Information Governance
Welkom by Universiteit Stellenbosch


​​​​​​​​​​​​​​​​​

Studente-tredhou en -ontwikkeling

 

Meningsopnames en vraelyste


​​​​
Studente-tredhou en -ontwikkeling


  Die BeWell-mentortredhoustelsel

welwiel-110x107.png

Ongeveer 600 opgeleide mentors bied jaarliks ondersteuning aan 4 000 tot 5 000 eerstejaarstudente gedurende hulle eerste ses tot nege maande by die Universiteit. Die mentors (en hoofmentors) is senior studente wat ’n paar dae lank intensiewe opleiding ondergaan vir hul rol as mentors. Die span mentors en hoofmentors word deur personeellede van die Universiteit, waaronder koshuishoofde, klusterkoördineerders en personeellede van Studentesake, ondersteun. Sedert die program in 2013 van stapel gestuur is, het meer as 2 700 mentors en hoofmentors al meer as 19 000 eerstejaars bygestaan.

Die Universiteit Stellenbosch het 'n lang mentorskapgeskiedenis van meer as 40 jaar. Die algemene oogmerke voor 2013 was om eerstejaarstudente by die universiteitslewe te help aanpas, persoonlike hindernisse te bowe te help kom en van algemene psigo-sosiale steun te voorsien. Dit was dus meestal 'n tekort- of probleemgerigte benadering om diegene in nood by te staan, terwyl diegene wat nie in daardie kategorie geval het nie weinig waarde daaruit geput het. In 2013 het die Universiteit oorgeskakel na 'n sogenaamde ontwikkelingsbenadering. Mentorskap maak steeds voorsiening vir hulp met aanpassing en probleemoplossing, maar konsentreer nou ook daarop om die potensiaal van alle studente in die stelsel, wat beide mentees en mentors insluit, so ver as moontlik uit te bou. Dit is 'n meer holistiese en sistemiese benadering wat daarop konsentreer om die hele persoon te ontwikkel in plaas daarvan om slegs probleemgebiede te hanteer. Hettler se welweesmodel is gekies as die instrument om dit te bereik, en die projek is bekend as BeWell.

Daar word tred gehou met alle welweesaktiwiteite in die BeWell-stelsel (wat deur die Sentrum vir besigheidsintelligensie ontwikkel is). Mentors en mentees teken onder andere sessies op die stelsel aan.  Dit stel die Universiteit in staat om:

  • die program wetenskaplik te bestuur;
  • die impak op akademiese prestasie te bepaal;
  • mentors en mentees se ervaring te bepaal;
  • die impak op mentors se ontwikkeling, onder andere die graduandi-kenmerke, te bepaal;
  • individuele, pasgemaakte vorderingsverslae aan mentors en bestuurders in die stelsel te voorsien;
  • aktiwiteitsvlakke in die stelsel te moniteer; en
  • navorsing te onderneem om die stelsel voortdurend te verbeter.

bewellgroepdemo.png

BeWell word deur die Sentrum vir Studentegemeenskappe in die Afdeling Studentesake bestuur. Die Sentrum vir Besigheidsintelligensie bied die aanlyn tredhoukomponent en onderneem ook navorsing oor die impak van die stelsel. Kliek hier vir toegang tot BeWell se openbare webwerf.

’n Geïntegreerde tredhou- en ontwikkelingsoplossing vir die Universiteit Stellenbosch

Die Universiteit het 'n toekenning van R4,19 miljoen van die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding ontvang vir sy voorgestelde “geïntegreerde tredhou- en ontwikkelingstelsel".  Die voorstel vir hierdie nuwe stelsel is gedurende 2017 deur personeel van die Sentrum vir Besigheidsintelligensie gemaak. Die doel van hierdie projek is om uiteindelik 'n aanlyn, gestruktureerde, geïntegreerde en intelligente tredhou-, monitering- en ontwikkelingsoplossing te skep wat studentesukses sal bevorder. Sodra dit ten volle in werking is, behoort die stelsel studentesukses 'n aansienlike hupstoot te gee.  Die befondsing wat ontvang is, maak voorsiening vir die daarstelling van ʼn proefstelsel wat  demonstreer dat dit inderdaad moontlik is om so ʼn stelsel suksesvol te ontwikkel en te integreer – die projek is innoverend en gevolglik moet die konsep eers as ʼn haalbare mikpunt bewys word.  Heelwat meer fondse sal egter gevind moet word om die uiteindelike stelsel universiteitswyd te implementeer (nadat die haalbaarheid daarvan suksesvol gedemonstreer is).  Die projek is geskeduleer, en befondsing is ook toegewys, vir 2018-2020.

