Center for Student Counseling & Development
Welkom by Universiteit Stellenbosch

Vertroulikheid

1.      INLEIDING

Die funksionering van die Sentrum vir Studentevoorligting en -ontwikkeling (SSVO) word gerig deur die beginsels van etiese praktykvoering van die volgende beroepsliggame:

  • Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika (RGB)
  • Suid-Afrikaanse Raad vir Maatskaplikediensberoepe (SARMDB)

Die volgende nasionale wetgewing is ook van toepassing:

Respek vir kliënte[1] se reg op vertroulikheid is die grondslag waarop etiese optrede by die SSVO berus. Personeellede wat nie by 'n beroepsliggaam geregistreer is nie[2] verbind hulle tot vertroulikheid deur 'n amptelike ooreenkoms in hierdie verband te onderteken.

Kliënte en hulle inligting word altyd met respek en vertroulikheid hanteer. Dít beteken dat niemand – met inbegrip van ouers, familielede, dosente en ander derde partye – in kennis gestel sal word dat 'n kliënt die dienste van die SSVO gebruik het óf toegang sal kan verkry tot die inligting wat die kliënt met 'n SSVO-praktisyn bespreek het nie. Die enigste uitsonderings op hierdie reël is wanneer 'n kliënt selfdood-, moorddadige of psigotiese neigings toon, of 'n gevaar vir ander inhou. In so 'n geval laat die RGB 'n afwyking van etiekreëls toe.

Vertroulikheid is 'n belangrike etiekbeginsel wat sowel die kliënt as praktisyn altyd in enige terapeutiese/voorligtingsverhouding behoort te respekteer. Indien nie, kan kliënte blootgestel voel wanneer hulle die SSVO se dienste gebruik. Hoewel vertroulikheid ook in groepsverband eerbiedig sal word deur van alle deelnemers te verwag om 'n vertroulikheidsooreenkoms te onderteken, kan die SSVO nie vir die optrede van individuele deelnemers aanspreeklik gehou word nie.


2.      REKORDHOUDING

Kliënterekords[3] word gestoor op HealthOne, 'n elektroniese databasis wat spesifiek vir hierdie doel ontwerp is. Die SSVO het elke moontlike maatreël getref om te sorg dat rekords veilig bewaar word. Alle vertroulike aangeleenthede word uiters versigtig hanteer. Toegang tot die databasis word met 'n wagwoord beskerm. Rekords word vir vyf jaar op die elektroniese databasis gestoor, waarna dit vernietig word.


3.      DERDEPARTYVERSOEKE

Kliënte kan deur dosente, ouers, familielede of verhoudingsmaats na die SSVO verwys word. Tog gee so 'n verwysing nie enige derde party die reg om toegang tot die kliënt se inligting te bekom nie. Toegang tot inligting word slegs toegestaan indien die kliënt skriftelike ingeligte toestemming verleen.

3.1   Indien die kliënt toestemming verleen

Voordat enige inligting bekend gemaak word, sal die kliënt die geleentheid ontvang om dit in die teenwoordigheid van die terapeut of praktisyn te bestudeer. In geval van derdepartyversoeke vir inligting oor verpligte voorligting geld die beginsel van deursigtigheid: 'n Derde party moet die kliënt uit die staanspoor in kennis stel dat hy sekere inligting van die SSVO sal aanvra, en moet dus sorg dat die kliënt ten volle bewus is van sy verhouding en kommunikasie met die SSVO. Inligting sal bekend gemaak word op 'n moet-weet-grondslag en in pas met die doel waarvoor dit aangevra word.

3.2   Indien die kliënt nié toestemming verleen nie

Indien 'n kliënt toestemming weier, sal geen inligting aan enige party bekend gemaak word nie. Tog kan die SSVO inligting onder dwang verstrek ingeval die hof 'n dagvaarding uitreik, hoewel die kliënt in kennis gestel moet word.


LET WEL:

  • Die SSVO doen geen forensiese evaluerings nie.
  • Kliënte se inligting sal nie sonder hulle skriftelike toestemming en formele etiekgoedkeuring vir navorsing versprei word nie.



[1] Studente.

[2] Wat ontvangs- en administratiewe personeellede insluit.

[3] Biografiese besonderhede, prosesaantekeninge, verslae en briewe.​