor sy ma:
Ek het matriek gemaak, standerd tien. Ek wiet Ma het baie gehoop op my. Maar daar was nie geld vir verder leer nie, en toe ek ’n job soek, it was alles vir whites only… Wittes wat vir my ’n job wil gee as messenger!! (31).
 
Map is dus ’n slagoffer van sy omstandighede, soos byvoorbeeld werkafbakening. Gevolglik kies hy, soos ander jeugdiges, om eerder ’n bendelid te word.
Hulle vind egter gou uit hoe hard die bendelewe is; met al sy haglike omstandighede van armoede, misdaad, roof en verkragting. Uiteindelik is die tronk jou voorland.
Min het nog verander
 
Vergelyk jy die bendekultuur vandag met die situasie van 1983 en dis duidelik dat weinig die afgelope 34 jaar verander het.
Skole word steeds gesluit omdat dit soms gevaarlik is vir kinders om hul huise te verlaat. Hulle voel vasgekeer in hul klein woonstelhokkies en het, nes in ’n tronk, geen vooruitsigte nie.
Op die Kaapse Vlakte woon mense in “flatse” en “council-hyse”, “match-box op match-box”.
Die blokke en blokke grys woonstelle simboliseer vir die gemeenskap die onreg wat die apartheidsregering hulle aangedoen het.
Die ingeperkte bestaan dryf menige persoon tot raserny.
Map se gevangenskap is dus simbool van ’n hele gemeenskap se gevangenskap – vasgevang in ’n uitsiglose bestaan waarvan hulle wil, maar nie kan ontsnap nie.
Inwoners probeer hul uitsiglose bestaan besweer deur hul grys huisies in helder kleure te verf.
. . . die een bright red ennie anner een bright blue . . . (51)
Vandaar die inwoners – soos Mister Cavernelis – se versugting om uit hierdie “wasteland” te ontsnap.
Dit vra egter geld, en die meeste mense leef onder die broodlyn, wat dit moeilik, eintlik onmoontlik maak om ’n huis “in ’n decent Coloured area” te bekom. Dit is net die heel gelukkiges wat “’ n lucky break sal kry”.
Tensy jy soos Cavernelis en sy mooi dogter, Blanchie, die grense van jou morele kompas oortree en dinge doen wat indruis teen jou waardes.
Map is in die tronk vir moord, nadat hy ’n medebendelid doodgesteek het toe die lid en ander bendelede Map se ma, Auntie Grootmeisie, en sy suster verkrag het.
Nadat hy homself aan die polisie oorgegee het, is hy tot 12 jaar gevangenisstraf gevonnis. Ná sewe jaar kry hy parool.
In die tronk kom Map Jacobs tot die besef dat sy lewe as bendeleier sinneloos was, dat hy wreed opgetree het en hy bely sy sondes voor die Here:
 
Skullag en vuil en vieslik! Here . . . Dankie vir Apostel George, wat jy gestuur het . . . (31)
 
Ja, daar ís hoop
Hierdie skrywer het geen verdraagsaamheid vir individue wat onskuldige kinders se dood veroorsaak nie en ek glo dat die gereg sy gang moet gaan.
Ek weet ook dat ’n nuwe benadering nodig is, een waar daar met bendeleiers om ’n tafel gesit word om saam te soek na oplossings.
Maar is ons gereed om buite die boks te dink?
Toe ek nog skoolhoof was, het ons tydens interskole die plaaslike bendes betrek. Hulle kon sokkerspanne en rugbyspanne inskryf, wat as voorwedstryde gedien het. As teenprestasie moes hulle beurte maak om die skool op te pas – iets wat hulle met trots gedoen het.
Het ek in my doel geslaag? Ek weet nie. Wat ek wel weet, is dat daar ’n “skietstilstand” was vir die tyd toe die ouens geoefen het. Meteens was daar weer sin in hul uitsiglose bestaan.
Dit is duidelik dat oplossings vir die bendegeweld nie maklik gevind sal word nie.
In die drama bied die kerk ’n oplossing. As opvoedkundige glo ek die onderwys is die uitweg om uit hierdie “tronk” te ontsnap, omdat ons mense se denke moet verander.
Net so glo ek nie dat geweld (of die weermag) die antwoord is nie. Want vanaand moet dieselfde lid na sy “council-hysie” toe gaan. Dan word hy en sy gesin ’n teiken.
Jeugdiges hoef slegs na Map te kyk en te leer uit sy foute. Daar ís ’n lewe buite die bendes.
Map kom tot inkeer en vra om vergifnis. Gevolglik kon hy Blanchie ook vergewe en kon hulle hul lewe hervat, en gelukkig wees:
 
