Center for Student Counseling & Development
Welkom by Universiteit Stellenbosch

Rapportering van diskriminasie

​​

Die eenheid is verantwoordelik vir die koördinering en implementering van die beleide van US oor Onbillike Diskriminasie (in proses), Seksuele Teistering en MIV/Vigs.

Ons dien as 'n gesentraliseerde eenstopdiens vir studente en personeel om aanmeldings van onbillike diskriminasie, teistering, seksuele teistering en viktimisasie te hanteer. Die eenheid bied 'n instapdiens by Victoriastraat 39, tydens kantoorure. Alternatiewelik kan ons by die volgende e-posadresse gekontak word:

  • unfair@sun.ac.za vir die rapportering van gevalle van diskriminasie, teistering, seksuele teistering en viktimisasie; of
  • matiesurpass@sun.ac.za vir enige algemene navrae of opleiding/bewustheidsversoeke.

Ons moedig individuele personeellede en studente wie diskriminasie, teistering of viktimisasie van mede-universiteitspersoneel of -studente ervaar het, om 'n direkte, amptelike aanmelding van die ervaring deur die instapdiens aan ons eenheid te voorsien, of om meer via unfair@sun.ac.za uit te vind.

Wanneer 'n amptelike klag by ons aangemeld word, is dit ons rol om die administratiewe en moniteringsprosesse te fasiliteer. Ons het geen inset in die uitkoms van gevalle nie en beveel aan dat intervensies (waar aangedui) gedoen word in die omgewing waarin die klag geleë is. 'n Adviserende paneel of mediators sal probeer om die beste moontlike uitkoms vir elke aanmelding te bereik. Ons sal die persoon wie die aanmelding ingedien het, van die begin tot die einde ingelig te hou oor enige ontwikkeling in die proses en geskikte verwysings maak, afhangende van die behoeftes van die kliënt.

Die beleid het ten doel om

  • onbillike diskriminasie, teistering en viktimisasie te definieer en om alle vorme van onbillike diskriminasie, teistering en viktimisasie binne die Universiteit te voorkom of te adresseer;
  • konsekwente, billike, redelike en deursigtige prosesse en strukture vir die hantering van aanmeldings re onbillike diskriminasie, teistering en viktimisasie daar te stel;
  • nakoming van die beginsels van die Konstitusie van Suid-Afrika en tersaaklike wetgewing te bevorder;
  • interne en eksterne rolle en verantwoordelikhede ten opsigte van rapportering, ondersteuning, opleiding en kommunikasie duidelik te maak; en
  • ongelykhede van die verlede en die effek daarvan te herken en korrektiewe en remediërende aksies in werking te stel.

Hier is 'n paar belangrike definisies wat in die beleid vervat is:

Onbillike diskriminasie: Enige gedrag of weglating, insluitende 'n beleid, reël, praktyk wat 'n persoon se menswaardigheid ondermyn of hom/haar daarvan weerhou om as 'n gelyke aan enige aspek van universiteitslewe deel te neem op een of meer gronde van ras, geslag, seks, swangerskap, huwelikstatus, MIV-/Vigsstatus, sosio-ekonomiese status, etniese of sosiale oorsprong, kleur, seksuele oriëntasie, ouderdom, gestremdheid, godsdiens, gewete, geloof, kultuur, taal  of enige ander wetlik erkende verbode grond vir diskriminasie. Dit is nie onbillike diskriminasie om maatreëls te neem wat ontwerp is om persone of groepe wat deur onbillike diskriminasie benadeel word, te beskerm of te bevorder nie.

Teistering: Ongewenste gedrag wat aanhoudend of ernstig is en verneder, verkleineer of 'n vyandige of intimiderende omgewing skep of bereken is om onderdanigheid deur werklike of dreigende gevolge teweeg te bring en wat verwant is aan

(a)       seks, geslag of seksuele oriëntasie; of

(b)       'n persoon se lidmaatskap of vermoedelike lidmaatskap van 'n groep geïdentifiseer deur een of meer van die verbode gronde of 'n eienskap wat met so 'n groep geassosieer word.

