Previous year's clerks had the following to say about their experiences as academic trainee accountants at the School of Accountancy:
Academic Clerk
Na die voltooiing van my drie jaar leerlingrekenmeesterskap het ek nou die geleentheid om vir ʼn Groot vier firma oorsee te gaan werk.
Die geleentheid sou nie moontlik gewees het, sonder my ondervinding as akademiese klerk by die Skool vir Rekeningkunde nie. Ek wil graag vir Prof. von Wielligh, en die fakulteit, dankie sê vir die geleentheid en heelwaarskynlik die beste jaar van my klerkskap loopbaan.
Die ondervinding wat ek opgedoen het tydens die akademiese klerkskap is ongelooflik waardevol en het soveel deure oopgemaak.
Ek beveel gereeld die akademiese klerkskap jaar aan vir vriende en kennisse wat nog besig is met hulle studies!
-Anoniem
Academic Clerks (2009)
Beste Dosente
5 jaar gelede het ons hier aangekom – grootoog en onseker oor ons toekoms en "Die Universiteit"... Bang vir die ander "groot studente" wat so seker van hulself lyk en weet waar alles is... nog banger vir die groot lokale met hulle sterk ligte en ysige lugversorging en die heel, heel bangste vir die dosente... die mense wat daar voor in die groot lokale staan en gemaklik praat met groepe van 400 mense... die mense wie verduidelik wat op die slides aangaan – sommer so uit hul kop uit... vir ons was hulle ooms en tannies wat oor die mikrofoon praat en alles weet en ons was erg geïntimideer...
Toe raak ons ouer... Ons verander in "daai groot studente" wat weet waar alles is, wat selfversekerd stap oor die kampus, wat in die Neelsie inkom in groot groepe en hard lag vir die grap wat een nou net vertel het... Ons leer dat dosente nie altyd alles weet nie (al dink party van hulle dat hul doen:-))... Ons vorder deur ons studieloopbaan...
En Honneurs breek aan... Dit voel vir ons of ons van voor af daardie grootoog outjies is wat onseker is oor als en hulself betwyfel... Skielik het ons in die berugte "Honneurslokaal" klas... daardie "Saterdagtoetse" waarvan ons altyd net gehoor het word 'n realiteit... Maar met julle leiding kom ons ook daardeur (net-net)...
En ons begin 2009 om hier te werk... Stap onseker in die gebou in (meer as ooit tevore), word deur die vriendelike blonde sekretaresse begroet wat ons wys waar ons moet wees en waar alles is wat ons sal nodig kry... Ons leer die admin personeel se name en dink ons gaan nooit regtig weet wie is nou Elizna en wie is Annali en wie is Annelise en wie is Miriam en Aletta en Beatrix nie... die dosente raak ons kollegas... en hulle behandel ons so, al dink ons eintlik nogsteeds hulle is celebrities... teetyd in die klein teekamertjie is die "grootbaas" elke dag daar om vriendelik met ons te gesels en ons maak saam geselsies, maar eintlik is ons so bang vir hom dat ons nie weet hoe ons dit het nie... Maar die jaar vorder vinnig en ons raak vertroud met ons omgewing en al hoe meer gemaklik met julle almal... Ons leer julle ken... Weet later wie hou van watter soort grappies, wie se kantore is altyd deurmekaar en wie bring hulle eie koffie werk toe... Ons leer dat julle almal gewone mense is... goeie mense met wie mens kan gesels... mense wat ook gesinne en families en vriende het saam met wie hulle lag en kuier... en ons raak lief vir julle almal... Ons besef ook vir die eerste keer werklik HOE slim dosente regtig is... kry ongelooflik baie respek vir julle – nie net vir julle verskriklike kennis nie, maar ook vir die wonderlike mense wie julle is...
Nou staan ons aan die einde van ons akademiese klerkskap en dit is vir ons swaar om totsiens te sê... Ons sê totsiens vir mense wat ons vriende geraak het.. Ons sê totsiens vir mense saam met wie ons gelag en gesels het... Maar ook vir die mense wat ons virewig sal respekteer omdat hulle ons deur ons universiteitsloopbaan gekry het – iets waarvoor ons vir julle virewig sal dankbaar wees...
Dit is regtig 'n groot voorreg om te kan swot by 'n universiteit – ons weet dit... Maar om by die Universiteit Stellenbosch te kon swot... Dit was die grootste geskenk wat ons ouers ons tot nog toe gegee het... En om by die Departement Rekeningkunde van die US te kon swot... Wel, dit was in een woord: AWESOME... en daar is net een rede daarvoor... en dit is julle – die ouens wat voor in die klas staan. Julle maak die verskil... Nie net omdat julle die kennis oordra nie, maar omdat julle die mense is wie julle is... Mense wat vir hul klasse nogsteeds van Jesus vertel in 'n samelewing waar dit eintlik nie meer die norm is nie... Mense vir wie 'n mens respek kry, net op grond van hoe hulle leef...