i-FlourishWell4Life: ’n Innoverende gemengde leerinisiatief om akademiese sukses en voorspoed te ondersteun en bevorder

'n Belangrike fokusarea van die Sentrum vir Besigheidsintelligensie is om sleutelfaktore, insluitende positiewe sielkundige faktore, te identifiseer wat akademiese prestasie op universiteit beïnvloed, en om daardie faktore te versterk en mee tred te hou (en om sodoende die universiteit se retensie- en deurvloeikoerse op die langtermyn positief te beïnvloed). Interdissiplinêre en internasionale navorsing  oor 'n wye spektrum vakgebiede is oorweeg toe hierdie inisiatief op die been gebring is - die lesse van soortgelyke inisiatiewe elders is ook inaggeneem.

Topnavorsers het eers relatief onlangs ʼn aantal positiewe sielkundige faktore geïdentifiseer wat akademiese prestasie beïnvloed en wat pro-aktief onwikkel kan word. Hierdie faktore sluit volharding, 'n groei-ingesteldheid, selfvertroue, 'n tuisvoel- of “ek-hoort-hier" gevoel, welwees, welstand, veerkragtigheid en emosionele intelligensie in. Die uitstaande eienskap van hierdie faktore is dat hulle buigsaam en veranderlik is.  Gevolglik het navorsers reeds ʼn reeks bewysgebaseerde intervensies ontwikkel om hierdie faktore pro-aktief te ontwikkel.

'n Intervensie- en bewysgebaseerde 'kurrikulum' is saamgestel om 'n nuwe plaaslike inisiatief te implementeer wat op bogenoemde navorsing en intervensies gebaseer is.  Die inisiatief staan bekend as i-FlourishWell4Life.  Die benaming is gekies omdat die inisiatief poog om gelyktydig sukses, welwees en welstand onder studente te bevorder en om studente verder in staat te stel om hierdie vaardighede lewenslank met hulle saam te neem.   Gemengde leer word ingespan vir die aanbieding van die kurrikulum.  Tredhoudata word outomaties by die gemengde lewering van die kurrikulum geïntegreer.  Dit sal die Sentrum vir Besigheidsintelligensie in staat stel om die impak van die kurrikulum later te bepaal en om die voorspellingswaarde van bogenoemde sielkundige faktore binne die Stellenbosch konteks te bevestig. 

Die kurrikulum van i-FlourishWell4Life word deur 'n kombinasie van lesings en werksessies aangebied. Alle deelnemende studente het verder hulle eie persoonlike webwerwe met leermateriaal, selfassesserings, oefeninge, profiele en joernale. Hierdie webwerwe is die plek waar die tredhou-data versamel word wanneer studente deelneem aan die voorgeskrewe aanlynaktiwiteite (intervensies). 'n Groot hoeveelheid kwalitatiewe sowel as kwantitatiewe data is reeds sedert 2018 ingesamel en 'n aantal navorsingsprojekte is van stapel gestuur. Hierdie tredhoudata sal op die langer termyn gebruik word om die impak op retensie- en deurvloeikoerse (insluitende (hopelik!) die vernouing van prestasie-gapings tussen verskillende studentegroepe) te meet.

Die ontwerp en implementering van i-FlourishWell4Life bou voort op vorige suksesverhale – voorheen is ʼn soortgelyke raamwerk gebruik om die “Choose to Flourish" inisiatief by Maties Sport aan te bied. i-FlourishWell4Life word tans getoets en verbeter deur dit as deel van die formele kurrikulum van drie eerstejaarmodules vir studente in vyf verskillende fakulteite aan te bied (Natuurwetenskappe, Ingenieurswese, AgriWetenskappe, Lettere en Sosiale Wetenskappe, en Ekonomiese en Bestuurswetenskappe). Die inisiatief sal hopelik in die toekoms verder uitgebrei word om nog meer studente in staat te stel om te floreer.