Seksuele teistering: Seksuele teistering verwys na gedrag wat tipies as aanstootlik ervaar word, waardeur seksuele toenaderings gemaak word in die konteks van 'n verhouding van gelyke/ongelyke mag of gesag. Seksuele teistering is 'n vorm van diskriminasie op grond van geslag. Dit is ongewens en mag as 'n uitdrukking van mag, gesag en beheer van 'n seksuele aard ervaar word. Dit skep 'n vyandige omgewing wat die individu se vermoë om te leer en/of werk belemmer.

Viktimisasie: Enige nadelige gevolge (of dreigement van sulke gevolge) gerig teen 'n persoon omdat hy of sy beoog om 'n klag van onbillike diskriminasie te lê of iemand anders gehelp het om so 'n klag te lê, of omdat sy of hy inligting oor 'n klag verskaf het (byvoorbeeld onthulling) of as 'n getuie in 'n klag van onbillike diskriminasie opgetree het.

Ons glo aan vasgestelde institusionele response op onbillike diskriminasie, teistering en viktimisasie:

  • Vertroulikheid moet tot die grootste moontlike mate gehandhaaf word, met kommunikasie beperk tot persone aan wie openbaring strook met amptelike posisie en verantwoordelikheid, of met spesifieke verantwoordelikheid om in die oplossing van die grief te help.
  • Die beginsels van prosedurele billikheid sal op alle stadiums van 'n klagoplossingsproses van toepassing wees. Persone verantwoordelik vir die ondersoek en oplossing van klagtes het 'n verpligting om nie deur sydigheid of konflik van belang geaffekteer te word nie, en moet regverdig en onpartydig optree.
  • Elke party sal 'n billike geleentheid gegee word om kennis te neem van die geval teen hom of haar en om aangehoor te word.
  • Klagtes sal onmiddellik ondersoek word en so min as moontlik mense betrek. Partye betrokke by 'n klag sal geregtig wees om geskikte raad en bystand te ontvang en om ingelig te bly van die vordering van 'n klag.
  • Waar toepaslik sal die voorkeuruitkomste mediasie, bespreking, 'n proses van versoening of opleiding wees gerig op regstelling van die afwyking van hierdie beleid, en om die partye by te staan om 'n ooreenkoms te bereik oor 'n uitkoms wat met konstitusionele regte en waardes asook relevante wetgewing strook.
  • Dit word erken dat konsiliasie nie geskik mag wees nie indien 'n party betrokke by 'n klag redelik oortuig is dat dit waarskynlik viktimisasie, verdere insidente van onbillike diskriminasie of teistering, of onnodige angs sal ontlok.
  • 'n proses van formele ondersoek van griewe sal beskikbaar wees vir gevalle waar konsiliasie ontoepaslik is of as onbevredigend bewys is.
  • Personeel en studente wat hierdie prosedures gebruik moet nie geviktimiseer word omdat hulle hul op die wetlike regte of die prosedures daargestel onder hierdie en verwante beleide beroep nie, en het die reg om onder hierdie prosedures aksie te neem indien hulle glo dat viktimisasie plaasgevind het.
  • Toepaslike stappe sal geneem word om sielkundige ondersteuning tydens en ná die prosedures te verseker.
  • Alle personeel en studente van die universiteit sal oor die beleid en prosedures ingelig word, asook dat hulle aangestelde anti-diskriminasie- en teisteringbeamptes (ADTB's) mag raadpleeg.
  • Niks in hierdie beleid sal die reg van die individu om toepaslike geregtelike beslegting buite die universiteit te soek, verhoed nie.
  • Beuselagtige of kwelsugtige klagtes sal nie geduld word nie en mag dissiplinêre aksie tot gevolg hê.