Rector's Site
Welkom by Universiteit Stellenbosch

Rektor en Visekanselier

Gemeenskapsbetrokkenheid 

Prof Botman het hom oor die jare as gemeenskapsleier bewys, en het reeds vroeg sy maatskaplike bewustheid begin uitleef. In sy studentejare aan die Universiteit van Wes-Kaapland het hy in 1976 as skakelbeampte van die studenteraad sy medestudente gelei in menseregtebetogings teen apartheid uit samehorigheid met die opstand van jeugdiges in Soweto.

Toe hy ná sy studies predikant van die Verenigende Gereformeerde Kerk se Wynberg-gemeente geword het, het hy hom vir maatskaplike geregtigheid beywer. Hy het die kerk se kiesersopvoedingsprogram bestuur, die Shadia-gemeenskapsontwikkelingsprojek in Parkwood help stig, en groter inklusiwiteit te weeg gebring by ʼn gemeenskapkunssentrum, laerskool en voorskoolse sentrum wat hy bestuur het.

As uitvoerende lid van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK) het hy ʼn deurslaggewende rol gespeel in dié liggaam se bydrae tot die stryd teen apartheid. Hy het verhoudings met die leierskap van die Gereformeerde, Presbiteriaanse, Kongregasionalistiese, Metodiste-, Anglikaanse Kerk en ander kerke gevestig en uitgebou.

In 2000 was hy hoofprediker by die kerkdiens ten tyde van die eerste Jubilee 2000-veldtog teen armoede, St George-katedraal, Kaapstad, en hoofspreker by die Rustenburg III-beraad van kerke in Suid-Afrika met die tema "Turning the tide on South Africa's ethical challenges".

Vanaf 2000 tot 2001 het hy op die direksie van die Simanyisiswe-gemeenskapsprojek, Kayamandi, Stellenbosch gedien. En in 2004 was hy deel van ʼn afvaardiging kerkleiers wat hulle vir 'n vrye en regverdige verkiesing in Zimbabwe beywer het.

In 2009 het hy 'n afvaardiging van regters van die Konstitusionele Hof, kerkleiers, akademici en ander leiers uit die burgerlike samelewing gelei na 'n eerste konsultasie met eweknieë uit China, Nederland en Turkye oor kwessies rakende wêreldvrede en sekuriteit.

Prof Botman neem gereeld aan nasionale en plaaslike openbare gesprekvoeringsprosesse deel. Hy het al met regeringslui vergader oor misdaadverwante sake in Suid-Afrika, en oor kerke se kommer in die soeke na oplossings vir hierdie probleem. Hy is ʼn uitvoerende lid van die Nasionale Godsdiensinisiatief vir Ontwikkeling en Welsyn in Suid-Afrika.