Ten spyte van al die tegnologiese vooruitgang van die afgelope jare is daar een basiese ding wat die mense net nog nooit leer goed doen het nie: om hande te was. As ons dit kan leer beter doen, sal daar heelwat minder siektes en kieme in die wêreld versprei.
Dit was die boodskap van prof Stephen Forsythe, 'n afgetrede professor in mikrobiologie aan Nottingham Trent Universiteit in die VK, en skrywer van die handboek “The Microbiology of Safe Food" wat wyd voorgeskryf word aan universiteitstudente. Hy was die openingspreker by 'n middagsessie oor die toekomstige rol van wetenskap in die handhawing van voedselveiligheid. Die geleentheid, wat deur die Sentrum vir Voedselveiligheid aan die Universiteit Stellenbosch se Departement Voedselwetenskap aangebied is, het 'n vol saal van belangstellendes uit die plaaslike voedselbedryf gelok.
Forsythe het 'n oorsig gegee oor toekomstige tendense wat die voedselbedryf te wagte kan wees in die toekoms. Dit sluit die invloed van klimaatsverandering en 'n groei in insekboerdery en verwante produkte in. Verbruikers is ook toenemend op soek na meer plantgebaseerde proteien-produkte, en kosse wat minder bymiddels bevat. Antimikrobiese weerstandigheid, waardeur kieme aangepas het om nie meer vatbaar vir sommige middels van behandeling te wees nie, strek ook die voedselbedryf tot kommer.
“Ons moet eenvoudig aanpas volgens hierdie tendense, want hulle is hier om te bly," het hy genoem.
Forsythe sê dat die oorgrote hoeveelheid van die 8914 voedselprodukte wat wêreldwyd tussen 2008 en 2018 van die mark onttrek is, rou vis, reeds voorbereide voedsel en neute en vrugte was. Dis meestal gedoen weens die voorkoms van onverklaarde bestanddele wat allergiese reaksies by mense kan veroorsaak, en die voorkoms van kieme soos E.coli en Salmonella wat verband hou met voedselvergiftiging.
Volgens Forsythe word daar tot vier gevalle van voedselvergiftiging daagliks in die VSA aangemeld. Hy sê soos wat bevolkings al ouer raak, sal hulle meer vatbaar raak vir infeksies, en daarom moet standaarde rondom voedselveiligheid verskerp word.
Forsythe sê die tegnologie het die afgelope jare sporadies verbeter waarmee daar vir die voorkoms van siekteveroorsakende organismes getoets kan word. As basiese riglyne van higiëne egter net in huise, fabrieke en op plase gevolg kan word, sal dit heelwat probleme uitsny.
Ook by die gespreksessie vir die bedryf was prof Mieke Uyttendaele van die Departement Voedelveiligheid—en Voedselkwaliteit aan die Universiteit van Ghent in België, en prof Wilhelm Holtzapfel, president van die Internasionale Komitee oor Voedselmikrobiologie en -higiëne (ICFMH), wat teenwoordiges toegespreek het oor onderskeidelik die waarde daarvan om besluite oor voedselveiligheid te maak op grond van goeie bewyse en bevindinge, en die rol wat ICFMH in die handhawing van standaarde rondom voedselveiligheid. Me Isabelle Desforges van Biomerieux in Frankryk het oor die waarde van mikrobiese standaarde soos ISO en ander mikrobiologiese toetsmetodes gepraat.
Sentrum vir Voedselveiligheid
Die sprekers was op Stellenbosch vir die jaarlikse advieskomiteevergadering van die Sentrum vir Voedselveiligheid in die US Departement Voedselwetenskap. Dié is danksy ondersteuning vanaf die Suid-Afrikaanse voedselbedryf in November 2018 op die been gebring is na afloop van die listeriose-krisis, en is steeds die enigste van sy soort in die land. Sedertdien werk navorsers aan die US, kollegas en lede uit die voedselbedryf saam om spesifieke kwessies oor voedselveiligheid te ondersoek, raad daaroor te gee, bewusmaking te kweek en waar moontlik beleid te verander.
“Dis 'n voorreg om 'n mense van hul kaliber op ons advieskomitee te hê, en ook terselfdertyd die kans te gebruik dat hulle hul kennis met die bedryf en ook gedurende spesiale lesings met ons studente deel," het voedselmikrobioloog prof Pieter Gouws, direkteur van die US Sentrum vir Voedselveiligheid, gesê.
Prof Gouws sê hy is dankbaar vir die vordering wat oor die afgelope jaar of wat reeds gemaak is, en die goeie samewerking tussen vennote in die akademie en voedselbedryf.
“Ons leer wedersyds by mekaar," het hy benadruk. “Nie verniet is ons leuse “innovation through collaboration" nie.
Studies is onder meer reeds voltooi oor die voorkoms van antimikrobies weerstandighede bakterieë onder vee en wildlewe in Suid-Afrika. 'n Opname is gedoen oor die voorkoms van Campylobacter and Arcobacter spesies in volstruise. 'n One Health-benadering is gevolg om Listeria monocytogenes, die bakterie wat in 2018 die ongekende listeriose-uitbraak in Suid-Afrika, uit te ken en om vas te stel of dit algemeen in voedsel, die omgewing of kliniese isolate in die Wes-Kaap voorkom.
Foto onderskrif
'n Inligtingsessie oor tendense rondom voedselveiligheid is aan lede van die bedryf aangebied deur die Sentrum vir Voedselveiligheid by die Universiteit Stellenbosch. Die internasionale sprekers was (van links) prof Stephen Forsythe, 'n professor in mikrobioloog, voorheen van Nottingham Trent Universiteit in die VK, prof Wilhelm Holtzapfel, president van die Internasionale Komitee oor Voedselmikrobiologie en -higiëne (ICFMH), prof Mieke Uyttendaele van die Universiteit van Ghent in België, en me Isabelle Desforges van Biomerieux in Frankryk. Saam met hulle is (voor) prof Pieter Gouws van die US Departement Voedselwetenskap en direkteur van die Sentrum vir Voedselveiligheid. Foto: Marco Oosthuizen