WERKSWINKEL: AANBIEDING VAN NAVORSINGSVOORSTELLE: 

MTH GESONDHEID, GENDER EN TEOLOGIE

Verkenning van die wisselwerking tussen gesondheid, gender en teologie

Die Kerk van Swede het 'n aantal Teologiese instellings in Afrika uitgedaag om te besin oor kwessies wat verband hou met die wisselwerking tussen gesondheid, gender en Teologie binne die Afrika-konteks. In reaksie hierop het die Fakulteit Teologie van Universiteit Stellenbosch 'n MTh-program met die fokus op Gesondheid en Gender ingestel. Tien studente is uit die hoofstroom teologiese dissiplines gekies om die wisselwerking van hierdie temas akademies te ondersoek.

As deel van die proses om 'n ondersteunende portuurgerigte leerruimte te skep, word 'n werkswinkel van 18 tot 19 Mei 2015 in die Hofmeyr lesingsaal van die fakulteit gehou.  Afgesien van voordragte deur die studente, sal 'n aantal kenners op die gebied van gesondheid, gender en Teologie ook aan die werkswinkel deelneem. Kollegas van die Universiteit van KwaZulu-Natal en Dr. Adriaan van Klinken van Leeds University sluit hierdie jaar by ons aan.

Ons nooi almal wat in hierdie temas belang stel om die werkswinkel by te woon en aan die kreatiewe gesprek deel te neem.  Vir verdere inligting kontak Dr Charlene van der Walt, charlenevanderwalt@sun.ac.za of 083 693 8686.​

Om die program af te laai kliek ProposalPresentationProgram.pdf