​Meningsopnames en vraelyste

USBONS: Die Universiteit van Stellenbosch se basislynvraelys vir Nuweling Eerstejaarstudente

Die doel van die opname is om inligting oor studentebetrokkenheid te bekom, die kognitiewe en emosionele ontwikkeling van die studente te moniteer, en met hulle waardes, houdings, doelwitte en welstand tred te hou.

Nuweling eerstejaarstudente voltooi hierdie webgebaseerde vraelys in die rekenaargebruikersareas. Die vraelys bestaan uit 160 vrae oor 13 temas. Temas sluit onder andere tydbestuur, redes waarom hulle juis die Universiteit Stellenbosch gekies het, hul persepsies oor hulle eie vaardighede en vermoëns, persoonlike ontwikkelingsbehoeftes, waardes en welwees in.

Wenners van die USBONS kompetisie en gelukkige trekking. (Kliek skakel vir artikel)

Nuwelingverwelkomingsvraelys

Die Universiteit Stellenbosch wil nuwelingstudente laat tuis voel en hulle die beste moontlike geleentheid bied om suksesvol te studeer en optimaal te ontwikkel. Daarom is 'n vraelys ontwikkel om die verwelkomingsprogram vir nuwelinge te verbeter.

Privaatheidskennisgewing

Die PSO-tevredenheidsopname

Studente in privaatstudenteorganisasies (PSO's) neem gereeld aan die opname oor PSO-tevredenheid en -behoeftes deel. Die Sentrum vir Studentegemeenskappe gebruik die resultate van die vraelys om die studente-ervaring van PSO-studente te verbeter.

Die Graduandi-bestemmingsopname

Een van die doelwitte van die Eenheid vir Graduandi-loopbaandienste (EGL) binne die Sentrum vir Studentevoorligting en -ontwikkeling is om studente vir die wêreld van werk voor te berei. Betroubare inligting oor die aktiwiteite van ons afgestudeerdes, hulle werk- en werkloosheidspatrone sowel as die werksoekproses help die EGL om sy dienste te verbeter en verfyn. 'n Leemte in Stellenbosch se kennis oor sy graduandi en hulle toekomsplanne is in 2017 geïdentifiseer. In daardie stadium het daar reeds 14 jaar sedert die vorige gefokusde graduandi-bestemmingsopname verloop. Die Universiteit het intussen op ongereelde studies deur die Kaapse Hoëronderwyskonsortium (CHEC) staatgemaak om sy afgestudeerdes se toekomsplanne te moniteer en te ondersoek. 'n Nuwe graduandi-bestemmingsopname is derhalwe ontwerp en via die web onderneem. Die antwoorde is ontleed en gepubliseer op ʼn webwerf wat spesiaal deur die Sentrum vir Besigheidsintelligensie daarvoor ontwikkel is.

Gevolglik is daar in 2017 besluit dat die Universiteit Stellenbosch hierdie navorsing voortaan jaarliks sal onderneem. Dit sal meer akkurate bestuursverslagdoening oor die jongste tendense moontlik maak, die EGL in staat stel om sy dienste beter op senior studente se behoeftes af te stem, en ander rolspelers, waaronder die Alumni-kantoor, die geleentheid bied om hulle strategiese inisiatiewe na aanleiding van die resultate aan te pas.

Die Graduandi-bestemmingsopname 2019/2020 (huidiglik slegs in Engels beskikbaar)

Opname oor die US se Welstand, Kultuur en Klimaat by die Werk

Die oogmerk met die Opname oor die US se Welstand, Kultuur en Klimaat by die Werk is om die personeel se vlakke van welstand en 'geluk by die werk' te bepaal, asook om personeellede se mening oor die kultuur en klimaat in die werksomgewing te bekom. Alle personeel van die Universiteit Stellenbosch word aangemoedig om daaraan deel te neem.

Die opname sal gedurende die tweede helfte van 2019 vir die eerste keer onderneem word.

Opnamediens

Die Sentrum verleen ook van tyd tot tyd bystand om eenmalige opnames op te stel, te onderneem en te verwerk. 


 

Navrae​:


Dr Alten du Plessis
Stuur e-pos
+27 21 808 2598

Me Carla Kroon
Stuur e-pos
+27 21 808 4844​​​