Blanchie … ek het ge-change, ek het weer mens geword . . . (47).
 
Elke dag is dalk nie Krismis nie, maar daar is hoop vir elke Map Jacobs in ons samelewing.
 image002.jpg
(Prof Michael le Cordeur is hoof van die Departement van Kurrikulumstudie aan die US waar hy Afrikaans doseer.)​

Sustainability Starts with Teachers/Volhoubaarheid begin by Onderwysers

Sustainability Starts with Teachers is ‘n internasionale UNESCO vlagskip aksieleer program van die Global Action Plan on Education for Sustainable Development (ESD), in samewerking met die Southern African Regional Universities Association (SARUA), Rhodes Universiteit en SWEDESD. Die program ondersteun onderwysers van 60 Onderwysopleidinginstansies/ Teacher Education Institutions (TEIs) in nege lande om te werk aan ESD projekte en die dryf van kurrikuluminnovasie and transformasie van sekondêre onderwys na volhoubaarheid. Dr Carina America was die genomineerde afgevaardigde van die Fakulteit Opvoedkunde vir die werkswinkel gehou vanaf 17 – 21 Julie 2017 by die Royal Swazi Sun in Swaziland, saam met onderwyseropvoeders van Botswana, Lesotho, Mozambiek, Suid-Afrika en Swaziland.

Die aksieprogramme fokus oorwegend op doelwit 4 van die Volhoubaarheid Ontwikkelingsdoelwitte: “Verseker inklusiewe en billike onderwys en bevorder lewenslange leer vir almal” /“Ensure inclusive and equitable quality education and promote lifelong learning for all” met die uiteindelike doel dat onderwysopvoeders hulle professionele opleiding moet gebruik in die bevordering van opvoeding van onderwysers. Op sy beurt, sal dit onderwysers ondersteun om Onderwys vir Volhoubare Ontwikkeling (ESD) te integreer in onderwyspraktyk. Die programme gaan ontwikkel word oor vyf leeraksies: a) Onderwys vir Volhoubare Ontwikkeling beleid, konteks and vaardighede oorsig, b) volhoubare ontwikkelingsdoelwitte en kritiese kwessies relavant tot sekondêre onderwys-opleidingsprogramme, c) transformerende leer, pedagogie en leeromgewings, d) ontwerp en probeer alternatiewe assesseringsmetodes vir Onderwys vir Volhoubare Ontwikkeling, en e) monitor evaluering en skaal vir impak. Die projek by die fakulteit sal ‘n integrerende, deelnemende benadering, geïnkorporeerd met die diskursiewe terreine

van Onderwys vir Volhoubare Ontwikkeling binne die verskeie vakdissiplines handhaaf met ‘n deurlopende ‘work-in-progress’ soos wat die programme ontvou. Onderwysers/dosente wat wil deelneem aan die projek kan Carina America kontak by camerica@sun.ac.za

Fotos geneem tydens die werkswinkel:​

America.jpg

America 2.jpg

#Amagama Projek 2018

Die US Woordfees is baie opgewonde om saam met die Opvoedkunde Fakulteit die #Amagama Projek 2018 bekend te stel.

