Kerngeneeskunde Afdeling

Onderrig


Kerngeneeskunde is verbonde aan twee onderriginstellings, Universiteit Stellenbosch (US) en die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (KSUT).
 
Die kliniese assistente wat in Kerngeneeskunde spesialiseer word deur die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe van die US opgelei. Die kursus sluit Anatomie, Fisiologie, Patofisiologie, Fisika en Instrumentasie, Radiofarmasie en Kliniese Kerngeneeskunde in. Gedurende die vier jaar opleidingstydperk lewer die kliniese assistente kliniese dienste aan pasiënte wat van Tygerberg Hospitaal asook ander hospitale en klinieke na Kerngeneeskunde verwys word. Die studente verwerf 'n MMed graad van die US wanneer hulle die opleidingsprogram voltooi het.
 
Die finale eksamens vir die MMed (Kerngeneeskunde) word deur die Kollege van Kerngeneeskundiges (KvK) van die Kolleges van Geneeskunde van Suid-Afrika (KGSA) aangebied, met die toekenning van ‘n genootskap van die KvK. Na die voltooiing van 'n navorsingsprojek, kan die student ook die MMed (Kerngeneeskunde) van die US ontvang.
 
Kerngeneeskunde bied ook 'n MSc in Kerngeneeskunde en PhD in Kerngeneeskunde aan. Natuurwetenskaplikes en aptekers kan hierdie kursusse volg. Persone met hierdie kwalifikasies kan nie as mediese spesialis in Suid-Afrika registreer nie.
Lesings oor Kerngeneeskunde word ook vir voorgraadse mediese studente tydens hul kliniese opleiding aangebied.
 
Die KSUT lei radiograwe op. Die Skool vir Radiografie is by die hoofkampus in Bellville gevestig, waar die kliniese opleiding gedoen word. Praktiese opleiding vind by die 3 tersiêre hospitale, naamlik Tygerberg, Groote Schuur en Rooi Kruis Kinderhospitaal plaas. Radiografiestudente ontvang na ‘n vier jaar opleidingstydperk 'n BSc graad in Kerngeneeskunde. Radiograwe met ’n diagnostiese of terapeutiese radiografie kwalifikasie, kan na 'n verdere twee jaar opleiding 'n MSc graad in Kerngeneeskunde verwerf.
 
Genote uit Afrika word gereeld deur die Internasionale Atoomenergieagentskap (IAEA) vir Kerngeneeskunde opleiding gestuur. Geneeshere registreer vir die MMed (Kerngeneeskunde), en aptekers en wetenskaplikes vir die MSc in Kerngeneeskunde, terwyl radiograwe vir 'n BSc graad in Kerngeneeskunde by die KSUT​ kan inskryf.
Sommige genote word vir korter opleidingsperiodes gestuur en skryf dus nie vir die amptelike opleidingsprogramme in nie.