Medicine and Health Sciences
Welkom by Universiteit Stellenbosch

Die behoefte aan landelike gesondheidsorg

Wêreldwyd is die gesondheidstatus van mense in landelike gemeenskappe oor die algemeen swakker as dié van hul eweknieë in stedelike gebiede. Die redes hiervoor wissel, maar in ontwikkelende lande soos Suid-Afrika loop landelike gemeenskappe dikwels erger deur onder armoede en werkloosheid, wat bydra tot die swak gesondheidstatus van diegene wat in afgeleë gebiede woon.

Soos baie ander lande, het Suid-Afrika 'n tekort aan gesondheidswerkers in landelike gemeenskappe, wat gesondheidsorglewering van gehalte aan inwoners van dié gebiede aansienlik bemoeilik.

Benewens die probleem van personeeltekorte, is gesondheidswerkers boonop oneweredig oor die land versprei. Oral oor die wêreld verkies die meeste gesondheidsberoepslui stedelike, welgestelde gebiede, ondanks die feit dat mense in landelike gemeenskappe meer gesondheidsverwante probleme ondervind. Hierdie ongelyke verspreiding beteken dat diegene in die grootste nood die swakste diens ontvang.