Rector's Site
Welkom by Universiteit Stellenbosch

Biografie: Prof H Russel Botman

​​​

Prof Hayman Russel Botman is sedert 2007 die rektor en visekanselier van die Universiteit Stellenbosch (US). In 2012 is hy heraangestel vir nog ʼn vyfjaar-termyn.

Prof Botman het sy akademiese kwalifikasies aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) verwerf – 'n BA, MTh (cum laude) en 'n doktorsgraad in Teologie. Hierna was hy leraar van die Verenigende Gereformeerde Kerk se Wynberg-gemeente in Kaapstad, waar hy sy merk as kerkleier en kampvegter vir sosio-ekonomiese regte gemaak het. Later het hy dekaan van UWK se Fakulteit Teologie geword, en in 2000 het hy by die US aangesluit. Van 2002 tot 2007 was hy viserektor vir leer en onderrig.

Prof Botman dien tans as ʼn visepresident van die Vereniging van Afrika‐universiteite (AAU), direksielid van Hoër Onderwys Suid-Afrika (HESA), en direksievoorsitter van die implementeringsmaatskappy aan die stuur van Kaapstad se program as Wêreldontwerphoofstad (World Design Capital) vir 2014.

Van 2003 tot 2007 was prof Botman president van sowel die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke as die Southern Africa Alliance of Reformed Churches. Hy was die eerste direkteur van die Beyers Naudé Sentrum vir Publieke Teologie aan die US, en is sedert 1998 die uitvoerende voorsitter van die Ekumeniese Stigting van Suider-Afrika (EFSA).

Prof Botman is die dryfkrag agter die US se HOOP Projek as draer van die Universiteit se transformasie en posisionering in die 21ste eeu. Hy huldig die standpunt dat die US sy wetenskapsbeoefening kan aanwend in die soeke na oplossings vir nasionale, kontinentale en globale ontwikkelingsuitdagings. Onder sy leiding het die US reeds drie ranglyste van die beste universiteite ter wêreld gehaal.

Laai prof Russel Botman se volledige CV hier af.


​​​