​​​​​

​Die bydrae van Christiaan Frederick Beyers Naudé (1915-2003) as anti-apartheidsteoloog

"Connected critics are those who are fully engaged in the very enterprise they criticize, yet alienated by the deceits and shortcomings of their own community."[1] Ronald Thiemann

Naudé se lewe en denke het ontwikkel teen die agtergrond van die tydperk waarin hy grootgeword en gestudeer het en betrokke was in bogemelde hoedanighede. Sy denke as student en leraar van die Ned Geref Kerk moet dus verstaan word teen die agtergrond van die denke en gebeure van die laat-19de en die eerste dekades van die 20ste eeu. Sy ontwikkeling word dus gestempel t een die agtergrond van Britse imperialisme; die Corpus Christianum; die Suid-Afrikaanse oorloë; die sosio-ekonomiese en kultuur-politieke gebeure vanaf die laat 1920's; die opkoms en vestiging van Afrikaner-nasionalisme; en die ontwikkeling van pragmatiese en teoretiese apartheid.

Biografie

Naudé is gebore op 10 Mei 1915 in die pastorie van die Ned Geref-gemeente Roodepoort in die destydse Transvaal. Hy was die vierde kind van ds en mev Naudé. Naudé is gebore tydens die rebellie toe burgers van die Boererepublieke die opdrag geweier het om teen die Duitsers in die destydse Duits-Wes te gaan veg. Hy het grootgeword in 'n streng godsdienstige en kultuurbewuste huishouding op die Karoodorp Graaff-Reinet, waar sy vader leraar van die Ned Geref Kerk was.

Opvoeding

Hy voltooi sy skoolloopbaan in Graaff-Reinet en registreer in 1932 aan die Universiteit van Stellenbosch, waar hy 'n inwoner en later primarius van die koshuis Wilgenhof is. Terwyl die depressie en die droogte van die 1930's die Afrikaner na die stede dwing en die hofsaak teen Johannes du Plessis opspraak maak, voltooi Naudé sy B.A.-graad. Hy raak betrokke by die sosiale en kulturele lewe van Stellenbosch, waar hy homself onderskei as leier. Hy geniet die natuur as lid van die Berg- en Toerklub, waar hy sy toekomstige vrou, Ilse Weder, ontmoet. Omdat hy onseker was oor sy toekoms, voltooi hy eers 'n M.A.-graad in Afrikaans-Nederlands. As teologiestudent aan die Kweekskool op Stellenbosch word hy beïnvloed deur die denke van die teoloog BB Keet. Hy voltooi sy Kweekskoolstudie aan die einde van 1939 en tree in die huwelik met Ilse Weder op 3 Augustus 1940.

Bediening

Naudé begin sy bediening op 27 Julie 1940 as hulpprediker op Wellington en word op 25-jarige leeftyd lid van die Afrikaner-Broederbond. In 1942 word hy beroep na Loxton in die Groot Karoo en bedien die gemeente tot in 1945, toe hy 'n beroep aanvaar na Pretoria-Suid. Ná vier jaar word hy beroep na Pretoria-Oos (1949) as medeleraar van Ben Marais, wat toe reeds die Skriftuurlike gronde van rasse-apartheid openlik bevraagteken het. Hierdie medeleraarskap, Marais se boek Die Kleur-krisis en die Weste (1952) en Naudé se studiereis na Europa en Noord-Amerika (1953) in verband met jeugwerk het, volgens Naudé, 'n belangrike rol gespeel in die verandering van sy denke in verband met apartheid.[2] Hierdie invloede word verder versterk toe Naudé – wat van 1955 tot 1959 die NG gemeente Potchefstroom bedien het – die openbare byeenkomste van die Gereformeerde Ekumeniese Sinode op Potchefstroom bywoon en gekonfronteer word met kritiese vrae in verband met apartheid.[3]

Naudé word in November 1959 as leraar van die Ned Geref Kerkgemeente Aasvoëlkop in een van die ryker woonbuurte van Johannesburg bevestig. Terwyl hy leraar van hierdie gemeente is, neem hy – as een van die afgevaardigdes van die Ned Geref Kerk – deel aan die kerkberaad van die Wêreldraad van Kerke (WRK) in Cottesloe (7-14 Desember 1960). Naudé het nie onder die druk op die Ned Geref Kerkafgevaardigdes om hulle van die besluite te distansieer, geswig nie. As gevolg van die gebeure word sy standpunt toenemend deur die Ned Geref Kerk, die Afrikaner-Broederbond en die Nasionale Party bevraagteken. Die eerste publikasie van die ekumeniese blad, Pro Veritate, waarvan Naudé 'n stigterslid en redakteur was, het op 15 Mei 1962 verskyn.

