Rector's Site
Welkom by Universiteit Stellenbosch

Rektor en Visekanselier

​​​​​Die HOOP projek

​​​​​​​​

​​​​​Die Universiteit Stellenbosch (US) se HOOP Projek word gelei deur die rektor en visekanselier, prof Russel Botman, tesame met sy bestuurspan en die dekane van die Universiteit se fakulteite.

Prof Botman sien die HOOP Projek só:

"Die US het 'n trotse erfenis van uitnemende onderrig en leer, wêreldklasnavorsing en aktiewe betrokkenheid by gemeenskappe wat daarop afgestem is om die wêreld beduidend en ten goede te verander. Die volgende stap is om die US te vestig as 'n kennispionier wat Afrika se grootste uitdagings deur middel van sy bewese akademiese en navorsingskundigheid pak.​

"Dít noop ons om te streef na volhoubare oplossings vir ons vasteland se behoeftes, wat wissel van demokrasie, staatsbestuur en leierskap tot kommunikasie, opvoeding, gesondheidsorg, voedselsekerheid en watervoorsiening.

"Ons wyk hiermee nie van ons hoëronderwysmandaat af nie. Ons is ook nie besig om die US in 'n 'gemeenskapsuniversiteit' te omskep nie. Ons het besluit om ons navorsingsprogramme op vyf temas toe te spits waarmee ons die mees beduidende bydrae tot die nasionale en internasionale ontwikkelingsagenda kan maak.

"Dié temas is die uitwissing van armoede en verwante toestande, en die bevordering van menswaardigheid en gesondheid, demokrasie en menseregte, vrede en sekuriteit, asook ʼn volhoubare omgewing en mededingende bedryfsektor.

"Ons navorsers en studente het kragte saamgesnoer en met meer as 20 innoverende akademiese inisiatiewe vorendag gekom wat op ons ontwikkelingstemas afgestem is. Die HOOP Projek-temas en inisiatiewe maak die hoeksteen van ons strategiese rigting vir die volgende dekade uit – tesame met die doelwitte om ons personeel-en studentesukses voordurend te verbeter, en om fasiliteite en infrastruktuur te voorsien wat ons posisie as 'n voorloper-instelling van die 21ste eeu sal bevestig.

"Ons ontwikkelingstemas en -inisiatiewe het ons benadering om die wetenskap ten behoewe van die samelewing te beoefen aansienlik versterk. Ons noem dit die HOOP Projek, want toekomstige geslagte verdien beter."

Lees meer oor die HOOP Projek >


 
​​​​​ ​​