Die skikking met die AWIR moet beskou word as ’n positiewe stap in die strewe na oplossings vir en toewyding aan die beëindiging van onaanvaarbare praktyke by Wilgenhof en die Universiteit se transformasiereis met die US en sy koshuise.
Die AWIR se aansoek het uit twee dele bestaan – eerstens, ’n dringende interdik om die implementering van die Raadsbesluit van 16 September 2024 te voorkom en tweedens; ’n aansoek om onder meer die Raadsbesluit van die 16de te hersien en tersyde te stel. Die implikasies van ’n suksesvolle interdik kon moontlik die implementering van die Raadsbesluit verhinder – in so ’n geval sou die koshuis dus moontlik oop gebly het, en die fasiliteringsproses vir ’n herverbeelde, nuut-geïnspireerde studentegemeenskap, en die opgradering van die badkamers, alles tot stilstand gebring word tot tyd en wyl die hersiening van die besluit afgehandel is. Soos ons weet, kon hierdie proses etlike jare geneem het, gegewe tydlyne van hofprosedure, die beskikbaarheid van verhoordatums en die verskillende appèlprosesse tot die partye se beskikking om dit tot by die Konstitusionele Hof te voer.
Met die skikking het die Raad ingestem om Wilgenhof-inwoners te akkommodeer deur die sluitingstydperk tot een semester te verkort en deur dié studente wat dit sou verkies, toe te laat om in die grootste van die twee nuwe noordkampuskoshuise te bly.
Dit is belangrik om daarop te let dat die skikking nie die kern van die aanbeveling in gedrang bring nie, naamlik om die koshuis in sy huidige vorm te sluit en ’n gefasiliteerde proses te volg na ’n herverbeelde, nuut-geïnspireerde studentegemeenskap.
Die Raad staan die Wilgenhof-alumnivereniging (of Wilgenhof-bond) se hersieningsaansoek in die hof teen wat poog om die verslag van die Paneel wat aangestel is om ondersoek in te stel na die inhoud van twee kamers in Wilgenhof, tersyde te stel. Die Universiteit vertrou dat hy deur die Raad en regsprosesse op koers sal bly in sy pogings om deurslaggewende verandering te bewerkstellig.