Skerp jou Xhosa op! Kom leer 100 Xhosa woorde oor 'n tydperk van 10 dae saam met die US Woordfees.  

Die #Amagama Projek 2018 behels dat B. Ed. studente, onder leiding van Mev. Jana Nel van die Opvoedkunde Fakulteit, daagliks feesgangers sal help met die aanleer van 10 nuwe Xhosa woorde oor die tydperk van 10 dae. Die studente sal by verskeie stalletjies regoor die fees teenwoordig wees en sal gereed staan om feesgangers met die uitspraak van sekere woorde en die drie klieks van die Xhosa-taal te help leer. Elke dag sal feesgangers opwindende en bruikbare nuwe Xhosa woorde leer. Teen die einde van die feestydperk sal alle feesgangers 100 Xhosa woorde ken en maklik sinne kan vorm.

Viva Amagama! 


​​​Taalbeleid bevorder inklusiewe meertaligheid aan die US

TaalPaarl2.png

Outeur: Korporatiewe Kommunikasie / Corporate Communication

Die Universiteit Stellenbosch (US) het Afrikaans nie die rug toegekeer nie, en bly verbind tot die gebruik van dié taal tesame met Engels as onderrigtale in die konteks van inklusiwiteit en meertaligheid.

Só het prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die US, Dinsdagaand (19 September) by ʼn gesprek met die onderwysgemeenskap in die Paarl gesê. Die geleentheid het by Klein Nederburg Sekondêr plaasgevind, en is deur skole in die omgewing asook die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) bygewoon. Die onderwerp was “Transformasie en taal aan die US".

Prof De Villiers het uitgewys daar is baie positiewe ontwikkelinge by die US, maar dit word dikwels oorskadu deur negatiewe verwysings in die media. So byvoorbeeld maak die US opgang in wêreldranglyste en handhaaf die Universiteit van die hoogste studentesukseskoerse en navorsingsuitsette in die land. Tog word die US in sommige kringe verkeerdelik uitgebeeld as ʼn eentalige plek – nie meer Afrikaans nie maar nou volledig Engels.

“Laat ek dit hard en duidelik sê – dit is nie waar nie," het prof De Villiers gesê.

Ingevolge die Universiteit se nuwe Taalbeleid, wat in Junie 2016 met instemming van die Senaat deur die Raad goedgekeur en vanjaar in werking gestel is, word Engels én Afrikaans as onderrigtale gebruik – eersgenoemde sodat niemand uitgesluit word nie, en laasgenoemde omdat daar steeds ʼn groot vraag na onderrig in dié taal is.

Daar vind geleidelik ʼn verskuiwing in demografie en taalverspreiding onder US-studente plaas. In 2015 het die Universiteit die eerste keer meer Engelstalige studente (44%) as Afrikaanstaliges (42%) gehad.

Vroeer vanjaar het dit uit ʼn meningsopname onder voorgraadse studente geblyk dat 61% van die respondente kennisoordrag in Engels verkies. Van hulle is glad nie Afrikaans magtig nie. Dit laat egter steeds 39% van voorgraadse studente wat onderrig hetsy in Afrikaans of in beide Afrikaans en Engels verkies, wat neerkom op byna 8 000 studente, het prof Arnold Schoonwinkel, Viserektor vir Leer en Onderrig aan die US, uitgewys.

Hy het verduidelik dat die nuwe Taalbeleid voorsiening maak vir drie onderrigtaalmodusse – parallelmedium, dubbelmedium en enkelmedium – en beklemtoon dat Afrikaans in al drie aanwesig is.

“Ons het groot waardering vir die waarde van taal, maar die Universiteit se fokus is pedagogies. Ons is nie ʼn taal-en-kultuurorganisasie nie. Taal is vir die Universiteit ʼn leer-en-onderrigmedium," het prof Schoonwinkel gesê.

