Logistics
Welkom by Universiteit Stellenbosch

Besigheidsanalitiek: Voorgraads

Besigheidsanalitiek is 'n opwindende nuwe aanbod in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe. Besigheidsanalitiek is 'n hulpmiddel wat waarde toevoeg tot maatskappye wat hulle tot datagedrewe besluitneming verbind het. Die vaardighede wat in Besigheidsanalitiek aangebied word, sal jou met die nodige data-ontledingsvaardighede toerus om insigte in ondernemings se funksies en prosesse te verwerf. Die vaardighede sal jou help om besluite op grond van bewyse te neem en jou 'n voorsprong gee om op 'n hoogs mededingende vlak te funksioneer, hetsy as 'n bate vir 'n datagedrewe maatskappy of as 'n onafhanklike konsultant.


Interessante probleme wat jy sal leer oplos, is onder meer hoe om groot hoeveelhede data van die internet af te kry, hoe om dit veilig te stoor, en hoe om daardie data in te span om insigte te verwerf wat aan jou kliënt 'n mededingende voorsprong sal gee, of hoe om die beïnvloeders in 'n sosiale netwerk te vind en hul gewildheid vir bemarkingstrategieë te benut, en hoe om jou kunssinnige skeppingsvermoë te gebruik om inligting te visualiseer deur die gebruik van data-ontwerpbeginsels wat gevorderde verslagdoening makliker verstaanbaar maak. Besigheidsanalitiek is een van die fokusareas in die BCom Bestuurswetenskappe-program. So, as datavisualisering en dataontleding, sosiale netwerke, modellering van ingewikkelde probleme en ingeligte besluitneming jou fassineer, is hierdie die kursus vir jou.


 
Besigheidsanalitiek Brosju​re (Engels)​


Raadpleeg asseblief die amptelike Ekonomiese en Bestuurswetenskappe Jaarboek vir meer inligting oor modulekombinasies en vereistes.