Naudé is ondanks al die kritiek verkies as eerste moderator van die Ned Geref Kerk in Suid-Transvaal se sinode van 1963. Hy bedank in 1963 as lid van die Afrikaner-Broederbond (AB). Hy word deur die Ned Geref Kerk onder druk geplaas om te bedank as redakteur van Pro Veritate. Naudé bevestig sy standpunt dat hy nie langer apartheid kan steun nie, toe hy betrokke raak by die stigting van die Christelike Instituut (CI) op 13 Augustus 1963 en die direkteurskap van die CI aangebied word. Druk word op hom geplaas om te kies tussen sy posisie as leraar van die Ned Geref Kerk aan die een kant en redakteur van Pro Veritate en direkteur van die CI aan die ander kant. Hy neem 'n besluit ten gunste van laasgenoemde – hy bedank as voorsitter van die moderamen en neem afskeid van die Ned Geref-gemeente Aasvoëlkop op Sondag 3 November 1963, met verlies van status as leraar van die Ned Geref Kerk. Hy word egter met verloop van tyd verwelkom as leraar van die Ned Geref Kerk in Afrika (NGKA).

Inperking

Die CI word in 1977 tot verbode organisasie verklaar en Naudé word as gevolg van sy betrokkenheid by die CI op 11 Oktober 1977 vir vyf jaar, wat later tot sewe jaar verleng is, ingeperk en onder huisarres geplaas. Ná die opheffing van die inperking op 26 September 1984 is hy aangestel as hoofsekretaris van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK). Naudé het aartsbiskop Desmond Tutu in dié hoedanigheid opgevolg en van Februarie 1985 tot Julie 1988 in die Raad gedien. Ná Naudé se vrylating het hy weer aan vele fronte betrokke geraak waar sy kritiek teen apartheid die wêreld ingestuur is.

Naudé het uit verskeie oorde erkenning ontvang vir die rol wat hy gespeel het in die aftakeling van rasse-apartheid, as stryder vir geregtigheid, profeet, asook humane pastoor vir dié wat onder apartheid gely het. Hy speel ook 'n belangrike rol in die ontwikkeling van die ekumeniese beweging in Suid-Afrika.

Erkenning

Naudé word vereer met eredoktorsgrade van die Vrije Universiteit (1972), Universiteit van die Witwatersrand (1974), Universiteit van Kaapstad (1983), Universiteit van Notre Dame in Indianapolis (1985), Garrett Evangelical Seminary in Evanston (1985), Universiteit van Limburg in Maastricht (1989), Universiteit van Natal (1991) en die Universiteit van Durban-Westville (1993). Ander internasionale toekennings sluit in die Bruno Kreisky-prys; Reinhold Niebuhr-prys; Franklin D. Roosevelt Vier Vryhede-prys (1984); prys vir Rekonsiliasie en Ontwikkeling van die Sweedse Vrye Kerk (1984); Robert F Kennedy Menseregte-prys (1985); Prys vir Vrede en Vryheid van die Sweedse Arbeidersbeweging (1988); Derde Wêreldprys van Jamaika (1990); en die Orde van Oranje-Nassau van Nederland (1995).

Uiteindelik word hy (soos Marais) binne die geledere van die Ned Geref Kerk vereer as profeet wat moes ly onder die aanvegting en verkettering van die kerk waarin hy grootgeword, gedien en gepoog het om die Afrikaner en die Ned Geref Kerk tot besinning te bring oor die beleid van apartheid. Hierdie oomblik van besinning breek vir hom aan tydens die Algemene sinode in 1994, toe hy erken word as profeet wat jare lank verguis is deur die Ned Geref Kerk.

Ná 'n vol en omstrede lewe word hy vanuit die Ned Geref-gemeente Aasvoëlkop – die laaste gemeente wat hy in die Ned Geref Kerk bedien het – te midde van nasionale en internasionale erkenning en waardering te ruste gelê in September 2004.

[1]       Hierdie is 'n aanhaling uit 'n referaat van Ronald Thiemann, "The Public Theologian as Connected Critic", wat hy gelewer het in Praag (Junie 2003), soos gepubliseer in Ackermann (2005: 69).

[2]       Naudé, 1995: 38.

[3]       Villa-Vicencio, 1985: 8.