“Die klem het verskuif van taalregte na taalgeregtigheid. Die Grondwet gee almal die reg op onderrig in die landstaal van hul keuse, sover moontlik, maar vereis ook regstelling van die soort uitsluiting wat in die verlede weens onderrigtaal plaasgevind het. Die Taalbeleid volg dus ʼn inklusiewe benadering van meertaligheid."

Lede van die onderwysgemeenskap het die toeligtingsessie verwelkom.

“Enige redelike mens kan insien Afrikaans word nie afgeskaf nie," het mnr Danie van Wyk van die Suid-Afrikaanse Onderwysontwikkelingstrust oor die US se Taalbeleid gesê. “Dit gaan oor akkommodering van almal in die konteks van ons gedeelde Suid-Afrikanerskap."

“Dit maak baie sin. En ek is veral beïndruk met die moniteringsaspek van die beleid – dat daar toesig gehou word oor implementering en voortdurend aanpassings plaasvind om te verseker dit word korrek toegepas," het dr Fernholdt Galant, WKOD-kringbestuurder van Wellington, gesê.

ONDERSKRIF: Van links, mnr Danie van Wyk, Wes-Kaapse bestuurder van die SA Onderwysontwikkelingstrust, mev Mary Banda, skoolhoof van Klein Nederburg Sekondêr, prof Wim de Villiers, rektor en visekanselier van die US, dr Fernholdt Galant en mev Linda Marais, kringbestuurders van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement in onderskeidelik Wellington en Paarl, en prof Michael le Cordeur, voorsitter van die Departement Kurrikulumstudies in die US se Fakulteit Opvoedkunde.​


Meertalige selfoonvakwoordeboek help studente konsepte baasraak​

mobile dictionary.jpg

Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie

Nuweling-opvoedkundestudente sukkel soms om konsepte wat in hul kursusse gebruik word baas te raak. En omdat hulle nie konsepte verstaan nie, kan hulle nie met begrip lees en goeie geskrewe werksopdragte inhandig nie.

"Die ontwikkeling van konsepgeletterheid  ̶  die vermoë om vakspesifieke terminologie te lees en te verstaan   ̶   is ʼn groot uitdaging vir baie studente," sê drs Carina America en Michele van der Merwe, twee dosente in die Departement Kurrikulumstudie aan die Universiteit Stellenbosch (US).

America en Van der Merwe doseer onderskeidelik Ekonomiese en Bestuurswetenskap-vakke en Afrikaans aan Opvoedkundestudente. Van der Merwe is ook ʼn leksikograaf oftewel woordeboekopsteller.

Hulle het saamgespan om ʼn meertalige vakwoordeboek te ontwikkel wat studente kan help om konsepte wat in Ekonomiese en Bestuurswetenskappe gebruik word, te verstaan. Dié  "selfoonvakwoordeboek", bekend as MobiLex, is so geskryf dat studente maklik vanaf hul selfone toegang daartoe kan kry. Die projek kon tot uitvoering kom in samewerking met die US se Taalsentrum en die bystand van die Hoof: Bevordering van isiXhosa by die sentrum, Pumlani M Sibula.

America sê dié woordeboek is spesifiek geskryf vir Opvoedkundestudente wat Ekonomiese en Bestuurswetenskap-vakke in skole wil onderrig. Sy voeg by dat MobiLex konsepte aan studente in Afrikaans, Engels en isiXhosa verduidelik.

MobiLex is tans op die US-webblad beskikbaar en studente kan deur middel van hul selfone en rekenaars toegang daartoe verkry. Volgens Van der Merwe is ʼn volgende uitdaging om Mobilex as ʼn toepassing (oftewel app) te ontwikkel wat studente op hul selfone kan aflaai.

Die konsep van MobiLex is vier jaar gelede deur hul kollega, prof Christa van der Walt, ontwikkel om juis die probleem van konsepgeletterheid aan te spreek.

"MobiLex wil studente help om makliker toegang tot die verduideliking van konsepte te verkry."