Ons sê vir julle dankie, baie dankie... wat 'n voorreg om te kan sê ons is deur julle hande...
Groete
Akademiese Klerke...
Liezl Conradie (2008)
Akademiese klerkskap was seker een van my lekkerste jare ooit! Dink dis 'n baie goeie jaar om eers jouself bietjie te vind na die Honneurs-jaar. Honneurs is maar 'n baie moeilike jaar vir die meerderheid mense. Ek het net gevoel ek kan iets in ander mense se lewens beteken...mens weet mos eers waardeur ander gaan as jyself ook daardeur is! Voordat ek die jaar aangepak het,het ek baie getwyfel of ek dit wel moet doen,maar is beslis nie spyt nie. Dink mens kry 'n breër prentjie as 'n klerk wat net in die oudit-professie is. Mens leer die dosente en ander personeel op 'n ander vlak ken. Beslis 'n baie lekker omgewing om in te werk! Dit is wel vir my moeilik om partykeer die oudit-been weer onder die knie te kry,maar ek dink oor 'n paar maande is ek op dieselfde vlak as 'n ander klerk. Wie weet...dalk maak die klerkskap jaar weer 'n deur oop om terug te kom!
Bronwyn Millar (2007)
A year that flies by so incredibly quickly and one that has taught me so much! It's a year that provides you with insight, tests your patience and knowledge and is great fun.
I learnt how to trust my instincts, how to enjoy my passion for teaching and to reap the rewards of seeing my students do well! To be able to take the passion I have for financial accounting and to use it to help others is very rewarding.
Dis 'n jaar van my lewe wat ek wens langer kon wees. Ek het ook besef dit is wat ek wil doen in die lewe en het vir my 'n deur oopgemaak om in die toekoms terug te kom.
Ek het baie goeie tye hier gehad, met die mees ongelooflike mense gewerk en besef daar is niks in hierdie lewe wat ek nie kan doen nie! 'n Mens se vermoëns is onverstaanbaar…
Ed Pienaar (2007)
Ek was vanjaar verantwoordelik vir die Bestuursrek ILP klas, die administrasie van Oudit 288/388 en 378, Bestuursrek 288 en ek het in 'n mindere mate by Finrek 288 uitgehelp.
Ek het die jaar baie geniet en ek voel dat ek waardevolle werksondervinding opgedoen het.
Ons het nogals baie interaksie met studente gehad. Die klasgee en hotseat ure was definitief die hoogtepunt vir my omtrent die jaar.
'n Mens moet goed voorberei vir jou klasse en dus sal jou kennisvlakke aansienlik verbeter. (Dis lekker om werk wat jy weens tydsdruk oorsigtelik gedoen ordentelik onder die knie te kry.) My vermoë om voor mense te praat het drasties verbeter. (My eerste klas voor 20 mense was baie stresvol maar ek het later voor klasse van 300 mense gepraat en ek was gemaklik.)
Jy leer ook om op jou voete te dink, met studente wat vir jou enige vrae kan vra. Gedurende die Hotseat ure leer jy ook baie studente ken, en dit is 'n goeie gevoel as iemand by jou deur uitstap en jy weet jy het hom gehelp.
Ek is baie bly dat ek nog 'n jaar op Stellenbosch gehad het en ek voel dat ek baie geleer het wat ek in 'n ander werksomgewing sal kan toepas.
As jy dit oorweeg om 'n dosent te word, is dit my opinie dat dit die moeite werd is om 'n jaar se Akademiese klerkskap te doen.
Sterkte met jou besluit.
Ed
Jorina Engelbrecht (2007)
Hierdie jaar was 'n ongelooflike ervaring, waartydens ek baie geleer het, nie net van die vakke waarin ek gewerk het nie, ook van myself. As ek nou weer die keuse moes maak sal ek VERSEKER weer akademiese klerkskap doen.
Ek het 'n groot liefde vir belasting en het vanjaar die voorreg gehad om die HonsBRek/NDR ILP-klas vir belasting te gee. Om klas te gee was vir my ongelooflik en die feit dat ek my kennis van belasting verder kon verbeter was 'n "added bonus". Ons het ook baie op 'n individuele basis met die studente gewerk dmv die "Hotseat" en om vir 'n student iets te verduidelik en te sien hoe die "liggie" aan gaan en hy/sy iets verstaan is ongelooflik vervullend.