Horticultural Sciences
Welkom by Universiteit Stellenbosch

2015

 

Die Ballie Wahl-meriete toekenning vir die beste Hortologie student in Sitrusproduksie

Michael du Toit Prize (big_afr).jpgDu Toit Prins, ʼn vierdejaar student van die Departement Hortologie aan die Universiteit Stellenbosch, is vanjaar die tweede ontvanger van die Ballie Wahl-meriete toekenning. 

Hierdie toekenning word jaarliks oorhandig aan die beste derdejaar student in die sitruskursus wat deur die Departement Hortologie aangebied word. In dié sitruskursus word aandag gegee aan aspekte soos kultivarseleksie, invloed van klimaat op produksie, asook die vestiging en bestuur van ʼn sitrusboord.  Verder word die onderliggende fisiologie wat vrugkwaliteit kan beïnvloed, asook boommanipulasie en die gebruik van plantgroeireguleerders om vrugte van optimum interne en eksterne kwaliteit te produseer ook in diepte bestudeer.

Die "Citrus Technical Association" (CTA), ʼn vrywillige assosiasie van tegniese kundiges wat sedert 1984 bestaan en direk betrokke is by sitrusnavorsing, produksie en uitvoere, borg die onlangs ingestelde toekenning. Met die toekenning van hierdie meriete prys poog die sitrus bedryf om erkenning aan uitmuntendheid te verleen asook om verdere studies in sitrus te aan te moedig. 

Ballie Wahl is nie net in Suid Afrika nie, maar ook wêreldwyd een van die bekendste name in die sitrusbedryf. Sy tegniese kennis en vermoë om al die komplekse aspekte met betrekking tot produksie van sitrusvrugte te integreer, word nasionaal en internasionaal hoog aangeslaan.  Ballie is ʼn alumnus van die Universiteit Stellenbosch.  Nadat hy sy BSc (Agric) graad verwerf het in 1966, het hy by die sitrusbedryf betrokke geraak as deel van die Sitrusbeurs se tegniese span.  Sedertdien het hy die SA sitrusbedryf in verskeie posisies gedien voor hy in 2006 'offisieel' afgetree het.  Die goue draad regdeur Ballie se loopbaan is die onbaatsugtige manier waarop hy sy kennis deel, asook die moeite wat hy nog steeds bereid is om te doen om nuwe toetreders tot die sitrus tegniese gemeenskap van die Suider Afrikaanse sitrusbedryf met raad en daad by te staan.