"Dit is nie net ʼn gewone woordeboek nie, dit is ʼn vakwoordeboek wat konsepte verduidelik soos die dosent dit graag verduidelik wil hê."

"Die woordeboek is so ontwerp dat dit maklik op ʼn selfoon gebruik kan word. Dit word ook gereeld opgedateer," sê Van der Merwe.

"As studente in die klas sit en toegang tot die internet het, kan hulle hul rekenaars of selfone gebruik om konsepte wat hulle nie verstaan nie op MobiLex op te soek en te sien wat dit beteken."

America meen dat as studente weet wat 'n bepaalde konsep beteken, dit hul begrip daarvan kan onderskraag en die vermoë om krities met ʼn bepaalde teks om te gaan, kan ontwikkel. Dit help hulle ook om beter werksopdragte te skryf.

"MobiLex kan dus 'n ondersteuningsbron wees om studente se skryf en leesvaardighede te verbeter."

Volgens Van der Merwe is studente bly dat hulle MobiLex op selfone en in die klaskamer kan gebruik.

"Studente sê dit help ook om MobiLex buite die klaskamer te gebruik veral as daar sekere konsepte is wat hulle nie heeltemal gedurende ʼn lesing verstaan het en nie betyds kon opsoek nie."

Van der Merwe sê hoewel die woordeboek op voorgraadse studente gemik is, is dit ook na senior studente uitgebrei.

Hulle wys daarop dat benewens Ekonomiese en Bestuurswetenskappe MobiLex met vrug aangewend word in ander vakke in die Fakulteit Opvoedkunde naamlik Opvoedkundige Sielkunde, Sosiale Wetenskappe, Natuurwetenskappe, Wiskunde en Kurrikulumstudies.

Volgens die twee dosente het hulle onlangs besoekers uit Europa gehad wat beïndruk was met MobiLex. Hulle voeg by dat onderwysers ook gevra het wanneer MobiLex in skole beskikbaar gaan wees.

Foto: Pixabay

SLEGS VIR MEDIANAVRAE

Dr Carina America (EBW)

Departement Kurrikulumstudie

Fakulteit Opvoedkunde

Universiteit Stellenbosch

Tel: 021 808 3793

E-pos: camerica@sun.ac.za

 

Dr Michele van der Merwe (MobiLex)

Departement Kurrikulumstudie

Fakulteit Opvoedkunde

Universiteit Stellenbosch

Tel: 021 808 2396

E-pos: michelevdm@sun.ac.za


​​Kurrikulumstudie Xhosa Kultuurdag

Maart 2017

17308711_1818244981726283_5006529227851822068_n.jpg17353373_1818244591726322_8835542889480325748_n.jpg

17362351_1818244715059643_6675456343722522130_n.jpg17362571_1818244571726324_4381819349263023431_n.jpg

Elektroniese vakwoordeboek op selfoon help om akademiese geletterdheid te verbeter

Mobilex_web.jpg

Outeur: Pia Nänny

In 'n poging om taalondersteuning aan veral eerstejaarstudente te bied en só akademiese geletterdheid te bevorder, het die Fakulteit Opvoedkunde onlangs 'n drietalige webgebaseerde vakwoordeboek bekendgestel.

Die Mobilex-woordeboek bied aan studente die geleentheid om op hulle selfoon na die definisie van 'n woord te soek in enige van drie tale – Afrikaans, Engels en Xhosa. Die woordeboek gee die term in al drie tale, en 'n kort vakspesifieke definisie in die voorkeurtaal.

Hierdie elektroniese drietalige woordeboek verskaf tans die vertaling vir terme in Wiskunde (Grondslagfase), Sosiale Wetenskappe en Kurrikulumstudie.

Volgens dr Michele van der Merwe van die Departement Kurrikulumstudies, wat aan die hoof van die projek staan, vul hierdie woordeboek 'n belangrike leemte. Daar is geen opgedateerde vakwoordeboek vir opvoedkunde nie, en dié wat daar is, is nie so maklik toeganklik nie.

