Wim de Villiers
Welkom by Universiteit Stellenbosch

Biografiese skets – Prof Wim de Villiers

​​​​​​​​WIMdv.jpg​As Rektor en Visekanselier van die Universiteit Stellenbosch in Suid-Afrika, is professor Willem (of Wim) de Villiers verbind daartoe om studente te ondersteun om hulle volle potensiaal te verwesenlik. In hierdie verband was hy ook al elders in Suid-Afrika en in die VK en Amerika werksaam.

Wim is die jongste kind van 'n voormalige Dekaan van Regsgeleerdheid aan die Universiteit Stellenbosch. Hy was 'n uiters suksesvolle student, wat aan Paul Roos Gimnasium gematrikuleer het met die beste punte in die Kaapprovinsie. Verder het hy in 1983 aan die Universiteit Stellenbosch die MB,ChB met lof verwerf, waarvoor hy die Kanseliersmedalje ontvang het, en ook aan die Universiteit Stellenbosch in 1990 die M-graad in interne geneeskunde met lof verwerf.

In 1984 registreer Wim as 'n geneesheer by die Suid-Afrikaanse Mediese en Tandheelkundige Raad en begin sy loopbaan as 'n internis en mediese beampte aan Frerehospitaal in die Oos-Kaap. Dit is hier waar hy besluit het om in gastroënterologie te spesialiseer. Nadat hy vir 'n ruk in Pretoria gewerk het, keer hy in 1986 terug na die Universiteit Stellenbosch om die Registrateurspos in die Departement Interne Geneeskunde op te neem.

In die 1990's reis Wim na die VK en voltooi 'n DPhil in Immunologie aan Oxford Universiteit in 1995. Hy verhuis ook in 1995 na Amerika nadat hy deur die Universiteit van Kentucky se Mediese Sentrum gewerf is. Hy het aanvanklik beoog om vir 18 maande daar te wees, maar uiteindelik vir 18 jaar gebly en homself tot bestuursvlak opgewerk.

Hy was die Hoof van Gastroënterologie aan die Universiteit van Kentucky en die Administratiewe Hoof van die Good Samaritan-Hospitaal in Lexington. Benewens sy werk as 'n gastroënteroloog het hy ook 'n gerespekteerde mediese navorser geraak en bygedra tot die Best Doctors in America-publikasie. Sy passie is die immunologie van die dermkanaal, en spesifiek die rol van die aangebore immuunstelsel en makrofae. Sy kliniese kundigheid is op inflammatoriese dermkanaalsiekte (Crohn se siekte en ulseratiewe kolitis) toegespits.

Wim is 'n translasionele wetenskaplike wat deurbrake in die laboratorium na pasiënte se siekbeddens gebring het. Hy het die belangrikheid van makrofae (en hulle patroonherkenningreseptors) in vele muismodelle van dermkanaalinflammasie aangetoon. Hy het ook betekenisvol bygedra tot die kliniese ontwikkeling en wydverspreide toepassing van geteikende monoklonale teenliggaampie-terapieë in talle pasiënte met gekompliseerde inflammatoriese dermkanaalsiekte. Hierdie werk is in top- mediese vaktydskrifte, soos die New England Journal of Medicine and Gastroenterology, gepubliseer.

In 2013 trek hy terug na Suid-Afrika, en word Dekaan van Gesondheidswetenskappe aan die Universiteit van Kaapstad. In Desember 2014 neem hy sy huidige pos aan Stellenbosch op.

Hy is met Catherine getroud, en hulle het twee dogters, Katusha en Gera; 'n seun, Braam, en skoondogter, Kelly; asook drie kleinkinders, Eloise, Beatrice en Rosalie. Wim sien die Universiteit Stellenbosch as 'n volwasse universiteit wat goed geplaas is om plaaslik relevant maar ook globaal mededingend te wees. Hy wil graag sien dat studente 'n uitstekende opvoeding ontvang wat hulle 'n mededingende voordeel as afgestudeerdes in ʼn snelveranderende wêreld sal gee. Hy glo die Universiteit moet 'n ervaring bied wat aangenaam, verwelkomend en gasvry is – in 'n inklusiewe omgewing – en hy is verbind tot voortgesette transformasie om die ongelykhede van Suid-Afrika se verlede aan te spreek.

Besoek prof De Villiers se tuisblad by www.sun.ac.za/rector

Volg hom op LinkedIn by http://bit.ly/LinkedIn-WimDeVilliers​

Klik hier om hi​erdie skets af te laai.

Klik hier vir 'n gedetailleerde CV

Mooi kuier by Prof Wim de Villiers

In Oktober 2019 het die TV-program Mooi met Anet Pienaar-Vosloo as aanbieder, by prof Wim de Villiers en sy vrou, Catherine, gaan kuier om oor die geskiedenis van hul huis op Stellenbosch te gesels. Dit voel in baie opsigte soos ’n leeftyd gelede. Sedertdien het COVID-19 die wêreld aansienlik verander, maar prof De Villiers woon steeds in dieselfde huis. 

Die insetsel is destyds op Via (DStv kanaal 147) uitgesaai, en word nou met vergunning van Media24 hier gedeel. Dit bied ’n vinnige blik op sy lewe buite die kantoor.​​