Nou kan studente met die druk van 'n paar knoppies op hul selfoon na die definisies van woorde waarmee hulle sukkel of wat vir hulle onbekend is, soek.

"Hoe beter jou woordeskat, hoe beter is jou akademiese skryfvaardighede. Dit dra by tot konsepontwikkeling," sê dr Van der Merwe.

Die projek is oorspronklik deur prof Christa van der Walt van die Departement Kurrikulumstudies geïnisieer, en is gesteun deur prof Arend Carl, Visedekaan: Onderrig in die Fakulteit Opvoedkunde, as deel van die fakulteit se plan om taalondersteuning aan studente te lewer en só eerstejaarsukses te verhoog. Dit val ook onder die breër sambreel van die gemengde leer programvernuwingsprojek in die fakulteit.

As leksikograaf het dr Van der Merwe die projek oorgeneem.

"Ons het navorsing gedoen onder studente om uit te vind wat hulle behoeftes is. Bykans almal het gesê hulle wil so 'n woordeboek hê, en genoem vir watter vakke hulle dit wil hê."

Daar is al ongeveer 400 woorde in die woordelys, en dit word steeds bygewerk.

Dit was nogal 'n proses om die terminologie in die hande te kry, sê dr Van der Merwe. Hulle moes eers die belangrikste terme identifiseer: Byvoorbeeld, waarmee sukkel studente en wat dink dosente is die belangrike terme wat studente moet ken.

"Dit was ook 'n uitdaging om kort, bondige, eenvoudige definisies saam te stel. Ons moet onthou die studente ken nie die terme nie, en weet nie hoe om dit te gebruik nie."

Die ontvangs van die Mobilex drietalige woordeboek was baie positief.

"Die terugvoering wat ons ontvang het, is dat dit gebruikersvriendelik en nuttig is. Studente gebruik dit in die klas, terwyl hulle hersiening doen en terwyl hulle studeer. Moedertaalsprekers van al drie taalgroepe het gesê hulle kan dit gebruik."

​ 

SVHO bied suksesvolle internasionale konferensie aan

​  AdrianBS_20150325-00012.jpg AdrianBS_20150325-00022.jpg AdrianBS_20150325-00036.jpg AdrianBS_20150325-00037.jpg AdrianBS_20150325-00028.jpg

  AdrianBS_20150325-00029.jpg AdrianBS_20150325-00043.jpg AdrianBS_20150325-00047.jpg AdrianBS_20150325-00033.jpg AdrianBS_20150325-00034.jpg

Lees meer ...

 

BEd 4 Afrikaans (Ond) Uitstalling: Teorie na die PraktykBEd 2 Uitstalling:  Die Konstruksie van Aanvangskennis d.m.v Geïntegreerde LeerDr Michael Le Cordeur ontvang Kanselierstoekenning

    

​        Le cordeur-kanseliers.jpg
​Lees meer ...Lees meer ...Lees meer ...

 

André Brink: Wat 'n Letterkundereus!Vrouedag, Atlantis, 7 Augustus 2014

andre_michaellecordeur.jpg


ATR-voors in gesprek met gasspreker (2).jpg
Lees meer ...Lees meer ...

 

Rachel's Angels slaag met 100%


Rachel's Angels.jpg 

Top­presteerders van die Media24 Rachel’s Angels­mentorskapprogram is verlede Saterdagaand by ’n geselligheid in Franschhoek vereer. Dié program is ‘n vennootskap tussen Media24, die WKOD en die Universiteit Stellenbosch en spog met ’n 100%­slaagsyfer in die afgelope matriekeksamen. Die trustees streef daarna om leerders uit voorheen benadeelde skole te mentor, op te lei en te ondersteun sodat hulle toelating tot tersiêre studies kan kry. Van links is trustee, Heindrich Wyngaard, mediabestuurder van die Universiteit Stellenbosch se Bestuurskool, Rolene Liebenberg, trustee van die Rachel’s Angels­trust, die TV­aanbieder Elana Afrika­Bredenkamp wat as gasvrou opgetree het, prof. Rachel Jafta, een van die stigters en tans voorsitter van die projek, dr. Michael le Cordeur, mede-stigter en ondervoorsitter, verbonde aan die Fakulteit Opvoedkunde aan die Universiteit Stellenbosch, Neil Jansen, trustee van die Rachel’s Angels­trust, en Esmaré Weideman, uitvoerende hoof van Media24. (Die Burger, Apr 12 2014, Page 6)

Vryheidsdagvieringe, Sondag 27 April 2014


Vryheidsdagvieringe.jpg 

By die Wes-Kaapse regering se Vryheidsdagvieringe op Sondag 27 April 2014 in Kaapstad, het oud-president FW de Klerk opgetree as spreker. Aartsbiskop Desmond Tutu kon weens 'n stefgeval in sy familie nie die funksie bywoon nie, maar sy toespraak is voorgelees deur prof. Mtetwa (onder-voorsitter van die ArtsCape direksie). By die geleentheid het dr. Michael le Cordeur (Voorsitter – B.Ed-programkomitee) en Marlene le Roux (Direkteur van ArtsCape) 'n kopie van hulle boek"100 jaar se onvertelde stories van die klopse" aan oud-pres. F.W. de Klerk oorhandig. Op die foto is: Marlene Le Roux, dr. Michael le Cordeur, prof. Mtetwa, mnr.  FW De Klerk en mnr. Herman Bailey wat die logistieke werk vir die boek behartig het.






​​Rachel's Angels slaag met 100%

​​Vryheidsdagvieringe, Sondag 27 April 2014

Rachel's Angels.jpg 

Top­presteerders van die Media24 Rachel’s Angels­mentorskapprogram is verlede Saterdagaand by ’n geselligheid in Franschhoek vereer. Dié program is ‘n vennootskap tussen Media24, die WKOD en die Universiteit Stellenbosch en spog met ’n 100%­slaagsyfer in die afgelope matriekeksamen. Die trustees streef daarna om leerders uit voorheen benadeelde skole te mentor, op te lei en te ondersteun sodat hulle toelating tot tersiêre studies kan kry. Van links is trustee, Heindrich Wyngaard, mediabestuurder van die Universiteit Stellenbosch se Bestuurskool, Rolene Liebenberg, trustee van die Rachel’s Angels­trust, die TV­aanbieder Elana Afrika­Bredenkamp wat as gasvrou opgetree het, prof. Rachel Jafta, een van die stigters en tans voorsitter van die projek, dr. Michael le Cordeur, mede-stigter en ondervoorsitter, verbonde aan die Fakulteit Opvoedkunde aan die Universiteit Stellenbosch, Neil Jansen, trustee van die Rachel’s Angels­trust, en Esmaré Weideman, uitvoerende hoof van Media24. (Die Burger, Apr 12 2014, Page 6)

 

Vryheidsdagvieringe.jpg 

By die Wes-Kaapse regering se Vryheidsdagvieringe op Sondag 27 April 2014 in Kaapstad, het oud-president FW de Klerk opgetree as spreker. Aartsbiskop Desmond Tutu kon weens 'n stefgeval in sy familie nie die funksie bywoon nie, maar sy toespraak is voorgelees deur prof. Mtetwa (onder-voorsitter van die ArtsCape direksie). By die geleentheid het dr. Michael le Cordeur (Voorsitter – B.Ed-programkomitee) en Marlene le Roux (Direkteur van ArtsCape) 'n kopie van hulle boek"100 jaar se onvertelde stories van die klopse" aan oud-pres. F.W. de Klerk oorhandig. Op die foto is: Marlene Le Roux, dr. Michael le Cordeur, prof. Mtetwa, mnr.  FW De Klerk en mnr. Herman Bailey wat die logistieke werk vir die boek behartig het.

 

 

 

​​​